Mooinooi-vroue: ‘Staat se saak is nie sterk’

Die groep beskuldigdes in die Brits-landdroshof (12 April 2018) Foto: Phillip Bruwer

Die verdeging van die agt beskuldigdes wat verdink word van die ontvoering en moontlike moord op die egpaar Anisha (30) en Joey (32) van Niekerk van Mooinooi, het Donderdag in die Brits-landdroshof die redes aangevoer oor hoekom die beskuldigdes borgtog toegestaan moet word.

Die beweerde “baasbrein”, sy 21-jarige vrou, sy 29-jarige seun en dié se 18-jarige meisie, twee van sy werkers, Mosambiekse broers van onderskeidelik 18 en 23 jaar oud, en twee ander mans, onderskeidelik 33 en 36 jaar oud, staan tereg op aanklagte van sameswering tot moord, moord, ontvoering, verkragting, roof met verswarende omstandighede en huisbraak met die doel om te steel in verband met Anisha en Joey se verdwyning.

Hul name moet weerhou word, aangesien daar ʼn klag van verkragting ondersoek word en hulle dus eers tydens hul verhoor in die hof moet pleit.

Die borgtogaansoeke, wat sedert 18 Januarie sporadies voorgekom het, word as ʼn skedule 6-misdryf aangehoor wat beteken die beskuldigdes moet kan bewys dit is in die belang van geregtigheid en dat daar ook buitengewone omstandighede is hoekom hulle borgtog toegestaan moet word.

Ofentse Raikane, vir Beskuldigde 1 en Beskuldigde 3, die twee Mosambiekse broers, het in sy betoë drie redes aangevoer om die buitengewone omstandighede uit te lig. Hy het gefokus op jurisdiksie, die duur van die ondersoek, dat die saak bo redelike twyfel bewys moet word en die sterkte van die staat se saak.

“Die plek waar die beweerde misdrywe plaasgevind het en die feit dat die borgtogaansoeke in ʼn ander gebied aangehoor word, bring die jurisdiksieprobleem na vore. In so ʼn geval moet die direkteur van openbare vervolging ʼn geskrewe sertifikaat en geldige redes te verskaf hoekom die borgtogaansoek in ʼn ander gebied aangehoor word. In dié geval is dit nie gedoen nie en dit tel in die beskuldigdes se voordeel,” het hy gesê en na vorige hofsake verwys om sy stelling te staaf.

“Nog ʼn faktor is die feit dat die hof moet kyk hoe ver die ondersoek gevorder het. In hierdie stadium is ons nie seker hoe lank hierdie ondersoek nog gaan duur nie. Dit kan ʼn onbepaalde tydperk duur voor die verhoor uiteindelik kan begin en die beskuldigdes het ʼn grondwetlike reg tot ʼn spoedige verhoor. Die ondersoekbeampte het gesê dit kan tot en met ʼn jaar vat om dit af te handel en dit is nie in belang van geregtigheid dat hulle in aanhouding moet bly tot die ondersoek afgehandel is nie.”

Ofentse het aangevoer die hof moet ook die sterkte van die staat se saak oorweeg. “As ons na die sterkte van die staat se saak kyk is daar is geen DNS om te bewys dat die slagoffers oorlede is nie. Dit is ʼn belangrike feit wat die hof moet oorweeg. Daar is geen DNS in Beskuldigde 2 [die “baasbrein”] se huis, of waar [die vroue] na bewering gehang of hul liggame gebrand is nie. Daar is geen bloedspatsels of selfoonkartering wat wys dat die twee slagoffers die dag van die beweerde voorval by die huis of in die teenwoordigheid van die beskuldigdes was nie. Verder is daar nie enige wapens in enige van die beskuldigdes se besit gevind tydens hul inhegtenisnemings nie. Daar is ook geen selfoonrekords om die sameswering om die moorde te pleeg te bewys nie, geen rekords van oproepe of boodskappe nie. Daar is ook geen, nie eers een, van die slagoffers se besittings in die beskuldigdes se teenwoordigheid gevind nie,” het Ofentse verduidelik.

Ofentse het gesê al die aanklagtes is ernstig maar die staat het ʼn gebrek aan onafhanklike getuies wat die moord of beweerde verkragting gesien het.

“Dit staat is in ʼn penarie. Hy maak staat op die verklarings wat van die beskuldigdes af gekom het en nie een van hulle is staatsgetuies nie. Alles kom neer op een aspek in hierdie stadium en dit is die geloofwaardigheid van die onafhanklike ooggetuies wat nog moet voorkom. Ons het in die stadium nog geen amptelike bekentenis van enige beskuldigde nie, net die ‘verklarings’ wat onder dwang gedoen is, aangesien die polisiebeamptes die beskuldigdes aangerand het. As daar forensiese bewyse was, sou ek sê het die staat ʼn sterk saak gehad, maar soos dinge staan kan daar nie bo redelike twyfel enigiets bewys word nie.”

Ofentse het gesê dit is vreemd dat die DNS-uitslae so lank duur op die beendere wat vermoedelik dié van die slagoffers was, aangesien die polisie vinnig kon vasstel dat ander beendere wat op die “baasbrein” se plaas gevind is, nie van Anisha en Joey afkomstig is nie.

“Daar is ook geen vingerafdrukke van enige van die beskuldigdes by die slagoffers se woning gekry wat bewys dat hulle daar was nie,” het hy bygevoeg.

Pontsho Raikane, Ofentse se broer van dieselfde regsfirma, verteenwoordig die res van die beskuldigdes. Hy het in sy betoë al Ofentse se stellings gestaaf om buitengewone omstandighede te bewys.

“Dit het tydens die beskuldigdes se mondelinge getuienisse in die aansoek aan die lig gekom dat hulle nie met die bewyse of getuies sal inmeng nie. Hul vrylating sal ook nie die openbare orde ontstig nie en hulle sal nie ʼn gevaar vir die samelewing inhou nie,” het Pontsho gesê.

Die vermeende “baasbrein” poog om iets aan die ondersoekbeampte te sê (12 April 2018)

Pontsho het bygevoeg daar is ʼn gebrek aan bewyse dat die “baasbrein” ʼn ooggetuie met die dood gedreig het terwyl hy in aanhouding was. Hy het ook gesê bewerings dat die “baasbrein” al ʼn paar keer ander mense gedreig het, is onwaarskynlik. “Daar is nog nooit deur enigiemand ʼn saak van intimidasie teen die beskuldigde in die verband aanhangig gemaak nie,” het hy gesê.

“Die staat se saak is gebaseer op Beskuldigde 2 wat probeer het om ʼn eiendom te verkry. Hierdie motief is nie behoorlik en deeglik ondersoek of bewys nie. Daar was nie enige onafhanklike ooggetuies wat aanduiding gee dat die slagoffers gedwing is om die kontrak te onderteken nie.”

Pontsho het ook aangevoer die staat het ook geen bewyse dat die “baasbrein” alles beplan en die opdragte uitgedeel het nie, of deel was van die beweerde verkragting of ontvoering nie.

Pontsho se betoë was nog nie afgehandel toe landdros Semakuleng Thamage die hof teen sluitingstyd moes laat verdaag nie. Verrigtinge hervat later die maand wanneer Pontsho sy betoë sal afhandel en die staat sy betoë gaan lewer.

Ná die verrigtinge het die “baasbrein” met rooi oë, asof hy gehuil het, twee keer gepoog om met die ondersoekbeampte in die saak, kol. Isaac Tlhapi, te praat. Dit is nie duidelik wat hy vir die ondersoekbeampte wou sê nie.

Joey en Anisha, wat drie jaar getroud was, is op 10 Desember omstreeks 07:30 die laaste keer in die Mooinooi-omgewing gesien waar hulle saam op ʼn kleinhoewe gewoon het. Hulle was op pad na Pretoria om Joey se pa se roudiens by te woon, maar het nie hul eindbestemming bereik nie.

Hul uitgebrande Nissan X-Trail-sportnutsvoertuig is later in die Magaliesburg-omgewing gevind. Weke later is verbrande beendere gevind wat die polisie vermoed moontlik die oorskot van Anisha en Joey kan wees. Die beendere is vir DNS-toetse gestuur.

Lees alle vorige berigte oor Joey en Anisha van Niekerk op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

jaco ·

Die staat se swak saak verbaas my glad nie. Dis mos maar net die 2 wit eienaars van ‘n plaas wat dood is. Dit maak die afvat van die plaas en oorhandiging daarvan aan Ramaphoza se “our people” net soveel makliker.

Antjie ·

Wow! Uiteindelik bietjie beter perspektief van die media op die ander kant.

Om “beweerde” as ʼn selfstandige naamwoord in te plak in voor-die-hand-liggende gevalle beteken net mooi bôggerol in terme van onpartydige beriggewing.

Vir hoeveel mense maak hierdie berig nou sin? Hoe verskil dit van ʼn verhoor deur die media?

Als bly hartseer. Mag die skuldiges spoedig uitkom en aan die pen ry! Ek glo en hoop daar is tálle lesers wat ook die moontlikhede voorheen al kon in sien. Ek wonder wat gaan word van vandag se kinders wat nie meer op skool leer dink nie. Ek hoop die ondersoekende span het meer konkrete inligting gereed as wat ek gedink het.

Lola ·

Antjie, die skuldiges moet asb nie vinnig uitkom nie, en aan die pen ry. Hulle moet net daar bly waar hulle is, in die tronk.

Annelize ·

Antjie, die skuldiges het reeds “uitgekom”, of uitgehaal uit die gate waar hulle weggekruip het. Dis nou net om hulle hopenlik aan die pen te laat ry.

Wolf ·

Genade, wat het die polisie al die maande gedoen? – maande ge-ondersoek en nie eers n behoorlike saak om voor te le nie. Red nou n volk met so n swak beskermer.

John Samuel ·

Ja, gee die Mosambiek’ broers borgtog, dan sien ons hulle NOOIT weer nie……

Wonder ·

O genade! Is die towenaars alweer besig om die saak deurmekaar te krap? Hoop nie een van die klomp kom weg met die saak nie.

Jef ·

Afrika justice op sy beste, die bewyse is daar, die plek van misdryf is bekend maar nee borgtog is veel belangriker as die daadwerklike saak waarvoor hulle terregstaan.
Manupilasie van die regsisteem uitgevoer deur kriminele.

LHS ·

Ek begin al hoe meer die kry dat n goeie verdedigingspan net te veel gate in die staat se saak gaan kry, al weet almal dat hulle skuldig is.

Anoniem ·

Genade alleen weet … Ek sal my verstant tebowe gaan … Wat gaan aan met julle mense??? Dis sooo duidelik soos nog iets baie getuies weet wat daai dag gebeur het maar is te pap ini broek om op te staan want daar word mos gedreig met die dood en hoe kan hul met niks konkreet tevore kom nie … Rtb polisie is kop in eem mus met die strydoms geen wonder hul wil die saak in n ander dorp doen nie .. Maar ek sien n ding kom huk gaan weereens alles onder die mak vee en hy hulle gaan weer skot vry afkom tot die volgnde moord.. Hoe kan een persoon soo hard en gemeen wees om vi jare moord te pleeg en skotvry weg te kom … Sies ….. Ek skaam my doood…..

BB ·

Polisie val al weer oor hul eie voete. Te min geld en infrastruktuur om moordsake voldoende te ondersoek en deur te voer. Die enigste saak wat die “nodige” aandag gekry het is die Oscar Pistorius saak omdat dit wereld wyd opslae gemaak het.

RH ·

hhmmm somethings fishy!!! daai prok wat geen betaaling aanvaar?? Daai breinbaas het mos reeds baie geld weg gesteek. daai prok gaan goeie geld maak maar die waarheid kom altyd uit!!! almal kry hul dag!

LHS ·

Wat duidelik uitwys dat die staat nog rondtas in die donker is die feit dat almal skynbaar vir presies dieselfde klagtes aangekla is. Daardie regte mog n troffe tipe hantering van die saak met die hoop dat iemand wat minder skuldig is gespanne gaan raak en dan maar eerder vir sy eie beswil sal begin sing. Mens sou eintlik dink dat die amasone agtige ene lankal sou ingegee het maar skynbaar hou die kind van mieliegruis en sojabone. Die ene met die lang vuil hare lyk egter of die dieet hom goeddoen. Lyk beslis of hy kleiner word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.