Moontlike botsing van belange in Senzo Meyiwa-saak

Senzo Meyiwa. (Foto: soccerladuma.co.za)

Dit is byna agt jaar sedert die moord op die voormalige Bafana Bafana-kaptein Senzo Meyiwa en die saak sloer steeds.

Vier van die vyf beskuldigdes het nou boonop van regsverteenwoordiger verander.

Dié regsverteenwoordiger is egter dieselfde persoon wat namens ’n familielid van Meyiwa optree.

Muzikawukhulelwa Sibiya, Bongani Sandiso Ntanzi, Mthobisi Prince Mncube en Mthokoziseni Maphisa het Donderdag in die Palm Ridge-landdroshof tydens die voorverhoorverrigtinge aangedui dat hulle adv. Malesela Teffo aangestel het om hulle te verdedig.

Teffo het egter ook ’n waaksaamheidsopdrag in die saak namens Meyiwa se broer, Sifiso Meyiwa.

Die beskuldigde Mthobisi Prince Mncube tydens ‘n vorige verskyning in die hof. (Foto: Verskaf)

AfriForum se privaatvervolgingseenheid, wat tans ’n waaksaamheidsopdrag het namens Meyiwa se ma, Ntombifuthi, en susters Zama en Nomalanga Meyiwa, sê hy vind dit vreemd.

“Ons stem saam met die staatsadvokaat, George Baloi, dat daar waarskynlik ’n botsing van belange is en ons grootste bekommernis is dat die skielike verandering van verteenwoordiging die saak waarskynlik nog verder sal vertraag,” sê adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se privaatvervolgingseenheid.

Die betrokke beskuldigdes het boonop aangedui dat hulle ’n spesiale pleit gaan opper.

Sibiya, Ntanzi, Mncube en Maphisa staan saam met SifikuhleNkani Ntuli Sifiso tereg op aanklag van moord, poging tot moord, gewapende roof, die besit van vuurwapens sonder ’n lisensie en die besit van ammunisie.

Meyiwa is op die aand van 26 Oktober 2014 by sy vriendin, die sangeres Kelly Khumalo, se ma se huis in Vosloorus doodgeskiet.

Twee mense het dié betrokke aand by die huis, waar verskeie ander mense teenwoordig was, ingebars. Hulle was gewapen met ʼn vuurwapen en ʼn mes en het geld en selfone geëis.

Die beweerde baasbrein in die moord op Meyiwa is tot op hede nog nie aangekla nie.

AfriForum se privaatvervolgingseenheid het egter vroeër aangedui dat daar genoeg bewyse is om die baasbrein te vervolg vir wat die eenheid glo ’n huurmoord was.

  • Lees al Maroela Media se berigte oor die moord op Meyiwa hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Hennie J ·

Baie vreemde situasie. Iemand probeer die saak verongeluk en ek dink die vlinder na wie verwys is in die verlede, het n groot hand in die saak.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.