Mooinooi-vroue: Beskuldigde wil ‘sorg dat kinders skool toe gaan’

Beskuldigde nommer 2. Weens die aanklag van verkragting wat by die klagstaat gevoeg is, moet die beskuldigdes se identiteite weerhou word tot hulle op die aanklag gepleit het. Foto: Phillip Bruwer, Maroela Media

Die 52-jarige beskuldigde wat glo die baasbrein is agter die verdwyning van en vermoedelike moord op die egpaar Anisha (30) en Joey (32) van Niekerk van Mooinooi, het Vrydag in die Brits-landdroshof gesê hy sal graag op borgtog vrygelaat wil word sodat hy kan verseker dat sy kinders teruggaan skool toe.

Die beskuldigde was Vrydagoggend in die getuiebank waar sy regsverteenwoordiger hom deur sy getuienis gelei het as deel van sy borgtogaansoek. Die man staan saam met sewe ander beskuldigdes, vyf mans, ʼn 18-jarige, en ʼn 21-jarige vrou, tereg op aanklagte van sameswering om ʼn moord te pleeg, moord, ontvoering, verkragting, roof met verswarende omstandighede en inbraak met die doel om te steel.

Weens die aanklag van verkragting wat onlangs by die klagstaat gevoeg is, mag die verdagtes se identiteit nie bekend gemaak word voordat hulle gepleit het nie.

Die beskuldigde het Vrydag weer eens uitgebrei oor polisiebeamptes van Mooinooi wat hom na bewering ná sy inhegtenisneming aangerand het. Die hof het Donderdag gehoor die man het na bewering vir twee weke lank bloed geürineer ná die aanranding.

Sy regsverteenwoordiger het gesê die beweerde aanranding is aangemeld by die bevelvoerder van die polisiestasie waar die beskuldigde aangehou is, asook by die onafhanklike polisieondersoek-direktoraat (Opod).

Die beskuldigde het ook aangevoer dat hy aan ʼn chroniese mediese toestand ly waarvoor hy medikasie moet neem. Hy beweer sedert hy in aanhouding is, het hy nog nie die nodige medikasie ontvang nie en dat daar daarom nou pienk kolle op sy hande uitslaan. Hy het in die hof nadergestap om die uitslag aan landdros Semakuleng Thamage te wys.

Die agt beskuldigdes in die hof (18 Januarie 2018). Foto: Phillip Bruwer

Die beskuldigde het gesê indien hy op borgtog vrygelaat word, onderneem hy om aan al sy borgtogvoorwaardes te voldoen, nie met getuies of die ondersoek in te meng nie en vir sy verhoor in die hof te verskyn. Hy het ook gesê hy is nie bewus van enige gewelddadige betogings teen sy vrylating op borgtog nie.

“Ek sal dit waardeer as die hof my borgtog kan toestaan sodat ek na my werkswinkel kan terugkeer om al die werk klaar te maak aan die mense se voertuie wat al van Desember af wag. Ek sal ook graag wil sorg dat my kinders teruggaan skool toe en weer ʼn vaste blyplek het.”

Die hof het vroeër gehoor die beskuldigde het agt kinders, onderskeidelik drie, vyf, ses, nege, 12, 14, 22 en 29 jaar oud.

Die hof het daarna vir teetyd verdaag waarna die beskuldigde se kruisondervraging hervat sal word.

Maroela Media het vroeër berig Joey en Anisha is op 10 Desember omstreeks 07:30 die laaste keer in die Mooinooi-omgewing gesien waar hulle op ʼn kleinhoewe gewoon het. Weke later is beendere gevind wat die polisie vermoed moontlik die oorskot van Anisha en Joey kan wees. Die beendere is vir DNS-toetse gestuur om die oorsprong daarvan te bevestig.

Lees alle vorige berigte oor Joey en Anisha van Niekerk op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

fm ·

Hierdie is seker een van die mees gruwelike misdade nog in Suid-Afrika. Hierdie mense moet nie loskom nie. Hulle verdien om gestraf te word vir dit wat hulle aan Anisha en Joey gedoen het. Hierdie getuie is besig om simpatie by die hof en publiek te soek met sy stories.

Francis ·

Hoe lank is die moord beplan ,? Nou eers dink hy aan sy skoolgaande kinders en werk ?

JJ ·

Hoe kan beskuldigde nommer 2 nog wil eise he van die hof en dink hy het ‘n reg om aan te gaan met sy lewe asof niks gebeur het nie. Hy moes aan sy 8 kinders en sy werkswinkel gedink het voordat hy die daad gepleeg het. Dit is net ‘n gevoellose mens wat so optree. Absoluut skrikwekkend gevoelloos!

Neel ·

AG asseblief, jy’s n gevaar vir jou kinders ook! GEEN BORG!

Johan ·

Regtig. Is dit waarheen ons mense beweeg. Pleeg moord en vergeet van gevolge en wil dan loskom met intieme woorde. Shoe. Skrik wakker no 2 . Net jy simpatiseer met jouself.

L ·

Ek wonder darem net oor 3 goedjies. Hierdie mense het 2 vroue, gemartel, verkrag, vermoor en se liggame toe verbrand. Nou kla hy WRAGTIG oor die SAP hom in die selle aangerand het, (het hy Royalty behandeling met sjampanje en kaviaar verwag?),hy voer aan hy het n mediese kondisie(maar hy het nie aan sy kondisie gedink tydens die gru misdaad nie?) EN dat hy moet toesien dat die kindertjies terug gaan skool toe. Rerig? So n voorbeeldige ouer. Dis jou redes om op borgtog vrygelaat te word? Nee wat laat hom id selle sit en swaar kry

Ada ·

Wat ‘n cheeck!
Hy moes voor sy gruweldade daaraan gedink het !!!
Sorry dude!!
Ek hoop borgtog word geweier!
Hoe kan jy aangaan so asof niks gebeur het nie?? my genade – die mentaliteitloosheid verstom my!!

Blits ·

Is daar enige tyd gedink aan die arme vroue se families en vriende???? nou moet die hof aan jou en jou familie dink???? n mens moet aan al die nagevolge dink en besef dat die gevolge lelik kan wees, vir wat is die mense so wreed vermoor??? nou het jy inelke geval nks en almal om jou se lewens is verwoes.

Boeremeisie ·

Snaaks dat die aangeklaagdes (aka kriminele) altyd vas oortuig is dat hulle gesinne en hulself meer regte of beskerming nodig het as die res van die samelewing. Dellusional much?

oni ·

Die hof behoort die sosiale-werkers opdrag te gee om die kinders in kinderhuise te plaas. Hoop die klompie in die tronk, moet dieselfde behandeling kry, wat hulle aan die 2 vrouens uitgedeel het.

Lindie Lourens ·

Die ouer kinders kan mos maar sorg dat die jonger kinders skool toe gaan en versorg is. Lyk my daar is baie wat na mekaar kan omsien.

Straaltjie ·

Hy het my so in gedoen met my kar en ons moes sonder ‘n kar sit weens sy skelmstreke. Hy en sy einste seun wat daar staan het gedreig om ons diere dood te kom maak. Ons mag nie haat nie maar o vrek hulle moet boet vir alles…….

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.