Moontlike korrupsie by Stad Johannesburg oopgevlek

Johannesburg (Foto: Stad Johannesburg)

Die burgerregteorganisasie AfriForum het Donderdag strafregtelike klagte van korrupsie teen die Stad Johannesburg en tersaaklike verskaffers ingedien nadat ’n interne ouditverslag van die stadsraad aan AfriForum se private vervolgingseenheid gestuur is.

Die ouditverslag het ongerymdhede met betrekking tot die Stad Johannesburg se aanskaf van Covid-19-toerusting en -dienste aan die lig gebring.

Monique Taute, hoof van AfriForum se teenkorrupsie-eenheid, sê die nasionale tesourie het op 19 Maart nadat die ramptoestand aangekondig is, ’n omsendbrief uitgereik rakende die aanskaffing van Covid-19-noodtoerusting en -dienste.

Luidens die omsendbrief kon munisipaliteite kwotasies van verskaffers aanvra vir hierdie toerusting en of dienste mits dit aan die departement van gesondheid se voorskrifte voldoen, die pryse nie hoër as ’n sekere bedrag is nie en die verskaffer op die sentrale verskafferdatabasis geregistreer is.

Die Stad Johannesburg het egter glo tussen 15 en 31 Maart 2020 byna R80 miljoen spandeer wat volgens die interne oudit ’n growwe oortreding van verskeie wette en regulasies inhou.

“Maatskappye wat byvoorbeeld in voertuigremme spesialiseer het na bewering in dié tydperk betaling ontvang vir die verskaffing van mediese noodtoerusting.”

Die Stad Johannesburg het ook die maatskappy Omphile Turnkey Solutions, wat volgens sy webtuiste in binnenshuise versiering en argitektuur spesialiseer, meer as R4,6 miljoen betaal vir diepreiniging en sanitasie.

Die maatskappy KM Mashigo Trading, wat volgens sy webtuiste ingenieursdienste bied, het op sy beurt R3,5 miljoen vir diepreiniging en sanitasie ontvang.

Verdere ondersoek deur AfriForum se private vervolgingseenheid het boonop aan die lig gebring dat die direkteur van Omphile Turnkey Solutions ook ’n werknemer van KM Mashigo Trading is.

Hoewel KM Mashigo Trading slegs een direkteur het, het dié direkteur en die direkteur van Omphile Turnkey Solutions dieselfde kontaknommer én sakeadres. Tog het albei maatskappye kwotasies by die Stad Johannesburg ingedien vir die lewering van dieselfde dienste en later betaling ontvang.

“Dit is verstommend dat die Stad Johannesburg ten spyte van hierdie prima facie-bewyse nog geen strafregtelike stappe teen hierdie individue, asook geïmpliseerde partye in die stadsraad gedoen het nie,” meen Taute.

“Dit blyk dat pres. Cyril Ramaphosa se beloftes oor daadwerklike stappe teen diegene wat korrupsie pleeg tot dusver geen resultate lewer nie. AfriForum as burgerregtewaghond was dus genoodsaak om in te gryp en hierdie klagte te lê.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

6 Kommentare

jongste oudste gewildste
Pappa Beer

Ek hou van die optimistiese opskrif van die berig, “MOONTLIKE korrupsie” , dis nie “moontlik” nie dis BESLIS, die vraag is net presies hoeveel en vir hoe lank al.

Persheks

Cyril het nog steeds nie op getree teenoor enige iemand wat so geskep het nie. Weereens leë beloftes soos altyd. Ek sien klein vissies word gevang, maar nog nie 1 van die regering se mense nie

daniel

Ek dink dat ANC en sy politieke meelopers ewe skuldig is aan korrupsie daarom word niemand ooit vervolg nie. Die land en die belasting betalers is die verloorders.

Andre

Moontlike korrupsie? Wie maak sulke grappies?

Johann

Moontlik? Dis eerder moontlik dat die Tandemuis ‘n rot is. Net soos dit meer moontlik is dat Ramaposa en sy kern korrupte pelle dalk jammer is oor hulle gewetenlose vergrype?