Mooinooi-vroue: Nóg ʼn verdagte vas

Joey en Anisha van Niekerk (Foto: Facebook)

’n 21-jarige vrou is Sondagmiddag in Rustenburg in hegtenis geneem in verband met die verdwyning en vermoedelike moord op Anisha (30) en Joey (32) van Niekerk.

Ao. Mpeile Talane, woordvoerder van die polisie, het die inhegtenisneming aan Maroela Media bevestig. Maroela Media het vroeër berig die polisie het gesê die vrou kan hulle moontlik bystaan met inligting in verband met die saak.

Talane het gesê die vrou sal vandag saam met die ander sewe verdagtes in die Brits-landdroshof in Noordwes verskyn op aanklagte van moord, ontvoering, roof, die onwettige besit van ʼn vuurwapen en dwarsboming van die gereg.

Die sewe verdagtes, ses mans en ʼn 18-jarige vrou, se name is aanvanklik genoem, maar moet nou weerhou word, aangesien daar intussen ook ʼn klag van verkragting ondersoek word en hulle eers in die hof moet pleit.

Dit het onlangs aan die lig gekom dat Joey en Anisha glo ure lank gemartel en ook verkrag is. Die motief vir die voorval hou moontlik verband met ʼn eiendomsgeskil. Een van die beweerde moordenaars wou die vroue glo dwing om dokumente te teken wat hul kleinhoewe aan hom oordra.

Maroela Media het vroeër berig Joey en Anisha is op 10 Desember omstreeks 07:30 die laaste keer in die Mooinooi-omgewing gesien waar hulle saam op ʼn kleinhoewe woon. Hulle was op pad na Pretoria om Joey se pa se roudiens by te woon, maar het nie hul eindbestemming bereik nie.

Hul uitgebrande Nissan X-Trail-sportnutsvoertuig is later in die Magaliesburg-omgewing gevind. Twee weke gelede is beendere gevind wat die polisie vermoed moontlik die oorskot van Anisha en Joey kan wees. Die beendere is vir DNS-toetse gestuur om die oorsprong daarvan te bevestig.

Altesaam sewe verdagtes is op verskillende tye in Desember ná die vroue se verdwyning in hegtenis geneem. Persoonlike besittings, waaronder die vroue se bankkaarte, is in van die verdagtes se besit gevind toe hulle in hegtenis geneem is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Ander Annie ·

Dit is so brutaal dat ek nie woorde het nie. Ek is so jammer vir die families van hierdie twee dames. Soveel pyn en hartseer. Nou nog die trauma van die hof saak wat voorlê. Sterkte aan hulle. Mag geregtigheid seëvier en mag die skuldiges die hoogste moontlike straf kry.

Adri ·

Jammer wil nie soos n afrikaanse juffrou klink nie maar dis verdwyning ni verwyning nie….

Dalene de Vente ·

Dagsê Adri

Dankie vir jou kommentaar. Ons vra om verskoning vir die oorsig, die berig is reeds gewysig.

Groetnis
Dalene
nms Maroela Media

GO ·

Adri, se liewer dankie aan Maroela omdat jy verniet hul nuus kan lees en nie hoef te betaal vir hulle vinnige diens nie. Dankie Maroela, dis al hoe ek nuus lees uit n warm Angola.

Asjas ·

Dankie Adri, jy het dit goed handteer. As ek ‘n dokument die wereld instuur wil ek ook graag weet as ek ‘n fout gemaak het. Ek stel dit graag reg eerder as om met ‘n rooi gesig te sit of mense dink ek gee nie om nie.
Ons is almal menslik en maak foute.

Hanna ·

Tronkstraf is vir hulle nie swaar genoeg straf nie. Bring doodstraf terug wat natuurlik nooit sal gebeur nie !!!!!!

fm ·

Hoe kan twee vrouens toelaat dat sulke onmenslike en wrede marteling aan ander gedoen word en dan meedoen dat hulle vermoor en verbrand word. Dit is mos ongelooflik verskriklik. Het hierdie mense dan geen gewete nie?

Miekie ·

Adri, wie geent fouten maak , maak meestal niets – Nederlandse spreukwoord

Theresa B ·

Ek stem Hanna. Dit is al wat hierdie bose wreedheid bietjie in toom sal hou, maar nee. Die rooi tapyt word vir alle misdadigers uitgerol want hulle het mos regte. Watse regte het hierdie twee vroues gehad? Watse regte is hulle ontneem om ‘n lewe te lei?

Ada ·

Ek kan nie glo daar loop sulke mense rond nie. Hoop hulle kry almal tronkstraf sodat hulle van die publiek geskei kan word. Hoe is sulke tipe’s grootggemaak en waar kom hulle vandaan? Wat is hulle agtergrond? Waar was hulle op skool? Daar is geen menswees in hulle nie.

adriana ·

Die vroue se regte om lewe is ontneem. Wat gaan daaromtrent gedoen word. Gaan die aangehoudendes borgtog kry sodat hulle ‘n plan van aksie kan uitwerk om los te kom?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.