Mooinooisaak: ‘Hulle is verkrag, vermoor, verbrand’

Die agt verdagtes Dinsdag in die Brits-landdroshof. Foto: Phillip Bruwer

Die ondersoekbeampte in die saak rakende die verdwyning en moontlike moord op Anisha (30) en Joey (32) van Niekerk van Mooinooi, het Dinsdag in die Brits-landdroshof begin getuig.

Ses mans en twee vroue, onderskeidelik 18 en 21 jaar oud, staan tereg op aanklagte van sameswering tot moord, moord, ontvoering, verkragting, roof met verswarende omstandighede en huisbraak met die bedoeling om te steel.

Al die beskuldigdes het tydens hul borgtogaansoeke aangedui hulle gaan onskuldig pleit op al die aanklagte teen hulle. Hul name word weerhou aangesien daar ʼn klag van verkragting ondersoek word en hulle dus eers tydens hul verhoor in die hof moet pleit. Die borgtogaansoeke word as ʼn skedule 6-misdryf aangehoor, wat beteken die beskuldigdes moet buitengewone omstandighede bewys waarom hulle op borgtog vrygelaat kan word.

Staatsaanklaer Christine Molautsi het die staat se tweede getuie, kol. Isaac Tlhapi, verbonde aan die Mooinooi-polisie, geroep om te getuig om die beskuldigdes se borgtogaansoek teen te staan.

Die skeepsvraghouer waar Joey en Anisha van Niekerk glo ure aaneen gemartel en verkrag is. Foto: Mia Spies / eNuus

“Gee die hof ʼn kort opsomming hoekom u die aansoeke teenstaan,” het Molautsi gevra. “Dit is ʼn baie ernstige saak wat vooraf beplan was en waarby vuurwapens gebruik is. Dit is ʼn ernstige saak wat kan lei tot lewenslange tronkstraf as die beskuldigdes skuldig bevind word,” het Tlhapi geantwoord.

“Twee slagoffers is vermoor deur mense wat aan hulle bekend was. Hulle is deur een van die beskuldigdes in wie hulle vertroue gehad het, in ʼn lokval ingelei. Hulle is verkrag, vermoor en verbrand.” Molautsi het die hof daarop attent gemaak dat al dié stellings in dié stadium slegs bewerings is. “Wie het na bewering al hierdie dade gedoen?” Tlhapi het geantwoord die polisie het getuies en bewyse wat die agt beskuldigdes met die misdrywe verbind.

Tlhapi het sommige van die beskuldigdes se bewerings ontken dat polisiebeamptes hulle in sy teenwoordigheid aangerand het. “Ek is baie streng met my lede daaroor om nie verdagtes aan te rand nie, aangesien verdagtes neigings het om valse klagtes van aanranding deur lede te maak.”

Tlhapi het getuig die beskuldigdes het ook besoekers gehad, waartydens hulle ook geen melding van die beweerde aanrandings aan hul besoekers gemaak het nie.

Tlhapi het voor die hof vir middagete verdaag het getuig die beskuldigdes moet nie borgtog kry nie, want hulle sal met die ondersoek inmeng, met bewyse peuter en met getuies inmeng. Hy het gesê van die beskuldigdes is hieraan aandadig nadat hulle die twee vroue se liggame verbrand en van die beendere ontslae probeer raak het.

Hy het gesê nóg bewyse hiervan is dat die polisie op drie geleenthede selfone in die beskuldigdes se besit gevind het terwyl hulle in aanhouding was. “My kollegas het een keer die selle deursoek en twee selfone gevind. Daarna het ek op twee geleenthede ʼn soektog gelei en weer op twee selfone afgekom.”

Die selfone is na die polisie se forensiese kantoor gestuur om vas te stel waarvoor die selfone gebruik is en om die boodskappe en foto’s daarop as bewyse in te samel en in die ondersoek te gebruik. Tlhapi het nog ʼn rede aangevoer waarom die beskuldigdes nie borgtog toegestaan moet word nie.

Joey en Anisha van Niekerk (Foto: Facebook)

“Ek het hulle al op verskeie geleenthede ondervra en sommiges van hulle impliseer en beskuldig mekaar. Dit wys my net as hulle op borgtog vrygelaat word, hulle mekaar gaan doodmaak. Hulle is te bang om by die hof met hul regsverteenwoordigers oor die ander medebeskuldigdes te praat,” het hy gesê.

Joey en Anisha is op 10 Desember omstreeks 07:30 die laaste keer in die Mooinooi-omgewing gesien waar hulle saam op ʼn kleinhoewe gewoon het. Hulle was op pad na Pretoria om Joey se pa se roudiens by te woon, maar het nie hul eindbestemming bereik nie.

Hul uitgebrande Nissan X-Trail-sportnutsvoertuig is later in die Magaliesburg-omgewing gevind. Weke later is verbrande beendere gevind wat die polisie vermoed moontlik die oorskot van Anisha en Joey kan wees. Die beendere is vir DNS-toetse gestuur om die oorsprong daarvan te bevestig. Die uitslae van die toetse is nog nie bekend nie en daar is nog nie ʼn aanduiding van wanneer dit gereed sal wees nie.

Lees alle vorige berigte oor Joey en Anisha van Niekerk op Maroela Media.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

fm ·

Ek hoop dat hierdie mense gestraf sal word en dat geregtigheid sal geskied. Om mense wat jou ken en vertrou in ‘n lokaval in te lei en dan te verkrag, wreedaardig te vermoor en dan te verbrand is ondenkbaar onmenslik. Hoe kan mense sulke goed aan ander mense doen.

VanAfrika ·

n Mens moet koelbloeding wees as jy iemand kan verkrag, mishandel en dan aan hul hande laat hang tot hulle nie meer kan nie. Hoe gaan so iemand huis toe in die aand na n sessie mishandeling teenoor die vroue en met die wete dat hulle deur die nag aan hul arms hang, in die stik donkerte. Geen kos en water, dors en hongerpyne en baie, baie bang en seer en dalk gebreekte bene waarvoor hulle nie eens behandeling kon vra nie. Hulle was nie kans gegun om rond te loop, mekaar vas te hou, te lê en sit soos hulle wou nie en mekaar moed in te praat nie. Verstaan net daardie vrese as hulle voetstappe hoor en dan word die deur opgesluit met dalk kettings of groot slotte sodat hulle nie kon ontsnap nie. En dat hulle so graag hulle familie weer sou wou sien. Weer die binnekant van hul huis en bed ervaar en om moreoggend weer te kan wakker word om werk toe te kan gaan. Nee a, laat almal maar hul straf kry, hulle moet dit nie eers uitdien vir parool nie, sluit hulle toe vir lewenslank.

LB S ·

Hoeveel haat moet daar in hierdie baasbrein se hart wees. KAN ‘n mens so haatlik wees?

christa ·

almal van hulle. gevoellose skurke wat ons samelewing kan kaarkom mee

Gesiggie ·

Hierdie saak moet nou iets oplewer… hierdie Familie van Joey en Anisha gaan deur hel…. tussen 6 mans en 2 vrouens moet die waarheid kan uitkom…. en ek stem saam Tlhapi.. geen borg, laat hul sit…. hierdie meisies is op n wreede manier dood gemaak….

barend ·

dit is nie n skeeps vrag houer nie .a.s.b dit is n koelkamer wat agter op n vragmotor pas

Jax ·

Wat de ongeluk het dit met die prys van eiers uit te waai???? Wat maak dit nou saak in wat dit is???? Dis mos nie waaroor dit gaan nie is dit????

Riouna Martin ·

Die saak draai te lank. Ek wonder net hoe lank nog! Ek kry die gevoel daar is geen bewyse teen beskuldiges nie. En dat die saak stil stil onder die mat gevee gaan word
Wat gaan gebeur?

Rupert Ashford ·

Ek dink die probleem is dit is omstandigheidsgetuienis. Daar is nie liggame om enige beserings (moord?) of verkragting te bewys nie so die staat maak staat daarop dat die spul teen mekaar sal begin getuig in ruil vir ligter vonnisse, maar die aanklagte is so erg dat ligter vonnisse seker so 15 to 20 jaar sal wees ipv lewenslank, en lewenslank in SA is in elk geval 15 – 20 jaar so daar is nie regtig iets om te baat by staatsgetuie word nie. En ek dink om 15 tot 20 jaar in SA tronke te sit is in elk geval ‘n doodsvonnis.

cassie ·

Ek kan nie verstaan hoekom vat die D N S toetse so lank nie.Kan iemand vir my verduidelik.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.