Mooinooi-vroue: Beskuldigde vrees nie vir sy lewe

Die beskuldigdes Vrydag in die hof. Foto: @MiaSpies / eNuus

Een van die agt beskuldigdes wat verdink word van die verdwyning van en vermoedelike moord op Anisha (30) en Joey (32) van Niekerk van Mooinooi het Vrydag in die Brits-landdroshof gesê hy sal nie in gevaar wees as hy borgtog toegestaan word nie.

Die 33-jarige Suid-Afrikaner van Renosterfontein se regshulpprokureur, Kgomotso Moagi, het hom gevra oor sy veiligheid as hy borgtog kry, waarop hy geantwoord het: “Ek sal nie in gevaar wees nie.”

Hy het aan die hof gesê buiten een mens, ken hy die res van sy beskuldigdes.

Die beskuldigde het gesê hy het voorheen vir die sogenaamde “meesterbrein” gewerk en ken sy 21-jarige vrou, 29-jarige seun en dié se 18-jarige meisie. Hy het ook voorheen saam met die ander twee beskuldigdes gewerk.

Hy het getuig hy was by sy tannie se huis in Wonderkop toe hy tussen 04:00 en 05:00, nadat hy saam met vriende gaan kuier het, deur die polisie in hegtenis geneem is terwyl hy op die toilet was. Hy beweer hy is deur ʼn polisiebeampte aangerand wat hom op sy bors geskop het. Hy het op die grond geval en is verder geskop terwyl die beampte se kollegas glo toegekyk het. Hy het gesê hy ly aan geheueverlies en kan nie die datum onthou waarop hy in hegtenis geneem is nie.

Joey en Anisha is op 10 Desember omstreeks 07:30 die laaste keer in die Mooinooi-omgewing gesien waar hulle saam op ʼn kleinhoewe gewoon het. Hulle was op pad na Pretoria om Joey se pa se roudiens by te woon, maar het nie hul eindbestemming bereik nie.

Hul uitgebrande Nissan X-Trail-sportnutsvoertuig is later in die Magaliesburg-omgewing gevind. Weke later is verbrande beendere gevind wat die polisie vermoed moontlik die oorskot van Anisha en Joey kan wees. Die beendere is vir DNS-toetse gestuur om die oorsprong daarvan te bevestig.

Ses mans en twee vroue staan tereg op aanklagte van sameswering tot moord, moord, ontvoering, verkragting, roof met verswarende omstandighede en huisbraak met die bedoeling om te steel.

Die agt beskuldigdes se name word weerhou aangesien daar ʼn klag van verkragting ondersoek word en hulle dus eers in die hof moet pleit.

Die borgtogaansoeke duur voort. Die borgtogaansoeke word as ʼn skedule 6-misdryf aangehoor wat beteken die beskuldigdes moet buitengewone omstandighede bewys waarom hulle op borgtog vrygelaat kan word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Cherokee ·

Soos ‘n rympie… en daaglikse (of berigtelike) rympie ‘Die beendere is vir DNS toetse gestuur… ‘. Dat dit sò lank neem daarvoor verduidelik weer oom Donald se gatkant uitdrukking.

Rina ·

Ek stem ñ deurmekaar spul weet nie eers mooi wat berigte sê of bedoel nie..Wel wat moet mens glo regstelsel nie meer onafhangklik nie

Siek en sat ·

Hierdie saak word nou soos tameletjie uitgerek. Gaan niks van kom nie.

Zulu ·

Name word weerhou omdat daar n verkragtings klag bykom, nou moet hul beskerm word? Maar hul name is nog vars in ons almal se geheue met vorige berigte? Die sogenaamde meesterbrein is afkomstig van n baie siek geweldadige familie!!!

Iram ·

Mmmmm…….hy ly aan geheuverlies…..hy kan onthou dat hy geskop en geslaan is ….maar kan nie die datum onthou nie…….. maak mens siek!!!!

Sam ·

Ja, hy sal nie in gevaar wees as hy borgtog kry nie, want hy IS die dekselse gevaar. GEEN BORGTOG vir sulke wrede spul nie. Ons soek ons reg om veilig te leef sonder die wrede bende.

Lientjie ·

Baie siek klomp mense hierdie. Almal ly aan die selfde vergeet siekte. Mag nie een van hulle borg kry nie!

joan ·

Hy ly aan geheueverlies en kan nie die datum onthou wat hy gearresteer is nie, maar hy onthou wel hy het gekuier en was op die toilet????

Piet ·

Eish, hier is darm ‘n klomp moordsugtige kommentators wat bloed eis voor iemand al skuldig bevind is. Miskien moet die hof eerder van hierdie sieners gebruik maak wat duidelik wie is en wie is nie skuldig nie. Dit daar gelaat. Hier is defetief iets fishy aan hierdie saak. Dit laat my dink aan ‘n ander kinder molestering saak wat ons ook nooit weer van gehoor het nie. Mense se lewens kan in ‘n oogwink verwoes word.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.