Moord by plaashek ná vier jaar steeds onopgelos

Janus Powell (Foto: Verskaf)

Vandeesweek is dit presies vier jaar sedert die moord op Janus (Boeta) Powell. En sy familie het nog net so min antwoorde soos die dag waarop hul seun, eggenoot en pa by ’n plaashek doodgeskiet en hul lewe in duie gestort het.

Die ondersoek duur voort.

“Ek volg alle inligting wat ek kry dadelik op, maar ek kom elke keer by ’n doodloopstraat,” sê ao. Van Eeden, die ondersoekbeampte in die saak.

Intussen sukkel Powell se familie steeds om berusting te vind.

“Ons sal maar altyd wonder,” sê Powell se ma, Tharina, ná wat sy bestempel as ’n moeilike Paasnaweek.

Powell (37) is gedurende Paasnaweek in 2019 op ’n plaas tussen Hoopstad en Bloemhof doodgeskiet toe hy na die plaashek gery het om mans te ontmoet wat hulle as polisiebeamptes voorgedoen het.

ʼn Swaar gewonde Powell is naby die hek aangetref, nie ver van die liggaam van een van die verdagtes nie.

Powell se ouers het op dié dag, 20 April, by hom, sy vrou, Anemi, en hul toe vierjarige kleinkind op die plaas gekuier. Hulle het gereed gemaak om te braai toe Powell deur die plaaseienaar gebel en gevra is om hek toe te gaan aangesien daar polisiebeamptes by die plaas opgedaag het.

Powell het sy vrou kort daarna gebel en gesê sy pa en ʼn vriend, wat ook daar gekuier het, moet na die hek toe kom.

Janus Powell (Foto: Verskaf)

Dié het met hul aankoms eers op die liggaam van ʼn verdagte, wat vermoedelik deur Powell doodgeskiet is, afgekom. Dié verdagte is voorheen daaraan skuldig bevind dat hy hom as ʼn polisiebeampte voorgedoen het en was ten tyde van die moord ook gesoek in verband met rooftogte en kapings wat in Noordwes en in die Noord-Kaap gepleeg is.

Powell is ʼn ent verder gevind. Hy het in daardie stadium nog geleef, maar is later op die toneel dood.

Maroela Media het twee jaar ná die moord berig dat indien die Vrystaatse polisie standaard ondersoekmetodes ná die moord uitgevoer het, kon die moordenaars glo “binne twee weke” geïdentifiseer gewees het.

Jurg Kruger, ’n private ondersoeker, het destyds aangevoer dat voor die hand liggende bewyse nooit ingesamel is nie. Kruger is egter nie meer by die saak betrokke nie.

Die nuwe private ondersoeker op die saak het vandeesweek aan Maroela Media gesê daar is in ’n stadium ’n verdagte in hegtenis geneem, maar “iemand het die pap op die grond laat val” en die man het verdwyn nadat hy op borgtog vrygelaat is.

“Daar ís ’n man in hegtenis geneem, maar nie op mý saak nie,” het Van Eeden dit egter duidelik gestel toe Maroela Media hom om kommentaar genader het.

“Ons wil net sien dat die skuldiges gevang word en boet vir hulle dade,” sê Tharina te midde van die onduidelikheid.

“Ons bid dat geregtigheid geskied. Die laaste vier jaar was moeilik,” erken sy.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Danie ·

Goeie speurwerk verg nie n wonderwerk ja dalk een maar nie n graad of twee nie.Weens die houding wat die staat teen plaasmoorde het is beslis n probleem en oorsaak.Persoonlike ervaring van polisie optrede op tonele is uiters swak en onbeholpe.Gaan ook nie gou verander of verbeter nie.

anko ·

Dis opvallend hoe minister hoed ander tonele vinnig besoek en werk word daarvan gemaak. Tog plaasmoorde/aanvalle geniet weinig aandag. Dis boere wat kos op ons tafel sit. Miskien verstaan hy nie die konsep van plaas tot winkelrak tot mond nie

Dandeleen ·

Cele kan mense besoek ens ens…. en dan wat, Brendan se ouers was ook besoek, waar is die moordenaars?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.