Mooinooi-vroue: Verdagtes vandag in hof

Joey en Anisha van Niekerk (Foto: Facebook)

Sewe verdagtes sal vandag in die landdroshof in Brits, Noordwes, verskyn in verband met die verdwyning van Anisha (30) en Joey (32) van Niekerk wat in Desember verlede jaar in die Mooinooi-omgewing vermis geraak het.

Die verdagtes wat sal verskyn is Aaron Sithole (23), Alex Mudau (36), Moses Rakubu (33), Koos Strydom (53), Vincent Strydom (29), Maruschka Opperman (18) en ʼn sewende verdagte wie se naam nie genoem kan word nie omdat daar in dié stadium vermoed word dat hy minderjarig is. Al sewe verdagtes verskyn op aanklagte van moord, ontvoering, roof, die onwettige besit van ʼn vuurwapen en dwarsboming van die gereg.

Vincent Strydom en Opperman was die laaste twee van die verdagtes wat vasgetrek is en hulle is op 29 Desember 2017 in hegtenis geneem. Wynand van Niekerk, Anisha se broer, het in ‘n Facebook-inskrywing ná hul inhegtenisneming gesê die twee verdagtes “het ʼn hele klomp nuwe inligting op die tafel gesit”. Hy het egter weens die sensitiwiteit van die ondersoek gesê hy kan nie verder uitbrei nie.

Wynand het die publiek uitgenooi om Vrydag ter wille van geregtigheid vir Joey en Anisha die hofverrigtinge by te woon.

Die uitgebrande motor van Anisha en Joey van Niekerk. Foto: Verskaf

Dit sal vandag die eerste verskyning van die verdagtes wees sedert die ondersoekspan in die saak vroeër vandeesweek ʼn reusedeurbraak gemaak het toe beendere gevind is wat die polisie vermoed moontlik die oorskot van die Van Niekerk-egpaar kan wees. Ao. Mpeile Talane, woordvoerder van die polisie, het vroeër aan Maroela Media gesê die beendere is Dinsdag in ʼn beboste gebied naby die R104, nie ver van Mooinooi af nie, gevind.

Talane wou nie in dié stadium meer inligting bekendmaak oor hoe die polisie op die beendere afgekom het nie omdat dit moontlik die ondersoek na die saak kan belemmer.

Maroela Media het vroeër berig Joey en Anisha is op 10 Desember omstreeks 07:30 vir die laaste keer in die Mooinooi-omgewing gesien waar hulle saam op ʼn kleinhoewe woon. Hulle was op pad na Pretoria om Joey se pa se roudiens by te woon, maar het nie hul eindbestemming bereik nie en is sedertdien nie weer gesien nie.

Hul uitgebrande Nissan X-Trail-sportnutsvoertuig is later in die Magaliesburg-omgewing gevind. Persoonlike besittings, waaronder die vroue se bankkaarte, is in van die verdagtes se besit gevind toe hulle in hegtenis geneem is.

Lees die vorige berigte oor Joey en Anisha van Niekerk op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Sam ·

Hoekom is Opperman se naam hier en op facebook nie dieselfde gespel nie? Glo dit moet Maroecka wees.

Dereck Le Roux. ·

Hoekom het die laaste paartjie wat in hegtenis geneem is nie in die eerste plek belangrike inligtin op die tafel kom sit nie.

JAAA EN.... ·

Jaaaa “Van Niekerk egpaar” Bruno….. Maak dit enige verskil aan die erns van die saak???

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.