Mooinooi-vroue: Borgtogaansoeke begin

Die agt beskuldigdes in die hof (18 Januarie 2018). Foto: Phillip Bruwer

Die borgtogaansoeke van die agt verdagtes wat teregstaan in verband met die verdwyning van en vermoedelike moord op Anisha (30) en Joey (32) van Niekerk van Mooinooi het Donderdag in die Brits-landdroshof begin.

Ses mans asook ʼn 18-jarige en 21-jarige vrou staan tereg op aanklagte van moord, ontvoering, twee aanklagte van verkragting, roof met verswarende omstandighede en huisbraak met die bedoeling om te steel.

Die agt beskuldigdes se name word weerhou aangesien daar ʼn klag van verkragting ondersoek word en hulle dus eers in die hof moet pleit.

Die verrigtinge het Donderdagoggend voor landdros Semakuleng Thamage begin met die borgtogaansoek van beskuldigde 1, ʼn 25-jarige Suid-Afrikaanse burger. Die regsverteenwoordiger van die beskuldigde het aan die hof gesê sy kliënt is van voorneme om onskuldig te pleit en het ook in sy verklaring aan die polisie skuld ontken op al die aanklagte teen hom.

Die beskuldigde het aangevoer dat hy glad nie vir Joey of Anisha geken het of ooit met hulle te doen gehad het nie.

Die hof het gehoor die beskuldigde is ʼn werknemer by ʼn duikklopper-onderneming van die beweerde baasbrein agter die moorde. Hy het aan die hof gesê hy is die enigste broodwinner van sy gesin en moet finansieel na sy vriendin se drie kinders omsien. Die hof het ook gehoor dat die beskuldigde wel ʼn Suid-Afrikaanse ID het, maar nie ʼn paspoort besit nie.

Die beskuldigde se regsverteenwoordiger, Ofentse Raikane, het aangevoer sy kliënt is twee weke lank deur polisiebeamptes van Mooinooi aangerand ná sy inhegtenisneming. Hy beweer sy pinkie is tydens die aanrandings gebreek en hy het ʼn snywond aan sy pols opgedoen waarvoor hy vier steke moes ontvang.

Joey en Anisha van Niekerk (Foto: Facebook)

Dié bewerings kom nadat ʼn regsverteenwoordiger tydens ʼn vorige hofverskyning beweer het een van die ander verdagtes was so erg aangerand dat daar bloed in sy urien was. Volgens hom was die regterkant van dié verdagte se gesig geswel en sy een oog rooi. Hy het toe beweer die beskuldigde is nooit vir mediese behandeling geneem nie.

Maroela Media het vroeër berig Joey en Anisha is op 10 Desember omstreeks 07:30 die laaste keer in die Mooinooi-omgewing gesien waar hulle saam op ʼn kleinhoewe woon. Hulle was op pad na Pretoria om Joey se pa se roudiens by te woon, maar het nie hul eindbestemming bereik nie.

Hul uitgebrande Nissan X-Trail-sportnutsvoertuig is later in die Magaliesburg-omgewing gevind. Twee weke gelede is beendere gevind wat die polisie vermoed moontlik die oorskot van Anisha en Joey kan wees. Die beendere is vir DNS-toetse gestuur om die oorsprong daarvan te bevestig.

Dit het onlangs aan die lig gekom dat Joey en Anisha glo ure lank gemartel en ook verkrag is. Die motief vir die voorval hou moontlik verband met ʼn eiendomsgeskil. Een van die beweerde moordenaars wou die vroue glo dwing om dokumente te teken om hul besittings aan hom oor te dra.

Die borgtogaansoeke duur voort.

Lees alle vorige berigte oor Joey en Anisha van Niekerk op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Lynette ·

Verstaan glad nie hoe kan hulle eers oorweeg word vir borg nie.

fm ·

Hierdie mense moet geen borg toegestaan word nie. Ek is seker daarvan dat hulle sal lieg en bedrieg om borg te kry. Dit is baie waar woorde Marlene.

Leeu ·

GEEN borg vir die siek siek mense nie! of dalk ja, dat daar bietjie mob justice gedoen word

Frikkie Geld en huis ·

Leeu brul ” Geen borg” . Ek twyfel weer of al agt betrokke was.

Theresa B ·

GEEN BORGTOG NIE!!! Ag almal weet al hoe hulle lyk en wie hulle is. Doodstraf moet terug.

Magda ·

Is altyd deur die Polisie aangerand wanneer hulle gevang word – Ag Shame – Regtig

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.