Moontlikheid ondersoek vir Jhb om self krag te versprei

(Foto: City Power/Twitter)

Eskom en City Power sê in ʼn gesamentlike verklaring hulle het ʼn ooreenkoms aangegaan oor die “moontlike oordrag” van kragverspreiding in Johannesburg.

Die ANC in die Groter Johannesburg-streek het verlede week aangekondig die ANC-geleide metroraad het ʼn ooreenkoms met Eskom aangegaan ingevolge waarvan die stad die verspreiding van elektrisiteit wat Eskom behartig, voortaan self sal oorneem.

Die ANC het toe gesê gemeenskappe van onder meer Soweto, Orange Farm en Ivory Park trek lank reeds aan die korste ent van onbetroubare kragvoorsiening en dat dit ʼn negatiewe uitwerking op dienslewering in Johannesburg het.

Eskom het daarna teruggekap en gesê hy het ʼn memorandum van verstandhouding aangegaan oor hoe ʼn sakemodel vir die voorgestelde oordrag sal werk.

“Enige moontlike transaksie lê nog ver in die toekoms, indien dit ooit in werking gestel word,” het Sikonathi Mantshantsha, Eskom-woordvoerder, verlede week gesê.

“Daar is skuld wat verbruikers aan Eskom moet betaal, daar is infrastruktuur wat die Stad Johannesburg van Eskom moet koop. Daar is infrastruktuur wat in werking gestel moet word deur wie ook al die krag versprei. Benewens dit, moet die tesourie, die departement van minerale en energiesake, die Nasionale Energiereguleerder en die departement van samewerkende regering en tradisionele sake dit goedkeur.”

In die jongste verklaring sê die twee organisasies geen transaksie is nog afgehandel nie en ingevolge voorgeskrewe regulasies moet alle rolspelers deel van die besluitnemingsproses vorm.

Ingevolge die ooreenkoms sal Johannesburg sy eie omsigtigheidsondersoek doen na Eskom se infrastruktuur en bates in die gebied. Dit sluit in Soweto, Orange Farm, Ivory Park, Diepsloot en omliggende gebiede waar Eskom steeds die lisensiehouer vir verspreiding is.

Daar sal onder meer ondersoek ingestel word na die toestand en waarde van die infrastruktuur wat uiteindelik verkoop sal woord, asook na verbruikers se uitstaande skuld aan Eskom.

Indien ʼn ooreenkoms bereik word, sal die betrokke partye die nodige regulatoriese goedkeuring gee en geraakte verbruikers die geleentheid gee om deur ʼn openbare deelnameprosesse hul insette te lewer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Piet parys ·

So maw sal die betalers se rekeninge verhoog word om die nie betalers van Soweto te dra en dan huil hulle nog oor daar nie elektrisiteit voorsiening is nie . Mal maller malste idee dan was eskom sy hande in onskuld . Solar is die antwoord anders gaan daar net meer nie betalers se rekeninge verefen word deur betalers . Gaan maak nou skuld vir solar en tenminste weet jy waarheen jou geld gaan

Hardekwas ·

Hulle verhoog net jou eiendomsbelasting. Jy gaan steeds betaal.

Di ·

O genade – as dit deur die ANC-geleide metroraad oorgeneem word sien ek chaos! ANC het deur en deur bewys dat als wat hulle aan raak verander in gemors. Die rede hoekom daar so baie probleme is met die krag daar is dat meeste van die mense nie hulle rekening betaal nie.

Hardekwas ·

N paar dae terug het Eskom nog gesê dit is n klomp bog en wensdenkery van die anc? Lieg lekker. Die voorheen bevoordeeldes gaan definitief nou vir soweto en alexandra se krag betaal.

Snowball ·

Die ou derm van sosialisme gaan binnekort bars soos hulle hom uitrem, en dan gaan die watsenaam spat, want uiteindelik is dié wat betaal eenvoudig te min om die non-payers te dra. So werk hy maar…

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.