Moontlike oortredings in SAUK-dekking oor VBS ondersoek

SAUK-gebou in Kaapstad Foto: Maroela Media

Die SAUK het stappe gedoen om te bepaal of daar moontlik ʼn oortreding van sy redaksionele kode was met betrekking tot die uitsaaier se dekking van die VBS Mutual Bank-skandaal.

Die openbare uitsaaier het Saterdag gesê die ondersoek hou verband met die manier waarop die VBS-storie deur die SAUK-kantoor in Polokwane hanteer is.

Neo Momodu, SAUK-woordvoerder, sê in ʼn verklaring die ondersoek is in ooreenstemming met die uitsaaier se nuus- en redaksionele beleid dat onafhanklikheid en onpartydigheid te alle tye gehandhaaf moet word. “Dit is ook om die integriteit en geloofwaardigheid van die SAUK se verskeie nuusprodukte te beskerm deur te verseker dat die inhoud wat verskaf word op feite gebaseer is.”

Momodu het bygevoeg indien die ondersoek aan die lig bring dat daar nie aan die SAUK-nuusdiens se redaksionele beleid voldoen is nie, sal daar beslissend opgetree word. “Enige selektiewe dekking, waargeneem of werklik, hou ʼn gevaar vir die redaksionele karakter van die SAUK se nuushandelsmerk in en daarom kan enige inmenging, intern of ekstern, by redaksionele besluitneming nie geduld word nie.”

Die beriggewing waarna Momodu verwys hou verband met ʼn ondersoek deur adv. Terry Motau ná die ineenstorting van VBS Mutual Bank. Motau het bevind geld wat by die bank gedeponeer is, is wydverspreide gebuit. Die geld was kliënte se spaargeld asook miljoene rande wat deur munisipaliteite gedeponeer is.

Motau se verslag, getiteld “The Great Bank Heist”, wys dat minstens 50 mense sowat R1,89 miljard van die bank ontvang het oor ʼn tydperk van drie jaar sedert Maart 2015. Dit sluit in top-bestuur by die bank se meerderheid aandeelhouers, Vele Investments, hul vennote, bankbestuurders en politici in Limpopo.

Tshifhiwa Matodzi, voorsitter van die bank, het glo R325 miljoen in die sak gesteek, Andile Ramavhunga, VBS se uitvoerende hoof, het glo R28 miljoen gekry, die Vrystaatse Ontwikkelingskorporasie het na bewering R104 miljoen gekry, Kabelo Matsepe, voormalige ANC-jeugligaleier in Limpopo, het glo R35 miljoen in die sak gesteek, Sipho Malaba, voormalige KPMG-vennoot, het glo R33 miljoen gekry en Mpephu Ramabulana, koning van die Vendas, het glo R17 miljoen in die sak gesteek.

Die uitgebreide skema het glo behels dat VBS-direkteure groot fiktiewe deposito’s tot voordeel van Vele Investments geskep het, wat as die grootste aandeelhouer van die bank en sy vennote beskou is. Volgens Motau het hulle hierna op ʼn “massiewe bestedingstog gegaan ten koste van VBS se deponente”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Daan ·

Julle dink dit is ‘n probleem. Dit is net ‘n oefen lopie vir Expropriation Without Compensation. As ons die Groot 5 Banke nasionaliseer. Demokrasie is te kosbaar om dit met die massas te deel.

Sarel ·

Daan, dit klink vir my meer asof daar gesoek word om iets of iemand te blameer vir die een of ander om die aandag van die plundery af te lei .

Alida ·

Dit klink eerder asof hulle wou gehad het die skandaal moes nie uitgelek het nie. Nou weet die wereld. Mooi so kry vir julle.

GES ·

Die skandaal wat uitgelek het, het baie ongemak en verleentheid veroorsaak. Dit kan niks anders wees nie.

Martie ·

Afgesien van die geldvreters see name wat nou bekend is, gaan niemand hulle verdiende loon in die tronk kry nie. n Paar advokate en/of prokureurs gaan wel al die pad bank toe lag.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.