Moord op bekende dokter betreur  

Dr. Michael Isabelle (Foto: Facebook)

Huldeblyke stroom in vir ʼn mediese dokter wat tydens ʼn gewapende rooftog in sy praktyk doodgeskiet is.

Dr. Michael Isabelle is Saterdag in sy praktyk in Dobsonville, Soweto, doodgeskiet.

Volgens die polisie het drie verdagtes by die praktyk opgedaag en voorgegee dat hulle mediese bystand vir ʼn vriend benodig. Nadat die ontvangsdame hulle in die spreekkamer ingelaat het, het hulle die dokter geskiet.

Die verdagtes het met twee selfone van die toneel gevlug. Isabelle is na ʼn hospitaal geneem waar hy die volgende dag aan sy beserings beswyk het. Niemand is nog in hegtenis geneem in verband met die voorval nie.

Die komitee oor gemeenskapsveiligheid in die Gautengse wetgewer het die moord op Isabelle veroordeel en as “onaanvaarbaar en betreurenswaardig” bestempel.

“Dit is baie kommerwekkend dat hy sy lewe verloor het bloot omdat hy geweier het om sy skootrekenaar en fone aan die verdagtes oor te gee,” het Bandile Masuku, komiteevoorsitter, gesê.

“Hierdie hartverskeurende voorval dien as ʼn hartseer herinnering aan die diepgaande geweld wat ons gemeenskappe teister, met onskuldige individue wat die spit afbyt. Ten spyte van gesamentlike pogings deur die regering en die burgerlike samelewing om misdaad in Gauteng en regoor die land te bekamp, gaan misdadigers voort om verwoesting te saai en vrees by Suid-Afrikaners in te boesem.”

Die komitee het ʼn dringende beroep op wetstoepassingsagentskappe gedoen om die skuldiges vas te trek.

“Dit is noodsaaklik dat ons ʼn boodskap stuur dat sinnelose misdade van hierdie aard geen plek in ons samelewing het nie en dat oortreders verantwoordelik gehou sal word vir hul dade.”

Die komitee het sy meegevoel met Isabelle se familie betuig. Volgens berigte laat Isabelle sy vrou en vier kinders agter.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Danie ·

SA se misdaad is buite beheer.Sterkte aan die familie vir jul groot verlies.

Anna84 ·

Hoekom voel dit of daar soveel dokters die afgelope tyd geteiken word?

Republikein in die Wes Kaap ·

Onmoontlik om ‘n normale bestaan te voer onder ANC bewind. Hopelik kom inwoners van Soweto in opstand teen die ANC.

Di ·

Dis skokkend dat die skuim nie eers Dokters in hulle spreekkamers kan uitlos nie. Wys mens net dat misdaad geen voorkeure het nie. Aan die ander kant vra ek myself weer af of hierdie nie ‘n huurmoord was nie. Hoekom skiet jy iemand dood vir ‘n selfoon wat homself nie teen 3 kan verdedig nie?

Jannie ·

Hul neem die lewe van ‘n persoon wat baie beteken vir die gemeenskap, iemand met jare se opleiding en hele paar breinselle meer as hulle. En dit net vir tydelike gratifikasie!!
So hartseer, so skandelik, so onnodig

melaney ·

Betreurenswaardig. Soos soveel ander sake sal hier niks van kom nie. Meegevoel aan familie en vriende.

ES ·

Maar Cele woon eerder borgtogaansoeke van wit beskuldigdes by as wat hy sy werk doen.

mattk ·

Innige meegevoel aan sy familie. Wonder nou net of Cele en Lesufi die toneel asook sy familie gaan besoek?

Lettie ·

Innige meegevoel aan geliefdes. Dis so hartseer om elke dag van sulke insidente te verneem. Wanneer gaan die regering hieraan aandag gee? Beloftes word gemaak en daar kom NIKS daarvan nie.

Tinus ·

Binnekort loop hulle buite rond, die regstelsel beskerm mos die krimineel. Dan word hul verdediging in die hof nog met belastinggeld betaal. Pateties verby!

Gaitsigubib ·

In die ou dae het mense gewaarsku teen anargie, dan is daar vir hulle gelag, en nou? Wat is die? Die publiek is in ‘n burgeroorlog teen misdadigers.

Niklaas ·

Lewens in die huidige RSA is nie vreeslik baie werd meer nie.

Bostoe ·

@Gaitsigubib in ‘n burgeroorlog is daar twee kante wat teen mekaar baklei. Hierdie is ‘n eenrigting moor sessie.
Landsburgers word voor die voet afgemaai terwyl misdadigers letterlik met moord wegkom Maar behoed jouself as jy net durf terugveg, dan is daar oorgenoeg SAPS mannekrag en voertuie om jou te arresteer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.