Mooinooi-vroue: Borgtogaansoeke hervat

Die agt beskuldigdes in die hof (18 Januarie 2018). Foto: Phillip Bruwer

Die agt beskuldigdes wat op ʼn reeks aanklagte teregstaan in verband met die verdwyning van en vermoedelike moord op die egpaar Anisha (30) en Joey (32) van Niekerk van Mooinooi, sal Donderdag terug in die beskuldigdebank van die Brits-landdroshof wees.

Die ses mans en twee vroue (onderskeidelik 18 en 21 jaar oud) staan tereg op aanklagte van sameswering om ʼn moord te pleeg, moord, ontvoering, verkragting, roof met verswarende omstandighede en inbraak met die doel om te steel. Weens die aanklag van verkragting wat by die klagstaat gevoeg is, mag die verdagtes se identiteit nie bekend gemaak word voordat hulle gepleit het nie.

Twee van die beskuldigdes se borgtogaansoeke is verlede week in die landdroshof aangehoor. Beskulidgde twee se aansoek moet nog afgehandel word, waarna die res van die beskuldigdes se borgtogaansoeke sal plaasvind. Dit is nie duidelik hoe lank dit sal neem om al die borgtogaansoeke af te handel nie.

Een van die beskuldigdes, ʼn 52-jarige man wat na bewering die meesterbrein agter die twee vroue se verdwyning is, was verlede week in die getuiebank waar hy aangedui het dat hy beplan om skuld op al die aanklagte teen hom te ontken.

Die man bedryf sy eie duikklopperonderneming in Mooinooi op die eiendom wat aan Anisha behoort. Hy het verlede week aan die hof gesê hy weet nie waar Anisha tans is nie en dat hy haar op 10 Desember omstreeks 11:00 die laaste keer gesien het.

Beskuldigde nommer 2. Weens die aanklag van verkragting wat by die klagstaat gevoeg is, moet die beskuldigdes se identiteite weerhou word tot hulle op die aanklag gepleit het. Foto: Phillip Bruwer, Maroela Media

Tydens die man se getuienis het sy regsverteenwoordiger, Pontsho Raikane, hom gevra of hy bewus was dat die polisie ʼn vuurpit op sy perseel in die Buffelsfontein-gebied van Mooinooi gevind het waarin beendere was. “Ek weet nie wat die polisie alles gekry het nie, want ek was toe reeds in aanhouding. Maar daar is ʼn vuurpit waar ons drie perde verbrand het wat vergiftig is,” het hy geantwoord.

Hy het ook getuig hy, Anisha en Joey was “goeie vriende”.

“Ek en daai mense was goeie vriende gewees. Hulle het altyd vir my kom kuier by die shop. En ek het hulle tot gehelp deur my perde vir hulle te leen. En hulle ook gehelp as daar ʼn probleem met hul voertuie was. Anisha het baie keer by my kom sit en as dinge te veel sou raak vir haar, sou sy met my kom praat het,” het hy gesê.

Die ander beskuldigde wie se borgtogaansoek reeds aangehoor is, is ʼn werknemer van die beweerde baasbrein. Die hof het tydens sy borgtogaansoek gehoor hy kan vermoedelik ook met ʼn plaasmoord verbind word wat in 2014 in die Rustenburg-omgewing plaasgevind het.

Maroela Media het vroeër berig Joey en Anisha is op 10 Desember omstreeks 07:30 die laaste keer in die Mooinooi-omgewing gesien waar hulle saam op ʼn kleinhoewe woon. Hulle was op pad na Pretoria om Joey se pa se roudiens by te woon, maar het nie hul eindbestemming bereik nie.

Hul uitgebrande Nissan X-Trail-sportnutsvoertuig is later in die Magaliesburg-omgewing gevind. Dit het later aan die lig gekom dat Joey en Anisha glo ure lank gemartel en ook verkrag is. Die motief vir die voorval hou moontlik verband met ʼn eiendomsgeskil. Een van die beweerde moordenaars wou die vroue glo dwing om dokumente te teken om hul besittings aan hom oor te dra.

Lees alle vorige berigte oor Joey en Anisha van Niekerk op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Cherokee ·

Hy het ook gesê hulle was goeie vriende. Hy behoort gevra te word waarom hy van verlede tyd praat.

Veritas ·

Hy het in die verlede tyd gepraat siende dat hy toe alreeds aangekla was van die moord op die vroue . M.a.w hy was reeds bewus daarvan dat hulle dood is.

Amanda ·

En dan se hy, hy ht laaste gesien na 10uur maar hule was al weg na 7 om by haar pa se diens te wees !!

naamloos ·

Hi Cherokee
Hulle was getroud. Ek hoop die moordenaars kry n swaartyd , dis darem baie erg.
Hulle verdien nie om buite te wees nie…….

Cherokee ·

Dankie naamloos, ek het bloot sommer aanvaar dat dit twee susters is/was en kom nou agter dat hulle getroud is/was. Hoop dit is nie verlede tyd nie. Mooi nooiens van Mooinooi.

Elize ·

Ek voel my meening is hulle sal enige iets se en ontken dat hulle nie iets met die moord te doen het nie om leuns te vertel om hulle daar uit te kry asb laat geregtigheid geskied dis n wrede dood om so te sterf laat hulle sit GEEN BORG moet toegelaat word nie. Hulle het almal skuld daaraan. Brits gemeenskap baie geskok ons wil sien dat daar net reg moet geskiet. Dankie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.