Mooinooi-vroue: Gedenkdiens vir Anisha gehou

Joey (links) en Anisha van Niekerk. Foto: Verskaf

Omstandighede druk die familie van Anisha van Niekerk (30), wat saam met haar vrou, Joey (32), verlede jaar in Mooinooi ontvoer en moontlik vermoor is, om haar gedenkdiens te hou, al is uitslae van DNS-toetse van menslike oorskot wat daarna gevind is, nog nie beskikbaar nie.

Wynand van Niekerk (34), Anisha se oudste broer en familiewoordvoerder, het Dinsdag aan Maroela Media gesê tyd dwing hulle om die gedenkdiens volgende week te hou. Anisha laat Wynand en twee ander broers, Pieter (23) en Schalk (28), agter.

Wynand verduidelik dat Schalk volgens plan saam met sy vrou na Australië gaan emigreer en dat hulle die gedenkdiens wil hou voor hy binnekort oorsee vertrek.

“Ons het besluit om dit nóú te doen sodat Schalk daar kan wees, selfs al het ons nog nie die DNS-uitslae nie. Die rede hoekom die gedenkdiens net vir Anisha is, is omdat Joey se familie verkies om nog te wag vir DNS-uitslae om uitsluitsel te kry,” het Wynand gesê.

Volgens Wynand weet hulle glad nie hoe lank dit nog gaan duur voor die uitslae bekend gemaak word nie, maar hulle kan nie onbepaald wag nie.

“Om ʼn gedenkdiens vir ons suster te hou, is vir ons belangrik. Dit is deel van die rouproses en aanvaarding van wat gebeur het sodat ons berusting kan vind. Sedert Anisha en Joey se verdwyning en die inhegtenisneming van die verdagtes asook hul daaropvolgende hofverskynings, was ons net betrokke by dié kwessies. Ons moet nou ʼn bietjie tyd afstaan om te rou ook.”

Anisha se gedenkdiens word op 28 Maart om 09:00 vanuit die NG Moedergemeente Rustenburg waargeneem.

“Enigiemand is welkom. Bring asseblief ʼn bos blomme van jou keuse saam. Ons wil graag met soveel blomme moontlik totsiens sê. Weereens dankie aan elkeen van ons familie en vriende wat ons in hierdie tyd bystaan,” het Wynand gesê.

Intussen duur die borgtogaansoeke van die 52-jarige beweerde “opperbrein” agter die misdrywe, sy 21-jarige vrou, sy 29-jarige seun en dié se 18-jarige meisie, twee van sy werkers en twee ander mans nog voort in die Brits-landdroshof. Die beskuldigdes staan tereg op aanklagte van sameswering tot moord, moord, ontvoering, verkragting, roof met verswarende omstandighede en huisbraak met die bedoeling om te steel.

Hul name word weerhou aangesien daar ʼn klag van verkragting ondersoek word en hulle dus eers tydens hul verhoor in die hof moet pleit.

Maroela Media het vroeër berig Joey en Anisha is op 10 Desember omstreeks 07:30 die laaste keer in die Mooinooi-omgewing gesien waar hulle saam op ʼn kleinhoewe gewoon het. Hulle was op pad na Pretoria om Joey se pa se roudiens by te woon, maar het nie hul eindbestemming bereik nie.

Hul uitgebrande Nissan X-Trail-sportnutsvoertuig is later in die Magaliesburg-omgewing gevind. Weke later is verbrande beendere gevind wat die polisie vermoed moontlik die oorskot van Anisha en Joey kan wees. Die beendere is vir DNS-toetse gestuur om die oorsprong daarvan te bevestig. Die uitslae van die toetse is nog nie bekend nie.

Die hof het tydens die borgtogaansoeke gehoor die vroue is glo aan hul hande in ʼn skeepsvraghouer opgehang waar hulle na bewering verkrag en vermoor is. Suur is daarna glo oor hul liggame gegooi en hulle is aan die brand gesteek voordat van die beskuldigdes glo die oorskot in ʼn beboste gebied gaan stort het.

Die voorval hou na bewering verband met ʼn eiendomstransaksie. Die hof het vroeër gehoor die “opperbrein”, ʼn paneelklopper wat sy werkwinkel op Anisha se kleinhoewe bedryf en gehuur het, het R1 000 000 kontant in sy besit gehad wat hy in sy plaashuis aangehou het. Hy het glo die koopkontrak laat aanteken en die vroue voor hul verdwyning gedwing om dit te onderteken.

Lees alle vorige berigte oor Joey en Anisha van Niekerk op Maroela Media.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Lees ·

Dagsê MM
Paragraaf 5 : Volgens Wynand weet hulle weet glad nie??

Tania Heyns ·

Dagsê Lees

Dankie vir jou kommentaar. Ons vra om verskoning vir die oorsig. Die berig is reeds gewysig.

Groetnis
Tania
nms Maroela Media

Riouna Martin ·

Kan iemand my dalk se^ hoe is dit dat die twee se DNA toetse se uitslae so lank vat? Ek verstaan nie wat is die probleem.

MAGGIE ·

Klink asof hier met opset gesloer word met DNA uitslae. Hierdie saak is tog belangrik en prioriteit sodat die skuldiges se verhoor ook kan voortgaan maar belangrikste dat die families kan uitsluitsel kry en berusting kan vind.

Tragiese gebeurtenis ·

Ek voel jammer vir die familie van hierdie twee mense wat op so ‘n wreedaardige wyse van hulle lewens ontneem is. Mag hulle familie en geliefdes berusting vind. Die skuldiges mag nie loskom nie.

Jef ·

Borgtogaansoeke vir die moordenaars duur voort , nou wat borgtog?gooi die aansoeke in die asblik en vonnis hulle.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.