Moontlike koronavirus-geval in Botswana ondersoek

‘n Hospitaalwerker in China berei ‘n kwarantynsaal vir ‘n pasiënt voor. (Foto: ANI)

Botswana se departement van gesondheid sê ʼn moontlike geval van die gevreesde koronavirus word ondersoek.

Die departement sê die pasiënt het met Ethiopian Airlines na die Sir Seretse Khama- internasionale lughawe gereis en het Donderdag in die land aangekom.

Die persoon word steeds in afsondering in ʼn hospitaal behandel.

Die koronavirus het reeds meer as 200 lewens geëis met meer as 9 600 bevestigde gevalle wat net in China aangemeld is.

Volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) is daar reeds 83 gevalle in 18 ander lande aangemeld. In slegs sewe van die gevalle het die persone nie na China gereis nie.

Die WGO het intussen die virus tot ʼn internasionale noodtoestand verklaar.

Zweli Mkhize, Suid-Afrika se minister van gesondheid, het Vrydagoggend weer die media toegespreek nadat die WGO die aankondiging gedoen het. Mkhize het die besluit verwelkom en gesê dit stel ʼn raamwerk daar om te verseker dat daar gesamentlike multinasionale samewerking is om die verspreiding van die virus hok te slaan.

Mkhize het ook weer benadruk dat daar, ten spyte van tientalle gerugte, geen gevalle van die virus in Suid-Afrika aangemeld is nie.

Die koronavirus, oftewel 2019-nCoV, is ʼn nuwe stam wat nog nie vantevore in mense geïdentifiseer is nie.

Die Outomobiel-Assosiasie (AA) het veral internasionale reisigers Vrydag in ʼn reiswaarskuwing gemaan enige verkouesimptome so gou moontlik aan te meld en dringend mediese hulp te kry as die simptome vererger. Hy sê daar is in dié stadium geen rede tot paniek nie.

“Suid-Afrikaners wat na internasionale bestemmings reis en diegene wat tydens vlugte moet oorstaan op internasionale lughawens, loop ʼn risiko en moet voorsorgmaatreëls tref. Volgens die WHO sluit simptome van die virus koors en moeilike asemhaling in. Enige van dié simptome moet dadelik by ʼn gesondheidsorgwerker aangemeld word, veral as die persoon ʼn internasionale reis onderneem het,” sê die organisasie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

netekalleen ·

Hoe presies gaan ons regering die ding fight as hulle nie eers ons krag kan aanhou nie??????

Juffie ·

Destyds met die Listeriose uitbraak het hulle dit ook ontken….

Jr ·

Hier in Suid Afrika gaan ons die ” volstruis detection proses ” gebruik om dit op te spoor. Dit is n beproefde metode met SOE’s. Dit werk so – jy sit jou kop onder jou govt dept vlerk en as die govt dit nie kan sien kan die virus hulle nie sien of dreig nie. Dan as dit bevestig word dan sê jy net in Engels – I AM SHOCKED – NO ONE INFORMED ME. En dan blameer jy Pravin

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.