Mooinooi-vroue: ‘Ek weet niks van die saak nie’

Die 18-jarige beskuldigde. Foto: Phillip Bruwer

Een van die beskuldigdes wat verdink word van die verdwyning en moontlike moord op Anisha (30) en Joey (32) van Niekerk, weet steeds nie hoekom hy “agter tralies sit” nie.

Die 18-jarige beskuldigde, wat die broer is van een van sy medebeskuldigdes en beweer hy werk al van 14-jarige ouderdom vir die beweerde baasbrein in die saak, was Vrydag die laaste van die agt beskuldigdes wat hul borgtogaansoeke in die Brits-landdroshof gebring het.

Ses mans en twee vroue, onderskeidelik 18 en 21 jaar oud, staan tereg op aanklagte van sameswering tot moord, moord, ontvoering, verkragting, roof met verswarende omstandighede en huisbraak met die bedoeling om te steel.

Die agt beskuldigdes se name word weerhou aangesien daar ʼn klag van verkragting ondersoek word en hulle dus eers in die hof moet pleit.

Ofentse Raikane, die man se regsverteenwoordiger, het die jong man deur sy mondelingse aansoek gelei.

Die man, wat in Bosbokrand gebore is en in Majakaneng in Noordwes grootgeword het, het gesê hy het die eerste keer eers gehoor waarvan hy verdink word toe hy in Desember sy eerste verskyning in die Brits-landdroshof gemaak het.

Die man het getuig hy woon die afgelope tien jaar by sy ouer broer en suster in Majakaneng in ʼn huis wat aan sy ma behoort. Dit is strydig met sy ouer broer se getuienis dat hulle in ʼn huis woon wat aan dié se meisie behoort. Die ouer broer het ook vroeër in sy aansoek gesê hy werk vir die 52-jarige baasbrein by sy duikklopperonderneming op ʼn kleinhoewe in Mooinooi wat aan Anisha behoort.

Die man het getuig hy het daar as ʼn paneelklopper gewerk en R3 000 verdien waarmee hy moes help om die huishouding aan die gang te hou en onder meer kruideniersware mee moes koop. Hy is ongetroud en het geen kinders nie.

Die man het getuig hy sou ook sporadies op sy werkgewer se plaas in Buffelsfontein woon.

Hy het getuig op die dag wat Anisha en Joey vermis geraak het [op 10 Desember 2017], was hy by sy werkgewer se werkwinkel saam met sy werkgewer, en dié se 29-jarige seun, wat ook ʼn beskuldigde in die saak is. Hy beweer hy het glad nie die slagoffers geken nie.

Die agt beskuldigdes in die hof (18 Januarie 2018). Foto: Phillip Bruwer

Hoewel hy volgens die staat se bewyse op 14 Desember in hegtenis geneem is, was hy Vrydag tydens sy getuienis van mening dat hy al op 14 November in hegtenis geneem is. Hy het gesê dit was omstreeks 16:00 op die Buffelsfontein-plaas.

“Het die polisie vir jou gesê hoekom hulle jou in hegtenis geneem het?” wou Raikane weet. “Nee hulle het nie, hulle het net vir my gesê ek moet polisiestasie toe kom omdat hulle vir my iemand wou wys. Toe ek daar kom het ek my baas gesien.”

Die beskuldigde het soos die ander medebeskuldigdes aangevoer die polisie het hom aangerand terwyl hy in aanhouding was. Hy beweer hy is vir ʼn week lank daagliks deur die polisie met die vuis aangerand en het so seer gehad dat hy nie kon was of opstaan nie. Hy het ook merke aan sy palm aan die landdros uitgewys en voer aan hy is beseer toe hy geboei is.

Die man het aangedui hy beplan om onskuldig te pleit op al die aanklagte teen hom as die verhoor gaan begin, “want ek weet niks van hierdie saak nie”.

Staatsaanklaer Christine Molaotse het skaars met kruisondervraging begin, toe die hofverrigtinge uitgestel moes word weens twee kragonderbrekings op die dorp.

Landdros Semakuleng Thamage het die verrigtinge tot Dinsdag uitgestel wanneer kruisondervraging hervat sal word. Die staat het aangedui hy gaan die beskuldigdes se borgtogaansoeke teenstaan en gaan dan begin om sy getuies te roep om te getuig.

Joey en Anisha van Niekerk (Foto: Facebook)

Die borgtogaansoeke word as ʼn skedule 6-misdryf aangehoor wat beteken die beskuldigdes moet buitengewone omstandighede bewys waarom hulle op borgtog vrygelaat kan word.

Joey en Anisha is op 10 Desember omstreeks 07:30 die laaste keer in die Mooinooi-omgewing gesien waar hulle saam op ʼn kleinhoewe gewoon het. Hulle was op pad na Pretoria om Joey se pa se roudiens by te woon, maar het nie hul eindbestemming bereik nie.

Hul uitgebrande Nissan X-Trail-sportnutsvoertuig is later in die Magaliesburg-omgewing gevind. Weke later is verbrande beendere gevind wat die polisie vermoed moontlik die oorskot van Anisha en Joey kan wees. Die beendere is vir DNS-toetse gestuur om die oorsprong daarvan te bevestig. Die uitslae van die toetse is nog nie bekend nie en daar is nog nie ʼn aanduiding van wanneer dit gereed sal wees nie.

Lees alle vorige berigte oor Joey en Anisha van Niekerk op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Eish ·

Ek hoop die staat kan sy saak bewys want die knape pleit dom op alle aanklagte.

fm ·

Hierdie beskuldiges probeer simpatie en “wees jammer vir ons ” kry by die hof en die publiek met hulle stories oor hulle beweerde aanrandings deur die polisie en hulle sogenaamde onskuld. Nie een van hulle weet kamtig iets van die saak of hoekom hulle in hegtenis geneem is nie! Hierdie saak gaan nog maande indien nie jare duur om afgehandel te word.

Mag geregtigheid vir Joey en Anisha uiteindelik geskied want hulle lewens is wreed, gewetenloos en koelbloedig van hulle ontneem.

Andre ·

Iets klink nie vir my baie gesond in hierdie saak nie. Volgens vorige getuienisse weet meer as die helfte van die beskuldiges nie eers waarvoor hulle in hegtenis geneem is nie. Ek hoop die polisie het dinge reg gedoen hier anders gaan hulle moet opdok.

Pikkewyn ·

Ek hoop ook die polisie het dinge reg gedoen anders gaan die skuldiges dalk los kom en nie boet vir wat hulle gedoen het nie. Nie een van hulle weet regtig hoekom hulle daar is nie en boonop is omtrent elkeen aangerand volgens hulle.
Hulle het baie verskillende stories en weergawes. Hoop geregtigheid geskied vir Joey en Anisha en baie sterkte vir hulle families waar die ou wonde amper daagliks oopgekrap word

Lientjie ·

Voor jy toegelut word is daar ‘n vorm wat voltooi word en aan jou verduidelik PRESIES waarvoor jy aangekla word en dan teken jy die vorm dat jy saam stem. Toe ek nog by die Polisie betrokke was, was dit al inwerking…….. ek is al 13 jaar weg by hulle. Dit is ‘n vereiste dit moet op die dossier wees! So hy moet maar vinnig sy geheue pille begin drink.

Gesiggie ·

Hierdie saak moet nou tot n einde kom, hul familie gaan deur hel… iets wat ek nie verstaan volgens die berig weer vandag…die beendere is gestuur vir DNS toetse om die oorsprong daarvan te bevestig… nog geen uitslae?? hoe lank vat so iets… daar is soveel mense as getuie hoe kan niemand niks weet sit hul onder hipnose of iets, sodat die waarheid kan uitkom…dit help nie om te verklaar jy weet niks?? hoekom sal jy dan daar wees… hierdie familie wil tot ruste kom, hul soek net die waarheid”” n mens wonder hoekom so baie mense betrokke was as dit net gegaan het oor n stuk grond eis?? ek hoop regtig dinge kom tot n punt en einde….

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.