Mooinooi-vroue: ‘Meesterbrein’ ontken dreigemente uit tronk

Beskuldigde nommer 2. Weens die aanklag van verkragting wat by die klagstaat gevoeg is, moet die beskuldigdes se identiteite weerhou word tot hulle op die aanklag gepleit het. Foto: Phillip Bruwer, Maroela Media

Die 52-jarige beweerde meesterbrein in die verdwyning van en vermoedelike moord op Anisha (30) en Joey (32) van Niekerk van Mooinooi het Donderdag in die Brits-landdroshof weereens gesê hy “weet nie regtig” hoekom hy in aanhouding is nie.

“Soos ons nou hier staan, weet u hoekom u in hegtenis geneem is?” wou landdros Semakuleng Thamage weet. “Om die waarheid te sê, ek weet nie regtig nie,” het hy geantwoord.

Thamage het gevra of die polisie hom nie daarvan in kennis gestel het toe hulle hom in hegtenis geneem het nie, waarop hy geantwoord het: “Die polisie het my net polisiestasie toe gevat en gesê hulle wil iets vir my wys en toe sluit hulle my toe.”

“Het hulle jou tot vandag toe nie gesê hoekom jy in hegtenis geneem is nie?” het Thamage gevra. “Hulle het so twee, drie weke terug vir my gesê dis in verband met die vroue wat vermis is. Toe sê ek vir die beampte as daar iets op my plaas gebeur het, moet hulle die mense vra wat daar bly. Want daar is baie aande wat ons nie huis toe gaan nie en by die shop oorslaap om die werk klaar te kry,” het hy geantwoord.

Voor die staat sy kruisondervraging gesluit het, wou aanklaer Christine Molautsi weet of die beskuldigde die slagoffer van ʼn plaasmoord in 2014 buite Rustenburg geken het.

“Ja, ek het die vrou geken. Ek het toe nog my skrootmetaalbesigheid gehad en een van die eiendomme aan die vrou verkoop toe ek al my shops toegemaak het. Ek het agterna by ʼn ander werker gehoor die vrou is vermoor en die werker is ʼn verdagte. Die werker het later weer by my kom werk soek en toe gesê die saak teen hom is teruggetrek,” het hy gesê.

Beskuldigde een, die man se werker, is glo ʼn verdagte in dié vrou se moord en die verhoor is nog hangend. Die beskuldigde het egter verlede week in die hof getuig die aanklag teen hom is laat vaar.

“Jy het ook getuig jy weet nie wie die getuies in die saak is nie?” het Molautsi gevra. Die man het geantwoord hy weet nie wie die getuies is nie.

Die skeepsvraghouer waar Joey en Anisha van Niekerk glo ure aaneen gemartel en verkrag is. Foto: Mia Spies / eNuus

“En as ʼn getuie voor die hof kom en sê u het dreigende boodskappe aan hulle gestuur terwyl u in aanhouding was?” het sy gevra. “My prokureur kan mos die telefoonrekords gaan trek, dan kan julle sien wat is die waarheid,” het hy geantwoord.

Die man, wat onder meer sy eie duikklopperonderneming in Mooinooi in Noordwes bedryf op die eiendom wat aan Anisha behoort, staan tereg op aanklagte van sameswering om ʼn moord te pleeg, moord, ontvoering, verkragting, roof met verswarende omstandighede en inbraak met die doel om te steel.

Die man en sewe medebeskuldigdes, vyf mans, ʼn 18-jarige en ʼn 21-jarige vrou, se formele borgtogaansoeke het verlede Donderdag begin. Beskuldigde een en twee se aansoeke is afgehandel, die res van die aansoeke duur voort.

Weens die aanklag van verkragting wat onlangs by die klagstaat gevoeg is, mag die verdagtes se identiteit nie bekend gemaak word voordat hulle gepleit het nie. Die beskuldigdes se borgtogaansoeke word as ʼn skedule 6-misdryf aangehoor wat beteken hulle moet buitengewone omstandighede kan bewys waarom hulle op borgtog vrygelaat kan word.

Joey en Anisha is op 10 Desember omstreeks 07:30 die laaste keer in die Mooinooi-omgewing gesien waar hulle op ʼn kleinhoewe gewoon het. Weke later is beendere gevind wat die polisie vermoed moontlik die oorskot van Anisha en Joey kan wees. Die beendere is vir DNS-toetse gestuur om die oorsprong daarvan te bevestig.

Lees alle vorige berigte oor Joey en Anisha van Niekerk op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

bb ·

Slim gaan sy baas spoedig vang! Hierdie man is gewoond daaraan om te kry wat hy wil he in die lewe deur geweld en dreigemente en hy dink hy kan homself uit alles uitlieg.

Cor ·

Huh jy weet nie hoekom jy aangehou word nie, die algemene gebruik deur die meerderheid vandag; ek weet nie , ek het vergeet , ek was nie daar nie, dit is nie ek nie. Ontkenning, ontkenning van bo tot onder uit is om van siek te word, vat verantwoordelikheid vir jou handelinge.

fm ·

Hoe op die aarde gaan hierdie klomp mense onthou wat hulle laas gelieg het!!. Hulle gaan mos ,of is reeds besig, om mekaar te weerspreek, in die rug te steek en links en regs te lieg en bedrieg om los te kom! En dit gaan nie vir Anisha en Joey terugbring nie. Hulle het tot ‘n baie wrede en genadelose einde gekom. ‘n Mens doen nie sulke dinge ann ‘n ander mens nie. Mag die skuldiges gestraf word.

dell ·

Daar het hy homself mos vandag gekoppel aan die moord buite Rustenburg. Natuurlik nie self die daad gedoen nie, maar mense betaal om namens hom mense te intimideer en moor.

Andrea ·

Dis vir my so swaar om te dink die twee pragtige jong vroue se familie moet hierdie klomp leuens en snert aanhoor… En dan later al die wrede detail wat die klomp psigopate gaan opdis. Dit moet so swaar wees om te weet watse lyding jou geliefde moes deurmaak. Mag die Here die dames se familie en vriende styf vashou in hierdie traumatiese tyd.
Wens dit was nog die tyd van n oog vir n oog…

Aitoggie ·

Hierdie man lieg so. Die vorige keer toe se hy hy soek borgtog, want hy wil sekermaak die kinders gaan skooltoe. Nou se hy weer hyt baie aande by die “shop” oorgeslaap, hy weet nie wat by huis aangegaan het nie. Wie het dan na die kinders omgesien??

tiekie ·

Agg regtig?? Sy prokureur sy selfoon state nagaan? Dit werk so in die tronk, hulle smokkel selfone en simkaarte daar in en het vrylik toegang tot die buite wereld. Dis ‘n feit

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.