Mooinooi-vroue: Hof hoor oor R1 miljoen-kontanttransaksie

Die 21-jarige vrou in die Brits-landdroshof (Foto: Phillip Bruwer/Maroela Media)

Die 21-jarige vrou van die beweerde baasbrein agter die verdwyning van Anisha en Joey van Niekerk, het Donderdag in Brits-landdroshof getuig ʼn transaksie van R1 miljoen het tussen haar man en Anisha, net vier dae voor die vroue verdwyn het, plaasgevind.

Die vrou en sewe medebeskuldigdes, onder wie haar 52-jarige man, staan tereg op aanklagte van sameswering om ʼn moord te pleeg, moord, ontvoering, verkragting, roof met verswarende omstandighede en inbraak met die doel om te steel.

Sy was die tweede laaste beskuldigde wie se borgtogaansoek aangehoor is. Die aansoeke word as ʼn skedule 6-misdryf hanteer wat beteken hulle moet buitengewone omstandighede kan bewys hoekom hulle borgtog toegestaan moet word.

Voor haar aansoek begin het, het haar regsverteenwoordiger, Lourens Pretorius, homself van die saak onttrek, aangesien sy fooie glo nie betaal kon word nie. Pontsho Raikane, haar man, sy 29-jarige seun en dié se 18-jarige meisie se regsverteenwoordiger, het daarna aangedui hy gaan haar verteenwoordig en het haar deur haar aansoek gelei.

Sy het gesê sy het ʼn driejarige meisie saam met haar man, met wie sy nou sewe maande lank getroud is. “My dogtertjie bly nou by my ma in Rustenburg. Dit dag toe die polisie my in hegtenis geneem het, het sy my gegryp en gehuil en sy wou my nie laat gaan nie. Ek weet nie hoe dit nou met haar gaan nie, want ek het haar drie weke gelede laas gesien,” het sy hartseer gesê.

Sy het getuig sy en haar man is die Dinsdag ná die Van Niekerk-egpaar se verdwyning op 10 Desember deur die polisie ondervra.

Anisha en Joey is drie jaar gelede binne gemeenskap van goedere getroud en het die kleinhoewe besit waar die beskuldigde en haar man ʼn duikklopperonderneming bedryf.

Die egpaar is die Woensdag in die vroeë oggendure vrygelaat, waarna haar man later die Woensdag amptelik in hegtenis geneem is.

Sy is sedertdien nog net twee keer toegelaat om haar man te sien. Een keer op Kersdag en ʼn paar dae voor dit. Sy het by haar sussie in Rustenburg gebly toe sy op 11 Januarie, die Donderdag voor haar inhegtenisneming, op Facebook gesien het die polisie is op soek na haar en dat ʼn beloning van R5 000 deur familie van die Van Niekerks uitgeloof is. Sy en haar regsverteenwoordiger was die Sondag saam op pad na die polisie toe “die hele blitspatrollie” by haar suster se huis opgedaag en haar voor haar dogter in hegtenis geneem het.

Die vrou het aan die hof gesê Anisha het ʼn geruime tydjie voor sy verdwyn het, aan haar man gesê sy wil haar kleinhoewe verkoop om ʼn nuwe lewe buite die dorp te begin. Volgens die vrou wou Anisha R1 000 000 kontant hê om ʼn nuwe lewe te begin. Sy het ook R1 000 000 gesoek om die res van die verband van die kleinhoewe af te betaal en R50 000 wat sy glo vir Joey geskuld het. Anisha en die vrou se man het met dié se eiendomsprokureur oor die transaksie gesels, maar Anisha was nie met haar dienste tevrede nie en hulle het die prokureur Adrian Nel genader.

“My man het die Donderdag vir my gesê hy en Anisha is na ons plaas toe om die R1 000 000, wat ons daar gehou het, te gaan haal. Die res van die miljoen sou ons afbetaal het. Die dag daarna het Anisha pamflette aan die mense, wat by haar huur, uitgedeel om te sê my man besit nou die plek.”

Die vrou het Anisha die Saterdag vir die laaste keer gesien. Die vrou se man en Anisha sou die Maandag (11 Desember) die transaksie by Nel se kantoor beklink, maar dit het nooit gebeur nie want die Van Niekerk-egpaar het die Sondag verdwyn.

“ʼn Familielid van Joey het die Maandag daar opgedaag en wou weet of ons weet waar hulle is, want hulle antwoord nie hul fone nie. Joey was glo besig om ʼn begrafnis te reël en moes ʼn begrafnisonderneming betaal. My man het hulle probeer bel, maar kon hulle ook nie in die hande kry nie.”

Die hof het daarna vir die dag gesluit. Landdros Semakuleng Thamage het die saak tot 16 Februarie uitgestel wanneer die laaste beskuldigde sy borgtogaansoek gaan bring. Die staat gaan ook getuies roep wat die borgtogaansoeke sal teenstaan.

Maroela Media het vroeër berig Joey en Anisha is op 10 Desember omstreeks 07:30 die laaste keer in die Mooinooi-omgewing gesien waar hulle saam op ʼn kleinhoewe gewoon het. Hulle was op pad na Pretoria om Joey se pa se roudiens by te woon, maar het nie hul eindbestemming bereik nie.

Hul uitgebrande Nissan X-Trail-sportnutsvoertuig is later in die Magaliesburg-omgewing gevind. Weke daarna is gebrande beendere gevind wat vermoedelik die van Anisha en Joey is. DNS-toetse op die beendere word gedoen en die uitslae is nog nie gereed nie.

Lees alle vorige berigte oor Joey en Anisha van Niekerk op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Skerpioen ·

Watter pannelbeater hou R1 000 000 kontant op n plaas aan in vandag se lewe? Haar storie maak nie sin nie. As ek n onderneming gehad het sou ek nie R1 000 000 kontant in my huis of plaas gehou het nie.

Tieks ·

En sy lieg ook…. ek ken Joey en Anisha persoonlik en wat hulle gesê het was hul gaan Durban toe trek maar baas brein wil hul nie betaal wat hul wou hê vir die plaas nie.

janee... ·

goeie punt daai. Enigste verklaring is dat hulle die besigheid onder die mat gedoen het sonder om enige inkomste dan te verklaar @ SARS. So op sigself moet SARS hulle ook ondersoek dan.

Janine ·

Jy wil “tjank” oor jou kind en man … dink net hoe moet die families voel oor hul geliefdes wat hul nooit weer hier op aarde gaan sien nie.

Wannabe Paneelklopper ·

Wow, ek wil nou ook n paneelklopper besigheid begin. Lyk my daar is miljoene in die bedryf (WENS) Nee waaragtig kan my 10 jarige kind n beter leuen uit dink. Hierdie klomp se gekonkel en gelieg maak mens siek en gebruik dan n onskuldige kindjie se hartseer om van haar ma af weg geruk te word nog tot haar eie voordeel. As julle skuldig is mag julle kry wat julle toekom!!! Ek weet net die manier hoe GELD sommige mense kan oorheers is skrikwekkend. Ek wens net die DNS wil nou bekend gemaak word sodat die saak nou kan begin rigting kry. Ek weet nie wat sou ek doen as so iets my familie moes tref nie. Ek dink elke liewe dag aan Joey en Anisha se familie en vriende.

Duitser ·

Snaaks dat niemand n probleem gehad het tydens die marteling van die twee vroue nie maar nou het almal n probleem om nie in die tronk te sit nie.

RIV ·

Neewat aan die tronkstraf en kindertjies en al die ander dingetjies moes julle gedink het toe julle beplan het om hierdie twee onskuldige vroue te martel, verkrag en vermoor en verbrand op die gruwelikste wyse moontlik. Dit moes lank beplan gewees het, jy staan nie net een oggend op en dink al hierdie makabere dade uit nie. Mag die reg sy gang gaan en julle lewenslank in die tronk sit vir hierdie onsinnige moorde. EK kan nie dink hoe die twee dames se ouers en familie moet voel nie. My innige simpatie.

fm ·

Hierdie beskuldiges vertel soveel leuens dat hulle mekaar bein weerspreek! Hulle wil loskom en daarom prober hulle die Hof bedrieg. Die waarheid agter hierdie ongelooflike misdaad sal wel uitkom.

Boeremeisie ·

Die vrou is 21 en het ‘n 3-jarige kind saam met haar 52-jarige man. M.a.w sy was minderjarig toe sy swanger geword het … Dit opsigself is al ‘fishy’…

Sies ·

Tegnies is 18 jaar nie meer minderjarig nie. Maar ek verstaan wat jy bedoel. Dis super dodgy met so ou man en so jong vrou! En gross!

Johan ·

Snaaks dat geen melding van die sogenaamde “transaksie” deur Mnr. Baasbrein tydens sy borgverhoor gemaak is nie? Goeie motief vir moord of hoe?!

Deloris ·

Gaan haal R1m by die huis, en betaal die res vd R1m af!!! Lieg lieg lieg…

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.