Mooinooi-vroue: Verhoor begin in 2019

Koos Strydom en een van die Mosambiekse broers tydens ‘n vorige hofverskyning. Foto: Maroela Media

Die vyf mense wat daarvan beskuldig word dat hulle ʼn egpaar van Mooinooi in Noordwes vermoor het, sal in Maart in die hooggeregshof in Pretoria verhoor word.

Koos Strydom (52), sy vrou Mercia Strydom (22), Alex Modau (36) en twee Mosambiekse broers, onderskeidelik 18 en 25 jaar oud, het Donderdag weer vlugtig in die Brits-landdroshof verskyn. Die verhoordatum in die hooggeregshof is vasgestel vir 11 Maart 2019.

Die vyf beskuldigdes staan tereg vir die ontvoering en moord op Anisha (30) en Joey (32) van Niekerk in Desember verlede jaar. Die twee Mosambiekers staan ook tereg op aanklag van verkragting en hul name kan daarom nie genoem word voordat hulle gepleit het nie.

Agt mense is aanvanklik aangekla vir die moord op die Van Niekerk-egpaar, maar aanklagte teen Maroeca Opperman, Moses Rakubu en Vincent Strydom is verlede maand teruggetrek.

In die akte van beskuldiging voer die staat aan dat Koos Strydom die baasbrein agter die Van Niekerk-egpaar se moord was. Volgens die staat het Koos ʼn winkel op Joey en Anisha se kleinhoewe gehuur. Hy wou die kleinhoewe by die vroue koop en het ʼn koopkontrak laat optrek.

Van links is Mercia Strydom, Alex Modau en Koos Strydom tussen die twee Mosambiekse broers wie se identiteite weerhou moet word. Foto: Mia Spies/eNuus

Die staat voer aan Koos het besluit dat Anisha gedwing moes word om die koopkontrak te onderteken. “Die beskuldigde se voorneme was dat albei die oorledenes vermoor sal word nadat die kontrak geteken is. Die beskuldigde het die ander beskuldigdes vir hierdie doel genader om hom te help,” lui die akte.

Op 10 Desember verlede jaar het Joey en Anisha na Koos se plaas gegaan. Hier is Anisha volgens die staat gedwing om die kontrak te teken voordat die twee vroue “brutaal aangerand en uiteindelik vermoor is”.

Die vroue se uitgebrande motor is op 16 Desember in die Magaliesburg-omgewing, aangetref.

Die twee Mosambiekse broers, Modau en Koos is tans in aanhouding, terwyl Mercia vroeër op borgtog van R20 000 vrygelaat is.

Koos en een van die Mosambiekse broers staan ook tereg vir die moord op Mandie Jansen van Rensburg, wat in Junie 2014 doodgeskiet is in ʼn voorval wat aanvanklik as ʼn plaasaanval bestempel is. Strydom en sy medebeskuldigde het onskuldig gepleit op die aanklagte teen hulle.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Gesiggie ·

Hierdie saak vat nou al so lank?? hierdie familie moet berusting kry? hul het hierdie 2 meisies wreed vermoor, hoekom word die 2 Mosambiekse ouens se gesigte nie gewys??? as hul betrokke was, hoekom moet hul identiteite weerhou word??? ek wens die saak wil tot einde kom, en dat die Moordenaars lank gaan boet vir wat hul gedoen het… hoe slaap so n mens .. oh ja ek het vergeet, hul het nie so iets soos n gewete… die waarheid moet uit…

Sarel Strydom ·

Wel nou binnekort begin die saak in die Hoogeregshof. Kom ons kyk.hoeveel keer die saak uitgestel sal word.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.