Moontlikhede vir appèl in Sahpra-saak ondersoek

(Argieffoto: Unsplash)

Solidariteit en AfriForum het Donderdag dringende instruksies aan hul regspanne gegee om ʼn appèl-aansoek te ondersoek in verband met hul saak oor die Suid-Afrikaanse Gesondheidsproduktebeheerraad (Sahpra) se voorwaardes vir die goedkeuring van die Johnson & Johnson-entstof se aankope in Suid-Afrika.

Dit volg nadat die Pretoriase hooggeregshof vandag Solidariteit en AfriForum se aansoek weens ʼn beweerde gebrek aan dringendheid van die rol geskrap het.

“Ons is uiters teleurgesteld en stomgeslaan deur vandag se uitspraak. Derhalwe neem ons volle vrymoedigheid om verdere aksies van stapel te stuur met betrekking tot vandag se beslissing,” sê Anton van der Bijl, hoof van regsdienste by Solidariteit.

“Ons is in die middel van die derde golf en derduisende mense toets daagliks positief vir die virus terwyl ons inentingsprogram steeds klaaglik misluk. Hierdie is ʼn saak van uiterse dringendheid. Trouens, dit is ʼn saak van lewe en dood.”

Ernst van Zyl, veldtogbeampte vir strategie en inhoud by AfriForum, sê die uitspraak is skokkend, maar hierdie noodsaaklike geveg is ver van verby. “AfriForum en Solidariteit sal dié stryd om lewens te red voortsit en aanhou veg namens die publiek. Regdeur die inperking het die regering bewys dat korrupsie en onbevoegdheid hoogty vier wanneer hulle ’n monopolie het op Covid-19-verwante beleid en verpligtinge.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.