Moontlike ‘diefstalsindikaat’ oopgevlek

‘n Argieffoto ter illustrasie van ‘n selfoontoring. (Foto: Pixabay)

Drie verdagtes is vandeesweek in KwaZulu-Natal hegtenis geneem nadat hulle met vermoedelik gesteelde selfoontoringbatterye betrap is. Daar word vermoed dat die verdagtes betrokke is by ’n diefstalsindikaat wat dié batterye steel.

Andrea Naicker, woordvoerder van die Valke, sê in ’n verklaring die verdagtes is Dinsdag op die N2 in die omgewing van Port Shepstone in hegtenis geneem.

Dit volg nadat die Valke inligting ontvang het van ’n bakkie met verskeie selfoontoringbatterye. Die voertuig is later in die omgewing van Hibberdene opgespoor, waar vyf verdagtes die batterye by ’n skrootwerf afgelaai het.

Twee van die verdagtes het by die polisie se aankoms op die toneel laat spaander. Drie van die verdagtes, tussen die ouderdomme van 26 en 35 jaar oud, is egter op die plek in hegtenis geneem.

Volgens Naicker is daar tydens die inhegtenisneming beslag gelê op altesaam 48 batterye. Dié batterye het ’n beraamde waarde van R480 000.

Daar is ook vasgestel dat die bakkie voorheen as gesteel aangemeld is, en dié voertuig is ingesleep.

Maroela Media het vroeër vandeesweek berig dat soveel as 13 450 batterye verlede jaar uit MTN se selfoontorings reg oor die land gesteel is. Altesaam 2 000 voorvalle is tussen Januarie en Desember aangemeld. Sowat 112 voorvalle van batterydiefstal en ʼn totaal van 703 gesteelde batterye is reeds vanjaar aangemeld.

Johannesburg, Pretoria, Germiston, Vereeniging, Soweto en Ruimsig in Gauteng sowel as plekke in provinsies soos Noordwes, die Wes-Kaap, KwaZulu-Natal en die Oos-Kaap het in Januarie die meeste onder batterydiefstal deurgeloop.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Cherokee ·

Moontlike ‘diefstalsindikaat’ oopgevlek? Ek hoop julle is nie ernstig met die bewering dat daar diefstalsindikate is in die land nie… en dan boonop in KZN!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.