Moontlike manipulasie van Bela-konsultasies ‘kommerwekkend’

Argieffoto (Foto: ArtTower/Pixabay)

Die Federasie vir Suid-Afrikaanse Skolebeheerliggame het Woensdag sy kommer uitgespreek oor tekens van moontlike intimidasie van onderwysers en manipulasie van openbare konsultasieprosesse oor die Bela-wetsontwerp.

Openbare sittings word tans landwyd gehou in ʼn poging om lede van die gemeenskap se insette te kry oor beplande wysigings aan die Skolewet.

“Dit lyk egter nou of amptenare in minstens een onderwysdistrik in die Oos-Vrystaat reeds die proses begin manipuleer deur opdragte aan skole te gee wat teen demokratiese prosesse indruis,” sê dr. Jaco Deacon, uitvoerende hoof van Fedsas.

Deacon sê die Thabo Mofutsanyana-distriksdirekteur het in ’n skrywe opdrag aan skole gegee dat slegs die skoolhoof en beheerliggaamvoorsitter van elke skool die openbare sessie hierdie naweek in Phuthaditjhaba mag bywoon. “Die parlementêre proses is deel van ons demokratiese stelsel van openbare deelname sonder enige beperking. Geen amptenaar, onderwysdistrik of provinsiale onderwysdepartement of enige ander instansie het die reg om te sê wie daar mag of nie mag wees nie.”

Nog ’n punt in die brief wat ’n vraagteken laat hang oor die bybedoelings van die amptenare is ’n opdrag dat skoolhoofde en BL-voorsitters reeds 09:00 die oggend moet aanmeld. Volgens die parlementêre kommunikasie begin die sessies eers om 14:30.

“Fedsas vra dat die parlementêre portefeuljekomitee van hierdie voorval kennis neem en dat die staat dringend dissiplinêr teen die distriksdirekteur optree. Indien Fedsas nie onmiddellike optrede teen die amptenaar sien nie, sal ons aanvaar dat die Vrystaatse onderwysdepartement die optrede steun om die parlementêre proses te omseil.”

Deacon sê dit is nog vroeg in die proses en slegs Limpopo het reeds openbare konsultasies gehad. Die Vrystaatse sessies vind hierdie week van Vrydag tot Sondag plaas.

ʼn Aantal onderwysorganisasies het juis die afgelope week hul ontevredenheid uitgespreek oor die onderwysdepartement se versuim om hulle betyds oor die tyd en plek van openbare sittings in te lig. Van die rolspelers is ook ontevrede omdat die plekke waar van die sittings plaasvind volgens hulle nie “toeganklik vir almal is nie” omdat dit in “afgeleë” gebiede is.

Deacon sê daar is nog tientalle sessies wat landwyd moet plaasvind, en heelwat geleentheid vir soortgelyke inmenging.

“Fedsas doen dus ’n dringende beroep op lede van skoolbeheerliggame, ouers en skoolgemeenskappe om hul stem te laat geld en die sessies by te woon. Fedsas sal ook by elke konsultasiesessie teenwoordig wees.”

Fedsas het reeds verlede jaar ’n volledige voorlegging aan die parlement gedoen. “Hierdie proses is reeds sedert 2017 aan die gang en dit is te verstane dat die publiek dalk al ’n bietjie Bela-voos is. Die volgende paar weke gaan egter deurslaggewend wees en dit is nou burgers van die land se kans om direk aan die demokratiese proses deel te neem,” sê Deacon.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Johann ·

So asof die anargiste hulle steur aan “insette” anders as hul eie mags mal agenda?

Kokerboom ·

ANC leuens: By the people for the people word toe by the ignorant people AGAINST the people ala Sowjet Unie

Heinrich ·

Die ANC betrokke by manipulasie van uitslae en intimidasie van mense? Nooooiiiit….
Hierdie ‘konsultasieprosesse’ is ‘n klug, maar net vir die skyn soos met die grondonteieningswetgewing, net ‘n ongemaklikheid om deur te gaan om in elk geval te doen wat hulle wil.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.