Mooinooi-vroue: ‘Meesterbrein’ stel sy kant

Beskuldigde nommer 2. Weens die aanklag van verkragting wat by die klagstaat gevoeg is, moet die beskuldigdes se identiteite weerhou word tot hulle op die aanklag gepleit het. Foto: Phillip Bruwer, Maroela Media

Die 52-jarige beskuldigde wat glo die meesterbrein is agter die verdwyning en vermoedelike moord op die egpaar Anisha (30) en Joey (32) van Niekerk van Mooinooi het Donderdag in die Brits-landdroshof met sy borgtogaansoek begin.

Die man, wat onder meer sy eie duikklopperonderneming in Mooinooi in Noordwes bedryf op die eiendom wat aan Anisha behoort, staan tereg op aanklagte van sameswering om ʼn moord te pleeg, moord, ontvoering, verkragting, roof met verswarende omstandighede en inbraak met die doel om te steel. Hy en sewe medebeskuldigdes, vyf mans, ʼn 18-jarige, en ʼn 21-jarige vrou, het voor landdros Semakuleng Thamage verskyn. Een van sy werkers, ʼn 25-jarige man, is die eerste beskuldigde wat vroeër die dag sy borgtogaansoek gesluit het en moontlik verbind word met ʼn plaasmoord in 2014.

Weens die aanklag van verkragting wat onlangs by die klagstaat gevoeg is, mag die verdagtes se identiteite nie bekend gemaak word voordat hulle gepleit het nie.

Pontsho Raikane, die man se regsverteenwoordiger, het die man deur sy getuienis gelei. Die beskuldigde het aangedui dat hy onderneem om met die aanvangs van sy verhoor skuld te ontken op al die aanklagte teen hom.

Sy borgtogaansoek word as ʼn skedule 6-misdryf aangehoor.

Hy het aangedui hy is in 1965 in Rustenburg gebore en was ses maande lank getroud met ʼn vrou wat ook een van die beskuldigdes is.

Hy besit nie ʼn paspoort nie, was nog nie buite Suid-Afrika gewees nie en het ook nie familie en ander belange in die buiteland nie.

Buiten sy duikklopperonderneming verdien hy inkomste deur voertuie aan te koop, op te knap en weer te verkoop en ook om gebottelde water te verkoop. Hy beweer sy ondernemings sorg vir ʼn inkomste van nagenoeg R40 000 ʼn maand waarmee hy onder meer sewe van sy agt kinders moet onderhou. Hy het ʼn driejarige dogtertjie, en sewe seuns, onderskeidelik vyf, ses, nege, 12, 14, 22 en 29 jaar oud. Die man se oudste seun, en dié se meisie, word ook beskuldig in die Van Niekerk-egpaar se verdwyning en moet nog aansoek doen om borgtog.

Die man het aangedui hy het vier persele; grond, en drie eiendomme waarop geboue is. Die plaas in die Buffelsfontein-gebied in Mooinooi waar hy voor sy inhegtenisneming in Desember 2017 gewoon het, is nagenoeg R1,5 miljoen werd. Hy het gesê sedert sy inhegtenisneming het die polisie almal wat daar gewoon het van die plaas af verjaag, die hekke oopgelos en dat al diere nou daar rondloop. Hy het gesê hy het vier “duur” perde gehad, skape, eende, ganse en hoenders. Maroela Media het by ʼn bron verneem die DBV het die diere in hul sorg geneem.

Buiten sy eiendomme het hy altesaam 18 voertuie wat huurvoertuie insluit. Hy het gesê die totale waarde van die voertuie beloop R150 000.

Hy het getuig hy het een vorige veroordeling wat in 2002 opgelê is en waarvoor hy ʼn boete van R1 500 moes betaal het nadat hy tweedehandse goedere verkoop het “wat nie reg geregistreer was nie”. Hy het gesê daar was al talle sake teen hom aanhangig gemaak, maar “dit is uitgegooi”.

“Een van die sake behels toe ek verbonde was aan skrootmetaalbedrywighede. Daar is ook ʼn saak van aanranding teen my oopgemaak. Ek en my broer het ʼn baklei, want hy het ʼn verhouding met my vrou gehad. Dis nou agt jaar wat ek ʼn eerlike pad loop,” het die man gesê.

“Hoekom gaan jy skuld ontken?” wou Raikane weet.

“Ek en daai mense was goeie vriende gewees. Hulle het altyd vir my kom kuier by die shop. En ek het hulle tot gehelp deur my perde vir hulle te leen. En hulle ook gehelp as daar ʼn probleem met hul voertuie was. Anisha het baie keer by my kom sit en as dinge te veel sou raak vir haar, sou sy met my kom praat het.”

Meer as ʼn uur van sy aansoek is toegewy aan sy ondervinding dat polisiebeamptes hom op twee geleenthede aangerand het. Hy beweer hy is die dag van sy inhegtenisneming erg aangerand.

“Een kolonel het met my rondgery, toe het hy vier ander polisiebeamptes opgelaai, en na die agterkant van ʼn kettingwinkel gery. Een van die beamptes het agter by my in die voertuig geklim. My hande was agter my rug vasgeboei. Die polisieman het my arms agtertoe gebuig en my met sy vuis in my ribbe geslaan. Ek is ook op my neus geslaan en dit het gebreek.”

Hy het getuig hy is vir die eerste keer verlede week Saterdag vir mediese behandeling gestuur en moet binnekort vir skanderings gaan.

“Ek het vir twee weke lank bloed geürineer en het dit by die polisiebeamptes aangemeld. Ek het daarna pille gekry en het nou herstel.”

Die hof het daarna gesluit vir die dag, nog voor die aansoek afgehandel is. Thamage het die hof tot Vrydagoggend verdaag wanneer die borgtogaansoek hervat.

Lees alle vorige berigte oor Joey en Anisha van Niekerk op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Ryk Man! ·

Sho! Vir n man met SO BAIE geld en eiendom en karre…. lyk hy maar agter die brug…
So baie keer al met die gereg vasgeloop – elke keer is saak uitgegooi… seker oor sy prokereur net so skelm soos hy is – dit maak hom nir onskuldig nie…

Rita ·

Lukas Maree het altyd gesê: Moet nooit iemand op sy voorkoms takseer nie. Onthou ook iemand is onskuldig totdat die HOF hom skuldig bevind. Wag tot al die dele van die legkaart gebou is. Ek is ook woedend oor die twee onskuldige vroue en wil ook my eie afleidings maak. Maar dit is beter om te wag en kyk wat gebeur.

Jan Nel ·

Maroela, net ‘n regstelinng.

By skedule 5 misdade moet daar bewys word dit is in belang van geregtigheid om vrygelaat te word. Met skedule 6 is die bewyslas nog swaarder en moet buitengewone omstandighede bewys word.

MJ ·

Korrek. Daar moet wesenlike en dwingende omstandighede bestaan wat sy vrylating regverdig.

Misgelees ·

Is dit moontlik dat 18 voertuie gesamentlik R150k werd kan wees? ;-). Asking for a friend…

PJC ·

Na alles wat al van hierdie ou gesê is dink ek nie dit sal ń goeie ding wees as hy borgtog kry nie.

Johann ·

Hoe betaal hy daai karre se lisensies. Ontduik hy nie nog betalsting ook nie?

nou toe nou ·

hulle se die beskuldige se naam kan nie bekend gemaak word voor Hy skuld erken het nie. daar was voorheen koerant berigte met sy naam, en giser aand op die 18h30 nuus op SABC 2 het hulle al die beskildiges se gesigte gewys!!!! hoe nou?

SjN ·

Word sy inkomste soos hy beweer verklaar aan SARS. Dalk volg daar nog n saak.

WREED ·

Hehe moet se as hy 18 voertuie (waarvan sommige voertuie huurvoertuie is) het en dit is net R150 000 werd is dit ook maar seker net geraamtes .. Ek verstaan glad nie die doel agter hierdie moord behalwe ‘greed’ nie, en hoekom die slagoffers verkrag moes word verstaan ek nog minder. AS dit oor GROND gegaan het .. hoekom verkrag en vermink en verbrand jy slagoffers . het jy nou die grond gekry?

Poot ·

AGT kinders!!!!!! REGTIG meneer!!!!!!
Wil vir my voorkom jy het meer probleme as net die gereg.

Genieve ·

Hy vertel lekkr hoe die polisie hom aangerand het kyk wat het hulle met die 2meisies gedoen geen borg vir hom en sy maker nie te arogant vir woorde.

Deloris ·

Wonder maar net….. van wanneer af is n kolonel betrokke op straat met n misdadiger..

SjN ·

Deloris, neem in ag hy is n hoe profiel sakeman en vloot eienaar misdadiger wat baie moet onderhou, dit verg hogere range om dit te ondersoek

LHS ·

Hierdie karakter se spul kinders wat nog in sy sorg is sal moet verwyder word deur die welsyn, daar is nie n manier dat hy na kinders mag omsien nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.