Mooinooi-vroue: Vyfde verdagte in hof

Joey en Anisha van Niekerk (Foto: Facebook)

ʼn Vyfde verdagte het Woensdag in die Brits-landdroshof in Noordwes verskyn in verband met die verdwyning van Joey en Anisha van Niekerk van Mooinooi.

Ao. Mpeile Talane, woordvoerder van die polisie, het aan Maroela Media bevestig Moses Rakubu (33) het vlugtig ʼn verskyning in die hof gemaak waarna die saak uitgestel is. Rakubu sal weer op 5 Januarie 2018 saam met sy vier medebeskuldigdes in die hof verskyn.

Maroela Media het vroeër berig Aaron Sithole (23), Koos Strydom (53), Alex Mudau (36) en ʼn vierde verdagte het reeds in die hof verskyn op aanklagte van moord, ontvoering, roof, die onwettige besit van ʼn vuurwapen en dwarsboming van die gereg. Die vierde verdagte se naam word weerhou omdat daar tans onsekerheid is of hy minderjarig is of nie.

Die vyf mans word aangekla in verband met die verdwyning van Joey (32) en Anisha (30) wat op 10 Desember omstreeks 07:30 vir die laaste keer in die Mooinooi-omgewing gesien waar hulle saam op ʼn kleinhoewe woon. Hulle was op pad na Pretoria om Joey se pa se roudiens by te woon, maar is sedertdien nie weer gesien nie.

Hul uitgebrande Nissan X-Trail-sportnutsvoertuig is later in die Magaliesburg-omgewing gevind. Daar was egter geen teken van die vroue nie.

Die polisie wou sedertdien nie bekendmaak waarom die vyf verdagtes op aanklagte van moord tereg staan indien die twee vroue se liggame nie gevind is nie. Talane het Woensdag gesê die polisie se soektog na die vroue gaan steeds onverpoosd voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

My mening ·

Daar sit meer, héélwat meer, agter hierdie gebeure. Ek glo dat die skroewe stadig maar seker vaster en vaster aangedraai word. Dit gee my die idee dat daar nog SAPD-lede is wat weet hoé . . .

Cornelius du Rand ·

My mening is seker in die ouetehuis en kom nie met SAPS in aanraking nie. Ek doen wel en in my opinie is hulle almal onbevoeg. Die meeste mense meld nie eers misdaad aan nie want jy mors net jou tyd.

My mening ·

Nee Kerneels, nie in die ouetehuis, ook nie siniel en bly ook nie by die kinders of in ‘n woonstelletjie maar alleen in my huis waar ek alles self behartig sonder enige hulp. Kom ons kyk wat hier uitbroei want dalk, net dalk, is daar nog ‘n bekwame polisieman hier aan die stuur van sake. Ek dink ons weet net van die ysberg se punt(jie) oftewel die snoet vd seekoei. Ek glo dat hulle nie net al gepraat het by hierdie tyd, ook nie net gesing het by hierdie tyd maar dat hulle tans dans vir ‘n vale.

Moeg vir SA ·

Vyf verdagtes vasgetrek en in hof verskyn!!!Hoe weet hulle dan nog nie waar die twee mense is nie???

Moeg vir SA ·

Ek verstaan nie mooi nie.Vyf verdagtes vasgetrek en in hof verskyn!!!Hoe weet hulle dan nog nie waar die twee mense is nie???

HB ·

Gaan my verstand ook te bowe. Een van die 5 moet kan inligting verskaf….. Hier is ‘n slang in die gras.. ?

Liesl ·

Op SABC 2 se nuus het hulle vanaand gese dat beendere gevind is en hulle is besig met DNA toetse om vas te stel of dit dalk die twee vroue kan wees. Ek volg die storie met n valkoog al ken ek hulle nie. Indien dit wel hulle beendere is kan dit seker berusting by die familie bring, maar ek bid nog elke dag dat hul lewend gevind sal word. Is dit te veel om op n wonderwerk te hoop? Twee pragtige vroue.

Chilli ·

Elke nou en dan kom loer ek ook net in op MM om te sien hoe ver die wereld gedaal het in die ure wat ek nie doenig was op die internet nie en ELKE KEER slaat my brein bolmakiesie as ek die twee pragmense se fotos sien. Die skrywe is duidelik teen die muur maar dit sal nóg n skok wees om dit te lees. Mag die saak nou rigting kry want hoeveel meer kan die families en vriende verduur??? Hoekom sal die slange nie praat nie? Meer as tronkstraf kan hulle tog nie kry in SA nie en as die vervloeksels hulle gedra is hul nog voor die seer oor is, weer in die samelewing. Ohhhh ek voel verbitterlik hartseer vir die mense van die 2 vroue.

Bossie ·

Hier kom ‘n GROOT storie. Gee asb die polisie kans om hul werk te doen. Dankie aan almal wat so hard werk om die saak op te los. Sterkte weereens aan die familie. Mag daar altyd hoop bly dat hierdie pragtige vroue lewend gevind word. Ons bid vir julle almal.

Anell de Beer ·

Ek kon nie my oë glo toe ek Joey se gesig op Tv as vermis sien nie, en dit was eers 27ste wat ek dit sien. Was saam op hoërskool en sy het ook ‘n rukkie saam my gewerk by Solidariteit. Ek bid dat hulle gevind word. Ek kyk uit vir enige nuwe nuus. Dankie vir almal se harde werk om ons op hoogte van sake te hou. Waardeer dit baie!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.