Mooinooi-vroue: Beskuldigde dalk ook met plaasmoord verbind

Lede van die publiek in die hof wag dat die beskuldigdes ingebring word (18 Januarie 2018). Foto: Phillip Bruwer

Een van die beskuldigdes wat Donderdag in die Brits-landdroshof in verband met die verdwyning van en vermoedelike moord op Anisha (30) en Joey (32) van Niekerk van Mooinooi verskyn het, kan moontlik ook met ʼn plaasmoord verbind word wat in 2014 in die Rustenburg-omgewing plaasgevind het.

Die 25-jarige verdagte, ʼn werknemer by die beweerde baasbrein in die Mooinooi-saak se duikklopper-onderneming, se borgtogaansoek is eerste voor landdros Semakuleng Thamage aangehoor.

Hy en sewe medebeskuldigdes, vyf mans en ʼn 18-jarige en 21-jarige vrou, staan tereg op aanklagte van moord, ontvoering, twee aanklagte van verkragting, roof met verswarende omstandighede en huisbraak met die bedoeling om te steel. Weens die aanklag van verkragting wat by die klagstaat gevoeg is, moet die beskuldigdes se identiteite weerhou word tot hulle op die aanklag gepleit het.

Die staatsaanklaer, Christine Molautsi, het die beskuldigde tydens kruisondervraging uitgevra oor sy plek van geboorte. Hy het aangedui hy het ʼn Suid-Afrikaanse geboortesertifikaat en ID, alhoewel hy al gehoor het sy pa is moontlik van Mosambiek afkomstig.

Hy was nie seker of hy in enige stadium toe hy klein was saam met sy pa, wat nou oorlede is, in Mosambiek gewoon het nie.

Die beskuldigde het vroeër Donderdag aan die hof genoem hy word nie gesoek of staan nie tereg op enige ander strafregtelike aanklagte nie en het ook geen vorige skuldigbevindings teen hom nie. Hy het genoem hy is wel verlede jaar in Januarie in hegtenis geneem, maar dat die saak sedertdien laat vaar is.

Die agt beskuldigdes in die hof (18 Januarie 2018). Foto: Phillip Bruwer

Molautsi het hom daaroor uitgevra. Die beskuldigde het gesê hy is in hegtenis geneem in verband met ʼn moord wat in 2014 in Rustenburg plaasgevind het. “Ek het in die omgewing gewerk en is in hegtenis geneem omdat die polisie my verdink het daarvan dat ek weet wie die moord gepleeg het,” het hy in die beskuldigdebank gesê.

Molautsi wou by hom weet of die saak verband hou met ʼn wit vrou wat op ʼn plaas vermoor is, waarop hy geantwoord het hy weet nie wie die oorledene was nie, maar “die storie” gehoor het dat dit ʼn wit vrou was wat op ʼn plaas in die Rustenburg-omgewing gewoon het.

“Wat het met die saak gebeur?” het Molautsi gevra. “Die saak is teruggetrek,” het hy geantwoord.

Molautsi het die man daarna gevra of hy weet dat hy op 6 Februarie weer in verband met dié moord in die hof moet verskyn, waarop hy geantwoord het hy “sal dit nie ontken nie”.

Molautsi het die beskuldigde daarna gevra of enige van Joey en Anisha se besittings tydens sy inhegtenisneming in sy besit gevind is. Hy het ontken dat hy enige van hul besittings in sy besit gehad het.

Sy het spesifiek gevra of hy die oorledenes se bankkaart gebruik het om rusbanke te koop. Hy het dit ontken en gesê die rusbanke waarop die polisie beslag gelê het, is aan hom gegee deur sy werkgewer.

Die man het vroeër aangedui hy is van voorneme om onskuldig te pleit en het ook in sy verklaring aan die polisie skuld ontken op al die aanklagte teen hom.

Hy het aangevoer hy is sedert sy inhegtenisneming verskeie kere deur polisiebeamptes van Mooinooi aangerand. Hy het gesê hy is die oggend van sy inhegtenisneming op 14 Desember 2017 gemartel deur beamptes wat glo ʼn swartsak oor sy kop getrek en vir hom gesê het “om nou die waarheid te praat”.

Joey en Anisha van Niekerk (Foto: Facebook)

Hy beweer verder die polisie het in ʼn stadium sy linkerpols gesny. Hy voer aan die wond van 3 cm moes vier steke kry. Kort daarna, terwyl hy “op die polisietafel en ʼn stoel gebloei het”, het ʼn ander beampte sy pinkie “f****d up met ʼn klein hamer geslaan”.

Hy het erken hy is vir mediese waarneming geneem, maar is nooit die volgende dag teruggeneem vir x-strale om as bewyse in die hof in te dien nie. Hy het tydens die kruisondervraging verskeie kere aan die hof gewys hoe sy linkerpinkie nie soos sy ander vingers reguit gemaak kan word nie.

Die hof het daarna vir middagete verdaag. Die tweede beskuldigde en die vermeende baasbrein agter die moord se borgtogaansoek sal na verwagting ná middagete voortgaan.

Maroela Media het vroeër berig Joey en Anisha is op 10 Desember omstreeks 07:30 die laaste keer in die Mooinooi-omgewing gesien waar hulle saam op ʼn kleinhoewe woon. Hulle was op pad na Pretoria om Joey se pa se roudiens by te woon, maar het nie hul eindbestemming bereik nie.

Hul uitgebrande Nissan X-Trail-sportnutsvoertuig is later in die Magaliesburg-omgewing gevind. Twee weke gelede is beendere gevind wat die polisie vermoed moontlik die oorskot van Anisha en Joey kan wees. Die beendere is vir DNS-toetse gestuur om die oorsprong daarvan te bevestig.

Dit het onlangs aan die lig gekom dat Joey en Anisha glo ure lank gemartel en ook verkrag is. Die motief vir die voorval hou moontlik verband met ʼn eiendomsgeskil. Een van die beweerde moordenaars wou die vroue glo dwing om dokumente te teken om hul besittings aan hom oor te dra.

Lees alle vorige berigte oor Joey en Anisha van Niekerk op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

HPV ·

Hierdie is ‘n baie siek bende. Hou hulle agter tralies so lank as moontlik.

Jacques venter ·

HPV
Ek stem saam. Daars baie wat hier oopgekrap moet word.

Liberaal ·

Sies, julle skend die menseregte van die kosbare misdadigers. Ons moet almal opsy staan sodat misdadigers alles kan vat en maak wat hulle wil aldus die wereldorde wat ons samelewing en kultuur wil vernietig in die naam van liberalisme en menseregte.

Adam ·

Kan nog nooit verstaan hoekom oortreders se identiteit weerhou moet word nie maar vermoordes sin mag Wat het n pleit daarmee te doen

Magda Nel ·

Ja. Dat hulle beseer was, kan absoluut die waarheid wees. Maar ongelukkig nie deur die SAPS soos hulle nou wil voorgee vir versagting nie. As ek Joey of Anisha was sou ek nie stilgestaan het as hulle my wou vasmaak nie. Hulle sou hulself definitief teesit en ten minste n besering aan een of twee van hulle nalaat as bewys van n skermutseling. Nou praat hille dit weg en beskuldig sie SAPS!!!!! GEEN BORG ASSEBLIEF.

geen simpatie ·

gedink vorige klag is teruggetrek en sal met die ook gebeur, hoe lank wil mense wegkom met booshede?

Anoniem ·

More almal. Is daar nie n tv kanaal wat ons live kan kyk wat vandag in die hof gese word nie

Skiewies ·

Ek verstaan nie mooi nie, hoe is dit moontlik om te bepaal dat die slagoffers verkrag was, as daar nog nie liggame gevind is nie?

Andre Burger ·

Dit kos die SAPS en ander instansies derduisende rande om skuldiges aan te keer.Hul lewens waag in soektogte.Hul aangekeer word en medepligtig was,moet hul onskuld bewys word deur hul eie storie.wat soms leuens bevat.
BORGTOG moet met soveel erns en bevestiging hersien word.
Met n groep soos die,kan jy nie een vrylaat nie.

Magda ·

Dis tyd dat die man met al sy trawante gestraf word. Hy het al metvte veel misdade weg gekom. Van Koper diefstal tot moord! Delf DIEPER van Brits se SAP lede werk saam met die man…. Veral met die Koper wat hy in Brits verkoop het….

Magda ·

Dis tyd dat die man met al sy trawante gestraf word. Hy het al met te veel misdade weg gekom. Van Koper diefstal tot moord! Delf DIEPER van Brits se SAP lede werk saam met die man…. Veral met die Koper wat hy in Brits verkoop het….En volgens die man wat n huis gehuur het op die plot, hoe kon hy sien dis n vrou se liggaam wat brand in die bos.Volgens Rapport het die man wat nie sy naam genoem wil he nie gesien dis n vrou se liggaam, Hy weet meer as wat hy voorgee….

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.