Mooinooi-vroue: Familie ‘smag’ na ʼn roudiens

Lede van die publiek wag in die Brits-landdroshof vir die borgtogaansoeke om te hervat (30 Januarie 2018). Foto: Phillip Bruwer/Maroela Media

Die 29-jarige seun van die beweerde “meesterbrein” agter die verdwyning van en vermoedelike moord op Anisha (30) en Joey (32) van Niekerk van Mooinooi in Noordwes, se borgtogaansoek is Dinsdag in die Brits-landdroshof hervat.

Die man en sy sewe medebeskuldigdes, onder wie sy 18-jarige meisie en sy pa se 21-jarige vrou, staan tereg op aanklagte van sameswering om ʼn moord te pleeg, moord, ontvoering, verkragting, roof met verswarende omstandighede en inbraak met die doel om te steel. Weens die aanklag van verkragting wat by die klagstaat gevoeg is, mag die verdagtes se identiteit nie bekend gemaak word voordat hulle gepleit het nie.

Die borgtogaansoeke word as ʼn skedule 6-misdryf aangehoor wat beteken die beskuldigdes moet buitengewone omstandighede bewys waarom hulle op borgtog vrygelaat kan word.

Die vermeende meesterbrein se seun het getuig as hy nie borgtog toegestaan word nie, kan hy sy sesjarige kind verloor. “Ek betaal onderhoud vir my kind en as ek in aanhouding bly, sal ek nie langer onderhoud kan betaal nie en my kind vir goed verloor,” het hy getuig.

Hy het gesê hy werk vir sy pa se duikklopperonderneming en verdien R6 000 per maand waarmee hy onder meer R500 onderhoud moet betaal.

Hy het aangedui hy gaan skuld op al die aanklagte teen hom ontken wanneer die verhoor ʼn aanvang neem.

Die beskuldigde het ook gesê op 10 Desember 2017, die dag toe Joey en Anisha vermis geraak het, was hy en sy pa alleen by die werkwinkel en besig om aan ʼn voertuig te werk. Hy weet nie waar die ander medebeskuldigdes op daardie dag was nie.

Maroela Media het vroeër berig Joey en Anisha is op 10 Desember omstreeks 07:30 die laaste keer in die Mooinooi-omgewing gesien waar hulle saam op ʼn kleinhoewe gewoon het. Hulle was op pad na Pretoria om Joey se pa se roudiens by te woon, maar het nie hul eindbestemming bereik nie.

Die uitgebrande motor van Anisha en Joey van Niekerk. Foto: Verskaf

Hul uitgebrande Nissan X-Trail-sportnutsvoertuig is later in die Magaliesburg-omgewing gevind. Dit het later aan die lig gekom dat Joey en Anisha glo ure lank gemartel en ook verkrag is. Die motief vir die voorval hou moontlik verband met ʼn eiendomsgeskil. Een van die beweerde moordenaars wou die vroue glo dwing om dokumente te teken om hul besittings aan hom oor te dra.

Weke later is verbrande beendere gevind wat die polisie vermoed moontlik die oorskot van Anisha en Joey kan wees. Die beendere is vir DNS-toetse gestuur om die oorsprong daarvan te bevestig.

Intussen het Wynand van Niekerk, Anisha se broer, gesê die familie hoop en bid dat die borgtogaansoeke binne die volgende twee weke afgehandel sal word.

“Ons wag nog vir meer inligting van die polisie se forensiese eenheid. Ek dink as die borgtogaansoek klaar is en die saak na die hooggeregshof verwys word, sal ons kan voortgaan met ʼn roudiens. Ons, veral ek, smag daarna om Joey en Anisha ter ruste te kan lê. Volgens ons inligting is dit nie noodwendig nodig om te wag vir forensiese uitslae voor mens dit kan doen nie,” het hy gesê.

Lees alle vorige berigte oor Joey en Anisha van Niekerk op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Flou ·

Agnee regtig ek het nou genoeg na verskonings van beskuldigdes geluister. As jy werk gehad het en ‘n kind, moes jy TWEEKEER gedink het voordat jy oorweeg het om by ‘n moord/misdaad betrokke te raak. R500 onderhoud is ook maar baie min en as jy tronktoe gaan sal jy ook nie kan werk nie. Ongelukkig moet die reg sy verloop gaan en of jy jou seun verloor of onderhoud kan betaal is IRRELEVANT. As jy skuldig is en tronktoe gestuur word, gaan jy in elk geval jou kind verloor en ook die salaris waaruit jy onderhoud betaal het . Dit is nou regtig ‘n flou verskoning.

ek se net ·

Flou… R500 is rerig belaglik dis nie eers skool fonds nie! en ja soos jy se hy moes 2keer gedink het. Die mense maak my siek.

nadia ·

Hoekom praat daai mense nie? Dis ongelooflik hoe die mensdom ander leed andoen en dood maak verkrag en al daai lelike goed hoe lewe jy met jouself??????? ek kani eers n heel gaar hoender breek ni en hulle maak mense dood ek kan nie verstaan wat in jou kop moet angan om n mens dood te maak ni en kinders en di wat die mans deesdae die hele gesin vermoor en dan homself. Ek is seker te dom om te verstaan hoe die mense dit oor hulle harte kry. sterkte aan die family en mag die waarheid uitkom.

Gustav ·

die man is bekommerd oor sy seun wa hy gaan verloor agv nie onderhoud betaal nie. as ek die mense in daai areas is rondom mooi nooi sal ek hom geen werk gee om te doen nie.
weereens worry hy oor homself. wat van die families wat hy leed aangedoen het. hulle moes al lankal gebere gewees het

juba joubert ·

Sy pa verdien R80000 per maand en sy seun R6000 wragtag ?????????

marous ·

Waarom neen die DNS toetse so lank ? Staak die mense of is die toerusting weg of wat?

KarenG ·

Dis net vir my wonderlik hoe al die beskuldiges nou ewe skielik horende doof en siendende blind is. Ewe skielik het die Polisie almal nou geintimdeer het…..dis net een standaard siek storie!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.