Moontlike koronavirus-geval ook in Namibië dopgehou

Tientalle winkels in Langfang, China, bly gesluit weens vrese dat die koronavirus verder kan versprei. Die winkels is in opdrag van die regering gesluit.

Namibië se minister van gesondheid, Kalumbi Shangula, het bevestig dat ʼn pasiënt in ʼn hospitaal op Swakopmund moontlik die koronavirus onder lede het, maar het benadruk dat dit nog nié bevestig is nie.

The Namibian berig Shangula het gesê die pasiënt is ʼn 30-jarige vrou wat na Sydney, Australië, gereis het en Namibië deur die Hosea Kutako- internasionale lughawe binnegekom het. Sy is daar ondersoek en toegelaat om verder te reis.

Die vrou het eers in Khomasdal in Windhoek oorgebly en daarna na Swakopmund gereis. Sy het daar by ʼn hospitaal aangemeld en gekla oor kopseer, ʼn loopneus en hoes, maar het geen koors gehad nie.

“Volgens die pasiënt was sy op ʼn vlug saam met Chinese wat maskers gedra en gehoes het,” het Shangula aan The Namibian gesê.

Sy is daarna in kwarantyn geplaas, hangende die uitslag van toetse. Twee verpleërs wat na die vrou omgesien het, is ook in afsondering geplaas.

Pasiënte wat saam met haar in die tou gewag het om gehelp te word, is oor simptome ingelig en aangesê om tuis in afsondering te bly. Hulle is ook gevra om by ʼn gesondheidsfasiliteit hulp te soek sou hulle enige simptome toon.

Ben Namgombe, hoof van Namibië se departement van gesondheid, het vroeër al bevestig besoekers aan Namibië word by grensposte nagegaan en gesif as moontlike draers van die koronavirus.

ʼn Kwarantynsaal vir moontlike koronavirus-slagoffers is ook by die Windhoek Sentrale Hospitaal ingerig.

Botswana het intussen die naweek bevestig hou monitor vyf pasiënte wat moontlik die virus onder lede kan hê.

Geen gevalle is tot dusver in Suid-Afrika aangemeld nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Anel ·

Ons sal seker nooit regtig weet of die virus by.ons is nie. Ons gesondheidstelsel is in elke geval so op die koffie, hulle sal nie eers weet hulle het met die virus te doen nie al is daar mense siek.

Africangrey ·

Hulle sal weet, daar is n spesiale toets wat gedoen word

Charmain ·

Ja nee ek kan nie glo dat daar nog geen geval in SA aangeteken is nie, inagenome die hoeveelheid Chinese in SA…hierdie is net so n groot toesmeer veldtog soos listeriose.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.