Moord ondersoek ná plaaswerker ʼn pyldood sterf

Argieffoto (Foto: hbieser, Pixabay)

ʼn Moordklag word nou ondersoek teen ʼn boer van Limpopo nadat ʼn werker in November op ʼn plaas noord van Lephalale (Ellisras) gesterf het toe hy homself glo per ongeluk met ʼn pylgeweer geskiet het.

Brig. Motlafela Mojapelo, woordvoerder van die polisie, het Vrydag bevestig dat die saak van strafbare manslag ná afloop van die polisie se ondersoek na ʼn klag van moord verander is. Die polisie het aanvanklik net ʼn geregtelike doodsondersoek gedoen, maar dit is toe na strafbare manslag verander voordat dit na moord verander is.

Maroela Media het vroeër berig ʼn buffel het uit sy kamp op ʼn plaas in die Saamboubrug-omgewing ontsnap en deur ʼn draad gebreek na ʼn buurman se plaas waar Tineyi Derrick Maringine, ʼn 30-jarige Zimbabwiër, gewerk het. Die 45-jarige eienaar van die buffel en een van sy werkers, ʼn 28-jarige man, is na die buurplaas om na die buffel te gaan soek. Maringine het hom by hulle aangesluit.

Mojapelo het vroeër gesê volgens die boer het Maringine homself na bewering per ongeluk met ʼn pylgeweer geskiet terwyl hulle na die buffel geloop en soek het. “Hy het onmiddellik begin bewe en is na ʼn hospitaal in Polokwane gehaas. Hy het teen 12:00 gesterf, oënskynlik weens die effek van die stof wat gebruik word om die buffel mee te verdoof,” het hy gesê. Die saak is toe by die polisie aangemeld.

Mojapelo kon nie gerugte bevestig dat Maringine glo in sy agterbeen getref is nie.

Mojapelo het gesê die volledige dossier is na die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) gestuur vir beslissing, waarna verdere optrede bepaal sal word. Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem of amptelik aangekla nie.

Lees die vorige berigte oor die voorval op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Linda Olivier ·

Verskoon my – mag ek asseblief aandui dat diere agterbene en voorbene het, maar mense het kuite en dye. Die man is dus in sy kuit getref deur die vergiftigde pylgeweer.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.