Mooinooi-vroue: ‘Saak het gemeenskap geskok’

Die groep beskuldigdes in die Brits-landdroshof (12 April 2018) Foto: Maroela Media

Die staat het Dinsdag in die voortslepende borgtogaansoek van die agt beskuldigdes wat verdink word van die ontvoering en moord op Anisha (30) en Joey (32) Van Niekerk van Mooinooi in sy slotbetoë na die getroude egpaar as oorledenes verwys.

“Ek verwys na hulle as oorledenes, want daar is geen bewyse dat hulle nog leef nie,” het staatsaanklaer Christine Molautsi in die Brits-landdroshof aangevoer.

Die beweerde “baasbrein”, sy 21-jarige vrou, sy 29-jarige seun en dié se 18-jarige meisie, twee van sy werkers, Mosambiekse broers van onderskeidelik 18 en 25 jaar oud, en twee ander mans, onderskeidelik 33 en 36 jaar oud, staan tereg op aanklagte van sameswering tot moord, moord, ontvoering, verkragting, roof met verswarende omstandighede en huisbraak met die doel om te steel in verband met Anisha en Joey se verdwyning.

Die beskuldigdes se name moet weerhou word, aangesien daar ʼn klag van verkragting ondersoek word en hulle dus eers tydens hul verhoor in die hof moet pleit.

Die borgtogaansoeke, wat sedert 18 Januarie sporadies voorgekom het, word as ʼn skedule 6-misdryf aangehoor wat beteken die beskuldigdes moet kan bewys dit is in die belang van geregtigheid en dat daar buitengewone omstandighede bestaan hoekom hulle borgtog toegestaan moet word.

Die vermeende “baasbrein” poog om iets aan die ondersoekbeampte te sê (12 April 2018) Foto: Maroela Media

Molautsi het aangevoer Beskuldigde 1, die 25-jarige Mosambiekse broer, en Beskuldigde 2, die “baasbrein”, kon nie buitengewone omstandighede bewys hoekom hulle borgtog toegestaan moet word nie.

“Hulle albei word aangekla van nóg ʼn beweerde grusame moord in 2014 in Rustenburg met dieselfde modus operandi waar iemand glo vir ʼn eiendom vermoor is. Beskuldigde 2 sal die planne maak en sy werker gebruik om dit uit te voer,” het sy aangevoer.

Molautsi het gesê die wreedheid van die oorledenes se moord moet in ag geneem word en dat, sou die beskuldigdes borgtog toegestaan word, hulle ʼn gevaar vir die gemeenskap en ander getuies kan inhou. “Die oorledenes se dood het die gemeenskap geskok. Tog maak Beskuldigde 2 of hy net ʼn slagoffer is en ten spyte van al die mediadekking, maak hy asof hy nie weet hoekom hy in hegtenis geneem is nie. Al waaroor hulle wou getuig is hoe hulle glo deur die polisie aangerand is en gedwing is om oor die misdrywe te praat,” het sy gesê.

Volgens Molautsi is albei verdagtes vlugrisiko’s aangesien hulle van ernstige misdrywe aangekla word, wat swaar tronkstraf tot gevolg kan hê sou hulle skuldig bevind word. Sy het ook gesê sou die beskuldigdes borgtog toegestaan word, kan dit die openbare orde ontstig en die beeld van die gereg skaad.

Oor die 18-jarige Mosambiekse broer het Molautsi gesê hy is onwettig in die land, “asof hy uit die lug geval het”.

Joey en Anisha van Niekerk (Foto: Facebook)

“Daar is geen rekord van hom oor hoe hy in die land in gekom het nie en sy biologiese ma se identiteit kan ook nie vasgestel word nie. Hy het ook nie ʼn geboortesertifikaat nie en is ʼn groot vlugrisiko,” het sy bygevoeg.

Molautsi het aangevoer Beskuldigde 4, die 36-jarige man, kon ook nie buitengewone omstandighede bewys nie. Dié man se suster is in ʼn verhouding met Beskuldigde 1 en die staat het gesê hy het bewyse dat die man op ʼn inkopietog met die slagoffers se bankkaarte gegaan het. “Hy ken die getuies in die saak en sal met hulle kan inmeng as hy borgtog toegestaan word.”

Sy het gesê Beskuldigde 5, die 33-jarige man, kon uitwys waar Joey en Anisha se voertuig uitgebrand is en dat hy gehuur was om met die beweerde misdade te help. “Hy het ná die tyd gehoor die polisie soek na hom en het verdwyn. Die slotsom kan gemaak word dat hy van die polisie probeer weghardloop het voor hy in ʼn ander dorp in hegtenis geneem is. Die feit dat hy weggehardloop het maak hom nie geskik vir borgtog nie.”

Molautsi het gesê Beskuldigde 6, die “baasbrein” se 29-jarige seun, het die Van Niekerks se motor bestuur na die plek waar dit aan die brand gesteek is. Die hof het ook vroeër gehoor hy het die vermeende handlangers rondgery toe daar van die slagoffers se beendere ontslae geraak is. “Die graad van die geweld van die misdryf is ʼn veiligheidsrisiko vir die gemeenskap,” het sy gesê.

Molautsi het aangevoer Beskuldigde 7, die 18-jarige meisie van die “baasbrein” se seun, is afhanklik van die medebeskuldigdes vir ʼn dak oor haar kop. Sy het dit gestel dat die meisie al van ʼn jong ouderdom by hulle woon en dat sy van kleins af deur die “baasbrein beïnvloed” is en nie deur haar ma en ouma beheer kan word nie.

Molautsi het dit gestel dat die meisie, “en al die ander verdagtes”, saamgesweer en geweet het wat gebeur het. “As dit by die sameswering kom, beteken dit dat hulle in gemeenskaplike doel opgetree het en net so skuldig is soos diegene wat die misdrywe gepleeg het,” het sy gesê.

Die uitgebrande motor van Anisha en Joey van Niekerk. Foto: Verskaf

Molautsi het daarop gewys dat die ondersoekbeampte getuig het dit was moeilik om Beskuldigde 8, die “baasbrein” se 21-jarige vrou, op te spoor en dat sy planne gemaak het om haar aan die polisie te oor te gee nadat sy in die media gesien het die polisie soek na haar.

“Dit is snaaks dat, as sy weet haar man is in hegtenis geneem, sy nie geweet het die polisie soek na haar nie. Dit skep die indruk dat sy ook van die polisie wou weghardloop. Die staat stel dit dat haar rol wat sy gespeel het rede vir kommer is. Sy ken ook getuies en kan met die ondersoek inmeng.”

Molautsi het die verdediging se verweer verwerp dat die ondersoek nog te lank gaan duur om te voltooi en dit dus onbillik teenoor die beskuldigdes is om onbepaald in aanhouding te wees en dat die staat ʼn swak saak het aangesien daar geen DNS-bewyse voor die hof is nie. “Dit is gegewe dat DNS-uitslae tot en met ses maande kan duur om voltooi te word. Omstandigheidsbewyse kan oorweeg word, selfs in die afwesigheid van ʼn slagoffer se liggaam.”

Maroela Media het vroeër berig Joey en Anisha, wat drie jaar getroud was, is op 10 Desember omstreeks 07:30 die laaste keer in die Mooinooi-omgewing gesien waar hulle saam op ʼn kleinhoewe gewoon het. Hulle was op pad na Pretoria om Joey se pa se roudiens by te woon, maar het nie hul eindbestemming bereik nie.

Hul uitgebrande Nissan X-Trail-sportnutsvoertuig is later in die Magaliesburg-omgewing gevind. Weke later is verbrande beendere gevind wat die polisie vermoed moontlik die oorskot van Anisha en Joey kan wees. Die beendere is vir DNS-toetse gestuur. Die uitslae van die toetse is nog uitstaande.

Die saak duur voort.

Lees alle vorige berigte oor Joey en Anisha van Niekerk op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Linda ·

Dit wat ek deurentyd in die media lees stel n president dat hierdie mense uiters gevaarlik vir die samelewing kan wees. Ek ondersteun die Polisie en die Hof se besluit hierin.

Helene Heyns ·

Ek stem saam Linda. Wat my betref en volgens wat ek lees hoort hul gladnie in n samelewing nie en moet hul so vinnig as moontlik daaruit verwyder word.

Colleen ·

Hierdie saak sloer en sloer. Hierdie gevaarlike mense moet uit die samelewing verwyder word.

Lina ·

Dit het die land geskok, en jy moet weet as mense in SA geskok is, is dit regtig erg.

christa ·

kan nie glo die mense het so lank met hulle dinge weg gekom nie. Sluit hulle toe. Hulle hoort nie in die samelewing nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.