Moontlike afleggings by Cell C

cell cCell C het begin om sommige van sy werknemers in te lig dat hulle moontlik afgelê gaan word, aangesien die maatskappy met ’n herstruktureringsproses in sy kommersiële afdeling begin het.

Altesaam 190 van die maatskappy se 1 458 werknemers kan moontlik hierdeur geraak word.

Die vakbond Solidariteit het Vrydag gesê hy sal sy lede by Cell C verteenwoordig om die impak van die afleggingsproses te verlaag.

In die afleggingskennisgewings aan sy werknemers meld Cell C dat hy beplan om die proses teen 31 Januarie 2015 af te handel. Die maatskappy noem die moontlikheid van skeidingsvergoeding wat een week se salaris vir elke jaar van diens bedra. Die maatskappy meld ook dat daar in hierdie stadium baie min vakante poste binne die maatskappy bestaan waarvoor die betrokke werknemers aansoek kan doen.

Volgens Linda Senekal, Solidariteit se organiseerder in die telekommunikasiebedryf, sal Solidariteit alles in sy vermoë doen om die impak van die afleggingsproses op sy lede te beperk. “Ons is veral besorg oor die emosionele impak van afleggings op ons lede. Ons rou nog steeds oor die tragiese verlies van een van ons lede by Cell C, André Ankiewicz, wat in Mei 2012 selfmoord gepleeg het nadat hy ’n afleggingskennisgewing van Cell C ontvang het,” het Senekal gesê.

“Ankiewicz se tragiese dood toon hoe traumaties afleggings kan wees. Ons doen daarom ’n beroep op Cell C om die korrekte prosedures te volg en om sensitief te wees vir die emosionele impak wat die proses op werknemers het. Afleggings behoort altyd die laaste uitweg te wees en behoort slegs gebruik te word as die maatskappy se oorlewing in ’n akute mate op die spel is,” het Senekal gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Drieks ·

Ons land vergaan onder werkloosheid. Waar gaan hierdie mense werk kry. Wie gaan Suid Afrika se ekonomie weer reg kry??? zuma? malema? china? rusland?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.