Mooinooi-vroue: DNS-toetsuitslae ontvang

Lede van die publiek wag in die Brits-landdroshof vir die verrigtinge om te begin (26 April 2018). Foto: Maroela Media

Die Brits-landdroshof het Donderdag gehoor die staat het die DNS-toetsuitslae ontvang in die verhoor rakende die verdwyning van Anisha (30) en Joey (32) van Niekerk van Mooinooi.

Staatsaanklaer Christine Molautsi het dit bevestig en daar word nou berig dat die DNS-uitslae glo positief met Joey verbind word. Daar is na bewering nog geen uitslag wat die oorskot met Anisha verbind nie.

Landdros Semakuleng Thamage sal na verwagting vandag uitspraak lewer in die verdagtes se borgtogaansoek wat etlike weke geduur het.

Die beweerde “baasbrein”, sy 21-jarige vrou, sy 29-jarige seun en dié se 18-jarige meisie, twee van sy werkers, Mosambiekse broers van onderskeidelik 18 en 25 jaar oud, en twee ander mans, onderskeidelik 33 en 36 jaar oud, staan tereg op aanklagte van sameswering tot moord, moord, ontvoering, verkragting, roof met verswarende omstandighede en huisbraak met die doel om te steel in verband met Anisha en Joey se verdwyning.

Die beskuldigdes se name moet weerhou word aangesien daar ʼn klag van verkragting ondersoek word en hulle dus eers tydens hul verhoor in die hof moet pleit.

Die borgtogaansoeke, wat sedert 18 Januarie sporadies voorgekom het, word as ʼn skedule 6-misdryf aangehoor wat beteken die beskuldigdes moet kan bewys dit is in die belang van geregtigheid en dat daar buitengewone omstandighede bestaan hoekom hulle borgtog toegestaan moet word.

Molautsi het tydens die slotbetoë in die borgtogaansoek gesê die wreedheid van die oorledenes se moord moet in ag geneem word, asook dat, sou die beskuldigdes borgtog toegestaan word, hulle ʼn gevaar vir die gemeenskap en ander getuies kan inhou. “Die oorledenes se dood het die gemeenskap geskok.”

Maroela Media het vroeër berig Joey en Anisha, wat drie jaar getroud was, is op 10 Desember omstreeks 07:30 die laaste keer in die Mooinooi-omgewing gesien waar hulle saam op ʼn kleinhoewe gewoon het. Hulle was op pad na Pretoria om Joey se pa se roudiens by te woon, maar het nie hul eindbestemming bereik nie.

Hul uitgebrande Nissan X-Trail-sportnutsvoertuig is later in die Magaliesburg-omgewing gevind. Weke later is verbrande beendere gevind wat die polisie vermoed moontlik die oorskot van Anisha en Joey kan wees. Die beendere is vir DNS-toetse gestuur.

Lees alle vorige berigte oor Joey en Anisha van Niekerk op Maroela Media hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.