Mooinooi-vroue: Hof hoor skokgetuienis

Van links is beskuldigde 1 tot 8 in die Brits-landdroshof (6 April 2018). Foto: Phillip Bruwer

ʼn Wending het Vrydag in die Brits-landdroshof uitgespeel waar agt verdagtes weer verskyn het vir hul voortslepende borgtogaansoeke rakende die verdwyning en moontlike moorde op Joey (32) en Anisha (30) van Niekerk, die egpaar van Mooinooi.

Die beweerde “baasbrein”, sy 21-jarige vrou, sy 29-jarige seun en dié se 18-jarige meisie, twee van sy werkers, broers van onderskeidelik 18 en 23 jaar oud, en twee ander mans, onderskeidelik 33 en 36 jaar oud, staan tereg op aanklagte van sameswering tot moord, moord, ontvoering, verkragting, roof met verswarende omstandighede en huisbraak met die bedoeling om te steel in verband met Anisha en Joey se verdwyning.

Hul name moet weerhou word, aangesien daar ʼn klag van verkragting ondersoek word en hulle dus eers tydens hul verhoor in die hof moet pleit.

Die hof het gehoor die regshulpraadprokureur wat die 33-jarige en die 36-jarige beskuldigdes verteenwoordig het, se kontrak met die raad het verval. Tebogo Makhafola, ʼn senior prokureur van die raad, het namens die twee beskuldigdes se vorige prokureur, Kgomotso Moagi, in die hof verskyn en aanvanklik aansoek gedoen vir uitstel om die transkripsies te verkry van die borgtogaansoeke, wat sporadies sedert 18 Januarie voorgekom het.

Pontsho Raikane, die prokureur van die “baasbrein”, sy vrou, sy seun en dié se meisie, het egter aangebied om die twee beskuldigdes gratis te verteenwoordig, aangesien hy van die begin af by die saak betrokke was en vertroud is daarmee.

“Ek het met Beskuldigde 4 [die 36-jarige man] en Beskuldigde 5 [die 33-jarige man] gekonsulteer en die aanbod wat Raikane gemaak het aan hulle verduidelik en hulle het ingestem dat Raikane hulle verder verteenwoordig,” het Makhafola gesê voor hy homself verskoon het.

Raikane het daarna die laaste gedeelte van dié twee beskuldigdes se kruisondervraging met die ondersoekbeampte, kol. Isaac Tlhapi van die Mooinooi-polisie, afgehandel.

Die hof het vroeër gehoor Beskuldigde 4 se suster is in ʼn romantiese verhouding met die “baasbrein” se oudste werker. Beskuldigde 4is in hegtenis geneem nadat hy op ʼn inkopietog met die slagoffers se bankkaarte gegaan het.

Tlhapi het gesê dié beskuldigde word nie direk met verkragting van die twee vrouens verbind nie, maar het wel saamgesweer om hulle te vermoor en te ontvoer. Hy het gesê die ander aanklagte waarop hulle tereg staan is deur die staatsaanklaer as gemeenskaplike opset bygevoeg.

Tlhapi het gesê albei beskuldigdes het aan hom erken en verklarings by ʼn neutrale party afgelê dat hulle betrokke was by die egpaar se moord. Raikane het egter die egtheid van dié verklarings betwis en gesê sy kliënte was nie bewus van die inhoud daarvan nie en dat hulle glo aangerand is voor hulle die verklarings gemaak het.

Volgens Tlhapi het Beskuldigde 5 aan hom gesê hy is geld aangebied om die dag van die moord op die toneel te kom help. Dié man het vroeër op ʼn skrootwerf op ʼn kleinhoewe buite Rustenburg gewerk, op ʼn perseel wat die “baasbrein” by die eienaar wou koop. Mandie Jansen van Rensburg, die eienaar, is op 24 Junie 2014 daar vermoor. Die “baasbrein” en sy oudste werker word ook met haar moord verbind. Beskuldigde 5 is ʼn staatsgetuie in die saak nadat hy die werker die dag van die voorval van die toneel sien weghardloop het.

“Ek sal nie vergeet wat hy vir my gesê het nie. Hy het gesê hy het gehelp om die vroue op te tel om hulle op te hang en te verwurg,” het Tlhapi getuig.

Voor dit is die vroue glo van hul kleinhoewe deur die oudste werker ontvoer en na die “baasbrein” se plaas geneem waar hulle verkrag is. Hulle is daarna in ʼn skeepsvraghouer gemartel en gedwing om ʼn koopkontrak te onderteken voor hulle opgehang is. Daar is daarna suur oor hul liggame gegooi en hulle is aan die brand gesteek, waarna hul oorskot elders gaan stort is.

Tlhapi het gesê daar is een ooggetuie wat die vroue se oorskot in ʼn stroompie op die “baasbrein” se plaas gesien het, maar dit was reeds verwyder toe die polisie daar opdaag. Die polisie het wel menslike beendere in die stroompie gevind, maar toetse het bepaal dit was nie die beendere van die vrou nie. Dié ooggetuie het intussen glo doodsdreigemente van ʼn beskuldigde, wat in aanhouding is, ontvang en is in die getuiebeskermingsprogram opgeneem.

Landdros Semakuleng Thamage het daarna die hof tot 12 April verdaag vir sy ondervraging en slotbetoë.

Joey en Anisha is op 10 Desember omstreeks 07:30 die laaste keer in die Mooinooi-omgewing gesien waar hulle saam op ʼn kleinhoewe gewoon het. Hulle was op pad na Pretoria om Joey se pa se roudiens by te woon, maar het nie hul eindbestemming bereik nie.

Hul uitgebrande Nissan X-Trail-sportnutsvoertuig is later in die Magaliesburg-omgewing gevind. Weke later is verbrande beendere gevind wat die polisie vermoed moontlik die oorskot van Anisha en Joey kan wees. Die beendere is vir DNS-toetse gestuur om die oorsprong daarvan te bevestig. Die uitslae van die toetse is nog nie bekend nie.

Die voorval hou na bewering verband met ʼn eiendomstransaksie. Die hof het vroeër gehoor die “baasbrein”, ʼn paneelklopper wat sy werkswinkel op Anisha se kleinhoewe bedryf en gehuur het, het R1 000 000 kontant in sy besit gehad wat hy in sy plaashuis aangehou het. Hy het glo die koopkontrak laat opstel en die vroue voor hul verdwyning gedwing om dit te onderteken.

Lees alle vorige berigte oor Joey en Anisha van Niekerk op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Tammy ·

Afgesien van die moordsaak dink ek dit is noodsaaklik dat SARS die baasbrein ondersoek. Ek ruik n rot….R1 000 000 in jou besit, wanneer gaan hy belsting betaal???

Koos ·

Maak sin dat Mnr “Baasbrein” se prokureur almal verteenwoordig, anders val hulle dalk mekaar aan in die verhoor!

Alida ·

Hierdie mense is siek en hoort 2X lewenslank te kry sonder borg. SIEK VERBY.

Avra ·

Hoekom 2 keer lewenslank tonkstraf as die gesamentlik uitgedien word. Maak mos nie sin nie. Dit moet afsonderlik uitgedien word.

Cherokee ·

Beendere waarvan die DNS-toetse se inligting weerhou word, speel waarskynlik ‘n rol. Miskien is dit Harry die Strandloper of Cleopatra se beendere wat opgespoor is en waarvan die DNS-toets-uitslae nou as ‘n skerm gebruik word.

AmY ·

Ek kan net hoop en bid dat my pad nooit ooit met hierdie mense s’n kruis nie. Hulle is werklik baie wreed en gevoelloos.

LHS ·

As dit so lank vat om net borgaansoeke afgehandel te kry, wil ek nie weet hoe lank hierdie saak gaan vat om afgehandel te word nie. Hoekom begin ek die gevoel kry as ek die gedeelte oor die beendere wat aanvanklik verseker langs die stroompie gekry is en nou skielik slegs n paar in die stroompie en die getuie wat dit glo gesien het voor dit weggevat is, weggevat???deur wie, waarheen? My gevoel is dat hier gate in die staat se saak gaan wees waardeur hierdie monsters gaan ontsnap. Iets klink nie lekker nie.

Genade ·

Daar is menslike beendere gevind wat nie die van die 2 vermiste vroue is. Dus is daar oorskot van nog n vermoedelik vermoorde persoon op die plaas gevind. Boos verby! Mag elkeen van die slagoffers geregtigheid kry.

Sue ·

Hoe lank vat dit vir DNS toetse om beskikbaar te wees. Elke keer lees jy net dat die DNS toetse nog nie beskikbaar is nie.

REGTIG!!!!!!!!!!!!!!

Hierdie mense lyk baie wreed sal nie met hulle te doen wil he nie. Maar ek dink die lafaards wat plaas moorde pleeg is nog wreder.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.