Mooinooi-vroue: ‘Meesterbrein’ wis nie hoekom hy vas is nie

Beskuldigde nommer 2. Weens die aanklag van verkragting wat by die klagstaat gevoeg is, moet die beskuldigdes se identiteite weerhou word tot hulle op die aanklag gepleit het. Foto: Phillip Bruwer, Maroela Media

Die 52-jarige beweerde meesterbrein rakende die verdwyning van en vermoedelike moord op Anisha (30) en Joey (32) van Niekerk van Mooinooi beweer hy weet nie hoekom hy al langer as ʼn maand lank in aanhouding is nie.

Die man, wat onder meer sy eie duikklopperonderneming in Mooinooi in Noordwes bedryf op die eiendom wat aan Anisha behoort, staan tereg op aanklagte van sameswering om ʼn moord te pleeg, moord, ontvoering, verkragting, roof met verswarende omstandighede en inbraak met die doel om te steel.

Hy en sewe medebeskuldigdes, vyf mans, ʼn 18-jarige en ʼn 21-jarige vrou, het Vrydag weer voor landdros Semakuleng Thamage verskyn waar sy borgtogaansoek hervat is. Een van sy werkers, ʼn 25-jarige man, is die eerste beskuldigde wat Donderdag sy borgtogaansoek gesluit het en moontlik verbind word met ʼn plaasmoord in 2014.

Weens die aanklag van verkragting wat onlangs by die klagstaat gevoeg is, mag die verdagtes se identiteit nie bekend gemaak word voordat hulle gepleit het nie. Die beskuldigdes se borgtogaansoeke word as ʼn skedule 6-misdryf aangehoor.

Die beweerde meesterbrein het vroeg Vrydag sy getuienis onder leiding van sy regsverteenwoordiger, Pontsho Raikane, afgehandel, waarna staatsaanklaer Christine Molautsi hom kruisondervra het.

“Weet jy waarvan jy aangekla word?” het sy gevra. “Hulle sê moord, kidnapping en ek dink rape,” het hy geantwoord. Molautsi het hom gevra of hy weet wie die slagoffers was, waarop hy geantwoord het: “Ek weet nie.” Hy het ook gesê hy weet nie waar Anisha tans is nie en dat hy haar die Sondag [10 Desember] omstreeks 11:00 die laaste keer gesien het. Hy betaal haar R6 000 per maand huur en het voor Molautsi hom oor haar uitgevra het, gesê: “Sy was die eienaar van die grond waar my shop is.”

Hy het tydens die kruisondervraging deurlopend deurmekaar voorgekom en die aanklaer se vrae onsamehangend beantwoord.

Die agt beskuldigdes in die hof (18 Januarie 2018). Foto: Phillip Bruwer

Hy het Donderdag getuig hy weet nie waar vier van sy agt kinders is wat in sy sorg was voor hy in hegtenis geneem is nie, maar het Vrydag geantwoord van hulle is in die sorg van sy seun (22) “wat gebreklik is” en die ander by sy vrou se ma. Sy oudste seun (29), dié se meisie (18) en sy vrou (21) staan saam met hom tereg in verband met die Van Niekerk-egpaar se verdwyning.

Die man het ook Donderdag getuig hoewel daar al sake teen hom aanhangig was, hy net een vorige veroordeling het wat in 2002 opgelê is en waarvoor hy ʼn boete van R1 500 moes betaal. Die veroordeling hou volgens hom verband met tweedehandse goedere wat hy verkoop het “wat nie reg geregistreer was nie”. Hy het gesê die ander sake teen hom is “uitgegooi”.

“Was u eerlik voor hierdie hof toe u getuig het oor u vorige veroordelings?” het Raikane gevra.

“Om eerlik te wees, ek was eerlik [in my getuienis] met dit wat ek kon onthou. Ek kon iets vergeet het, want ek het ʼn nuwe baadjie omgeslaan,” het hy geantwoord.

Raikane het die man gevra of hy bewus was dat die polisie ʼn vuurpit op sy perseel in die Buffelsfontein-gebied van Mooinooi gevind het waarin beendere was.

Die skeepsvraghouer waar Joey en Anisha van Niekerk glo ure aaneen gemartel en verkrag is. Foto: Mia Spies / eNuus

“Ek weet nie wat die polisie alles gekry het nie, want ek was toe reeds in aanhouding. Maar daar is ʼn vuurpit waar ons drie perde verbrand het wat vergiftig is.”

Raikane wou weet of die R1,5 miljoen-plaas waarop die man en verskeie ander mense woon sy eie grond is en of die verband aan hom behoort. Hy het Donderdag in die hof getuig dit is sy vaste blyplek waar hy al langer as ʼn jaar woon. “Ek het dit by die eienaar gekoop en betaal dit nog af. Ek betaal R5 000 per maand of ek doen vir die eienaar werk.”

Die man kon egter nie die eienaar van die grond se naam herken toe dit aan hom voorgelees is nie en het gesê hy sal dalk die naam herken as hy die man se gesig sien. “Hoekom sê jy dan dit is jou eiendom as die verband nie op jou naam is nie?” wou Raikane weet.

“ʼn Eiendomsprokureur is nog besig met die kontrak. Daar was probleme met ʼn paar rand wat uitstaande was vir water en ligte,” het hy gesê.

Die man het erken hy het ʼn vraag misverstaan oor hoeveel hy per maand verdien. Hy het Donderdag gesê hy verdien R40 000 per maand waarmee hy sewe van sy agt kinders moet onderhou, huur en salarisse moet betaal. Hy het egter Vrydag gesê hy verdien nagenoeg R80 000 en die R40 000 is die “wins” wat hy maak nadat al sy verpligtinge betaal is.

Raikane het die hof ook gewys op verskeie teenstrydighede in die man se getuienis. Die man het telkemale gesê hy is “onder baie stres” en het van die inligting vergeet.

Die hof het teen 13:00 verdaag. Thamage het die saak tot volgende Donderdag uitgestel wanneer die kruisondervraging en res van die aansoeke voortduur. Hulle bly in aanhouding tot dan.

Maroela Media het vroeër berig Joey en Anisha is op 10 Desember omstreeks 07:30 die laaste keer in die Mooinooi-omgewing gesien waar hulle op ʼn kleinhoewe gewoon het. Weke later is beendere gevind wat die polisie vermoed moontlik die oorskot van Anisha en Joey kan wees. Die beendere is vir DNS-toetse gestuur om die oorsprong daarvan te bevestig.

Lees alle vorige berigte oor Joey en Anisha van Niekerk op Maroela Media.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

Ander Annie ·

Geen borgtog asseblief en lewenslange tronkstraf sonder enige parool voorwaardes.

G ·

die man lieg reg deur sy nek hou hom agter tralies want dit klink vir my hy vergeet te maklik

Gesiggie ·

Ek voel so jammer vir die Familie wat elke keer in die hof moet sit en als aanhoor…. dit is elke dag se berig op Maroela Media… daar is soveel getuie,,, so maak hul praat en kry die Hofsaak verby… sodat hul wat verantwoordlik was kan betaal…van uitstel kom afstel… hoop data kom vining meer duidelikheid sodat die Familie kan rus en vrede kry…. Hul gaan deur Hel… Vra meer vrae aan die Meesterbrein… dalk weet hy meer…

Ontevrede Leser ·

hy betaal r6000.00 vir die huur per maand en dan skielik r5000.00 afbetaling, wow hy lieg so hy glo homself

Kaptein ·

Die R6000 is vir die huur van die paneelklop winkel op die slagoffers se plot. Die R5000 afbetaling is vir die stuk grond waarop hy woon.

Heidi ·

Borgtog aansoek en die stress is klaar te veel! Jy kan dankbaar wees Gerrie Nel kla jou nie aan nie.

Anoniem ·

“Besigheids eienaar” met 18 voertuie en en… En hy weet nie waarvoor hy opgesluit is nie? Nee wat, ek dink nie so nie! GEEN BORGTOG!

Osie ·

Hopenlik lees SARS die berigte sodat hulle kan sien die man verdien net mider as R1M jaarliks…..hoop sy belasting is op datum.
Lieg, jok, str*ntpraat……
Maar sy kierangs gaan binnekort braai

HB ·

Ek is geen regskenner nie. Kan iemand aan my verduidelik hoekom sy en ander beskuldigdes se identiteit weerhou word in sommige media berigte en in ander word hul name genoem en gesigte gewys (tydskrifte en koerante) Die hele land weet reeds wie hulle is.

Regkenner ·

Daai tydskrifte en koerante verontagsaam die wet. Hulle vat n kans om te kyk of iemamd hul oor die vingers tik, wat onwaarskynlik gaan wees.

Volgens wet ·

Volgens wet mag jy nie geidentifiseer word voor jy voorgekom & gepleit het nie. In hierdie geval het hul reeds voorgekom, maar toe kom daar n heel nuwe klagte van moontlike verkragting by en hul moet voorkom vir dit, maar borgtog aansoeke was reeds besig.

louis ·

Nou hkm nie sy naam noem en gesig wys nie hy moes darm al klaar gepleit het

HPV ·

Dit staan duidelik in die en voorafgaande berigte waarom hulle name weerhou word. Byvoorbeeld hierdie berig par 4. Die ou lieg homself al dieper die tronk in.

Leeutjie ·

Hierdie man het 2 persoonlikhede wat mekaar nog nooit ontmoet het nie!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.