Mooinooi-vroue: Hof hoor oor ‘marteling’, inkopies met bankkaart

Joey en Anisha van Niekerk (Foto: Facebook)

Die vierde beskuldigde wat verdink word van die verdwyning en moontlike moord op Anisha en Joey van Niekerk van Mooinooi, beweer hy is ook deur die polisie aangerand om hom oënskynlik te dwing om ʼn staatsgetuie te word.

Die 36-jarige man van Majakaneng se regshulpprokureur, Kgomotso Moagi, het die beskuldigde deur sy aansoek gelei. Hy het aangedui hy het vier kinders, waarvan twee by hom in Majakaneng woon en twee bly hul ma.

Hy het getuig hy gaan skuld ontken op al die aanklagtes teen hom. Dit is sameswering om moord te pleeg, twee aanklagte van ontvoering, twee aanklagte van verkragting, twee aanklagte van moord, roof met verswarende omstandighede en huisbraak met die opset om te steel.

Hy het gesê hy is ʼn nutsman en werk vir ʼn private maatskappy. Hy ken net vir beskuldigde een wat in ʼn verhouding is met sy susterskind. Hy is op 14 Desember 2017 deur beamptes van die Mooinooi-polisie in hegtenis geneem nadat hy homself aan die polisie oorgegee het.

“Vier polisiebeamptes het my gevra wat weet ek van die saak. Ek het vir hulle gesê ek weet niks nie. Hulle het my hande en voete geboei en my begin aanrand. Hulle het ʼn plastieksak oor my kop getrek sodat ek nie asem kon kry nie,” het die beskuldigde gesê.

Hy het aangevoer die beamptes het hom aangerand om hom te dwing om ʼn staatsgetuie te word en teen beskuldigde een, twee [die vermeende meesterbrein] en drie. “Ek het gesê ek weet nie wat die aanklagte teen hulle is nie en ek kan nie as staatsgetuie teen hulle getuig as ek nie weet wat hulle gedoen het nie. Ná drie ure het hulle my gelos. Ek het hulle toe gevra of ek ʼn prokureur kan bel en hulle het geweier.”

Die man het ook aangedui hy word vir MIV behandel en sedert sy inhegtenisneming het hy nog geen medikasie ontvang nie.

Die beskuldigde het aangevoer dat hy glad nie vir Joey of Anisha geken of ooit iets met hulle te doen gehad het nie.

Hy is daarna deur staatsaanklaer Christine Molautsi onder kruisverhoor geplaas.

Dit het aan die lig gekom dat beskuldigde een op die dag van Joey en Anisha se verdwyning na Mooinooi ontbied is. Beskuldigde een het ʼn bankkaart en ʼn PIN-nommer vir hom gegee en gesê hy moet R3 000 by ʼn Standard Bank in die dorp gaan onttrek. Hy het ook met dié kaart gaan inkopies doen en brandstof ingegooi.

Die beskuldigde het gesê hy was van mening dat die kaart aan sy vriend behoort en het homself aan die polisie gaan oorgee toe hy hoor hulle het hom by sy huis gaan soek.

“As ek vir u sê dat die kaart wat u gebruik het aan die oorledenes behoort, wat sou u sê?” wou Molautsi weet.

“Ek het nie geweet wie se kaart dit was nie,” het hy geantwoord. Hy het aangedui hy weet nie hoeveel geld hy daai dag spandeer het nie.

“So het jy nie omgegee oor hoeveel jy van jou vriend se geld spandeer nie? Jy gebruik die kaart sonder om om te gee hoeveel geld jy spandeer. Was dit omdat jy geweet het die eienaars van die kaart is dood?” wou Molautsi weet. Hy het volgehou: “Ek het nie geweet nie. Ek het geweet as hy my later daaroor uitvra, sou ek hom terugbetaal het.”

Moagi verteenwoordig ook beskuldigde vyf en het dié beskuldigde deur sy aansoek gelei. Die man is ʼn 33-jarige Suid-Afrikaner van Renosterfontein. Hy werk by ʼn skrootwerf en verdien nagenoeg R2 000 ʼn maand waarmee hy vyf kinders, vier minderjariges en ʼn 21-jarige, moet onderhou. Hy is nie die biologiese pa van al die kinders nie.

Hy het getuig hy het geen vorige veroordelings, hangende sake of lasbriewe vir sy inhegtenisneming nie.

Hy staan ook tereg op aangeklagte van sameswering om moord te pleeg, twee aanklagte van ontvoering, twee van verkragting, roof met verswarende omstandighede, twee aanklagte van moord en huisbraak met die doel om te steel.

Hy het aangedui hy gaan skuld ontken en gesê hy het glad nie die oorledenes geken nie.

Die beskuldigde het gesê hy was by sy tannie se huis in Wonderkop toe hy tussen 04:00 en 05:00, nadat hy saam met vriende gaan kuier het, deur die polisie in hegtenis geneem is terwyl hy op die toilet was. Hy beweer hy is deur ʼn polisiebeampte aangerand wat hom op sy bors geskop het. Hy het op die grond geval en is verder geskop terwyl die beampte se kollegas glo toegekyk het.

Die hof het daarna vir die dag verdaag. Sy aansoek en dié van sy medebeskuldigdes duur Vrydag voort.

Maroela Media het vroeër berig Joey en Anisha is op 10 Desember omstreeks 07:30 die laaste keer in die Mooinooi-omgewing gesien waar hulle op ʼn kleinhoewe gewoon het. Weke later is beendere gevind wat die polisie vermoed moontlik die oorskot van Anisha en Joey kan wees. Die beendere is vir DNS-toetse gestuur om die oorsprong daarvan te bevestig.

Lees alle vorige berigte oor Joey en Anisha van Niekerk op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Magda Smit ·

Dit klink vir my na n geliegery. Haar voorletters en van verskyn mos op die kaart.

Francois Joubert ·

Daar is geen naam op my ABSA debietkaart op my tjekrekening. Slegs rekeninghouer se naam op my kredietkaart.

willehond ·

Hulle gaan los kom. Net soos die president, want hulle weet soos gewoonlik niks!

MCS ·

Klink en lyk of hul teveel TV kyk of hul het n goeie verbeelding. Al die stories oor die marteling kom so uit ‘n fliek. Moet ons hul nou jammer kry.

Pastoor ·

Ja hulle sit saam in die selle en leer goed lieg. Natuurlik lieg hulle

Blits ·

Genade maar die klomp kan darem vir jou verskonings en redes gee en hulle gesine gebruik om mense sag te maak! maar die beste van alles is dit het geen rol gespeel toe di arme jong dames so wreed vermoor is nie, dalk was hulle nog lewendig verbrand ook.

Hulle kan natuurlik nou met allerhande stories kom, as n mens vas is dan lieg jy dat dit klap om los te kom.

Hoe spandeur jy n helse klomp geld nadat jou vriend gesê het trek net soveel??????
Hy het geweet wat gebeur het en was daar betrokke dis hoekom hy glad nie omgegee het hoeveel hy blaas nie.

Lientjie ·

Hulle lieg almal. Daar is mos ‘n naam op die kaart, maar blykbaar kan hy dan nie lees nie. Hy het die kaart gehad en niemand het dit vir hom gegee nie. Gelukkig is die landdros nie stupid nie.

tiekie ·

Die feit dat hy so lekker spandeer het met die kaart en dan as sy vriend sou vra hoekom hy so baie spandeer het en hy dit dan sou terug betaal, is al klaar n lieg storie. Hy het duidelik geweet die kaart houer lewe nie meer so hy kan spend soos hy wil

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.