
Annel Snyman (38). (Foto: Facebook)
ʼn 44-jarige vriend van Annel Snyman (38) het Vrydag vlugtig in die landdroshof op Weenen verskyn nadat hy van haar moord aangekla is.
ʼn Ondersoekspan van KwaZulu-Natal het die man Donderdagoggend by sy huis in Bela-Bela (Warmbad) in Limpopo in hegtenis geneem.
Snyman se liggaam is in September in die badkamer van ʼn lodge naby Winterton in KwaZulu-Natal ontdek. Sy en ʼn vriend was daar op ʼn wegbreekgeleentheid. Aanvanklik is gesê Snyman het haar oënskynlik met ʼn rekverband agter die deur gehang en die polisie het ʼn geregtelike doodsondersoek na die voorval gedoen.
Ná ʼn indringende ondersoek is die aanvanklike aanklag na ʼn moordaanklag omgeskakel, het kol. Thembeka Mbele, polisiewoordvoerder in KwaZulu-Natal, gesê.
Snyman se familie het talle vrae oor die omstandighede rakende haar dood gehad en het onder meer ʼn tweede nadoodse ondersoek laat doen.
Snyman was die eienaar van die Loebies-roofdierpark buite Bela-Bela wat sy op haar ouers se plaas bedryf het. Sy is beskryf as ʼn vrou met ʼn ongelooflike liefde vir diere en iemand wat altyd goedgesind teenoor mens én dier was.
Haar broer, Nardus Snyman, het gesê die gebeure het die familie diep geraak. “Ons vertrou dat geregtigheid sal seëvier,” het hy Vrydag gesê.
Die saak teen die beskuldigde is uitgestel tot Woensdag, wanneer hy na verwagting gaan aansoek doen om borgtog.
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
14 Kommentare
So kry elke hond sy dag en ‘n brak twee…
Dit is soooo hartseer en ek verstaan regtig nie sulke dinge, hul was net vriende, hy kon haar net los, sy het haar eie heenkome, werk etc – sterkte aan haar familie.
Dieselfde vriend wat haar liggaam “gevind” het en sedert haar dood ontroosbaar was?
Hy het maar net ‘n Rhode triek probeer en gedink hy gaan daarmee wegkom. Hoe siek het ons mense regtig geword.
Selfde as Rhode se geval.