Mooinooi-vroue: ‘Verdediging gebruik uitsteltaktiek’

Lede van die publiek in die hof waar die agt verdagtes verskyn (25 Januarie 2018). Foto: Phillip Bruwer/Maroela Media

Die borgtogaansoek van ʼn derde beskuldigde wat teregstaan in verband met die verdwyning van en vermoedelike moord op Anisha (30) en Joey (32) van Niekerk van Mooinooi is Donderdag tydelik in die Brits-landdroshof uitgestel aangesien sy regsverteenwoordiger nog vir dokumentasie van sy familie af wag.

Ofentse Raikane, die beskuldigde se regsverteenwoordiger, het aan die hof gesê hy wag nog onder meer vir sy kliënt se geboortesertifikaat.

“Ons het al die dokumentasie by sy familie aangevra en wag nog daarvoor. Ons wil nie die aansoek laat vaar nie, ons vra net dat die res van die beskuldigdes se aansoeke aangehoor word en sal met sy aansoek voortgaan sodra ons die dokumentasie kry,” het Raikane gesê.

Daar was tydens die beskuldigde se vorige verskyning onduidelikheid oor sy ouderdom en daar is aanvanklik vermoed hy is minderjarig. Staatsaanklaer Christine Molautsi het egter later gesê daar is vasgestel dat hy nié minderjarig is nie.

Molautsi het Donderdag beswaar gemaak teen die verdediging se aansoek en dit as uitsteltaktiek beskryf. “Die staat is in besit van genoeg bewyse, onder meer dat hierdie beskuldigde ʼn buitelander is. Dit is nie nodig om vir nog dokumentasie te wag nie,” het sy gesê.

Landdros Semakuleng Thamage het egter die verdediging se aansoek toegestaan en voortgegaan met beskuldigde no. 4 se aansoek.

Ses mans en twee vroue, onderskeidelik 18 en 21 jaar oud, staan tereg op aanklagte van sameswering tot moord, moord, ontvoering, verkragting, roof met verswarende omstandighede en huisbraak met die bedoeling om te steel.

Die agt beskuldigdes se name word weerhou aangesien daar ʼn klag van verkragting ondersoek word en hulle dus eers in die hof moet pleit.

Joey en Anisha is op 10 Desember omstreeks 07:30 die laaste keer in die Mooinooi-omgewing gesien waar hulle saam op ʼn kleinhoewe gewoon het. Hulle was op pad na Pretoria om Joey se pa se roudiens by te woon, maar het nie hul eindbestemming bereik nie.

Hul uitgebrande Nissan X-Trail-sportnutsvoertuig is later in die Magaliesburg-omgewing gevind. Weke later is verbrande beendere gevind wat die polisie vermoed moontlik die oorskot van Anisha en Joey kan wees. Die beendere is vir DNS-toetse gestuur om die oorsprong daarvan te bevestig.

Die borgtogaansoeke duur voort.  Die borgtogaansoeke word as ʼn skedule 6-misdryf aangehoor wat beteken die beskuldigdes moet buitengewone omstandighede bewys waarom hulle op borgtog vrygelaat kan word.

Die hofverrigtinge duur voort.

Lees alle vorige berigte oor Joey en Anisha van Niekerk op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Siek en sat ·

Wanneer gaan die rompslomp nou begin? Waars die vroue ? Geen borg asb.

feite ·

stem saam siek en sat, elke artikel wat nou geplaas word is dieselfde ou storie en geen vordering

Pikkie ·

Ek kan net nie verstaan hoe ‘n mens so iemand kan verdedig nie? Ek weet dis die persoon se werk en hulle is seker baie goed, maar sjoe, soos hulle sê “use your powers for good, not evil” Hierdie storie is ongelooflik hartseer. Mens kan nie GLO dat iemand so siek kan wees.

Bokram ·

mense sal enigeiets doen vir geld,hulle sal tot die duiwel verdedig vir geld.

Theresa B ·

Ek staan 100% saam met jou Pikkie. As jy sulke vreeslike goed doen – hoe kan jy net aangaan met jou lewe asof niks fout is nie??!!

wilma ·

Mos nie so moielik om ouderdom uit te vind nie! Gaan binnelandse sake toe!!!

Christine ·

Ek is ook ‘n Ma met twee pragtige dogters, hierdie twee pragtige mensies is hulle lewens reg ontneem, ek kan nie glo dat daar nog oorweeg word vir borg tog nie!! Ek se ook geen borgtog

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.