Moord op geliefde huismoeder ruk gemeenskap

Carima Barnard. Foto: Verskaf

Carima Barnard. Foto: Verskaf

“Ek is nog te hartseer en huil te veel, jy sal nie hoor wat ek sê nie.” Só antwoord ʼn gebroke vriendin van Carima Barnard, wat Dinsdag op die perseel van die Jimmie Roos-jeugsorgsentrum naby Dewetsdorp in die Vrystaat glo met klippe doodgeslaan is, in ʼn teksboodskap.

“Sy was my beste, grootste en liefste vriendin. Ná my man se dood vier jaar gelede was sy nog deurgaans my steunpilaar,” beskryf Pulani Potgieter haar jarelange vriendin. “As ek die dag af gevoel het, kon ek haar vra om vir my te bid. Sy was ʼn borrelende, sprankelende en baie besige, flukse vrou. Sy was net geliefd en het vele mense se harte aangeraak.”

Maroela Media het vroeër berig twee leerlinge aan die jeugsorgsentrum, onderskeidelik 15 en 16 jaar oud, is Dinsdagaand na ʼn plek van aanhouding in Bloemfontein geneem nadat Barnard (50), ʼn huismoeder by dié sentrum, se liggaam by ʼn lodge op dieselfde terrein gevind is.

Sers. Yanda Ngcukana, polisiewoordvoerder, het Woensdag aan Maroela Media gesê die seuns, wat in die sentrum gebly het, beweer hulle het omstreeks 14:20 by die dam visgevang toe hulle twee mans in ʼn voertuig by die lodge sien wegry het. Barnard het die lodge bestuur.

“Volgens die seuns het hulle gaan ondersoek instel en op die slagoffer se liggaam in ʼn plas bloed afgekom. Hulle het die skoolhoof gaan roep wat op sy beurt die polisie ontbied het,” het Ngcukana gesê.

Met die polisie se aankoms op die toneel het hulle Barnard se liggaam op die gras langs haar bakkie aangetref. Haar bakkie se sleutels en haar selfoon was by haar. ʼn Baksteen en ʼn klip het langs haar gelê. Sy het erge beserings aan haar kop opgedoen.

“Die seuns is dadelik ondervra en hulle het vertel hulle het ʼn wit Chrysler by die lodge sien wegry voordat hulle daar opgedaag het. Die polisie en boere in die omgewing het dadelik na die voertuig begin soek en dit is kort daarna in Dewetsdorp opgespoor. Die seuns is intussen op die toneel gehou, want die ondersoekbeamptes het vermoed iets is nie pluis met hul weergawe van gebeure nie. Daar was ook bloedvlekke op een van die seuns se T-hemp en tekkies.”

Ngcukana het gesê die insittendes van die voertuig is behoorlik ondervra en die polisie het vasgestel hulle was by die lodge om daarna te kyk omdat hulle ʼn jaareindfunksie daar wou hou. “Hulle het gesê die slagoffer het nog gelewe toe hulle daar weg is. Die polisie het nie rede gehad om hul weergawe in twyfel te trek nie en hulle is nie in hegtenis geneem of as verdagtes beskou nie.”

“Die 16-jarige seun is intussen in die skool se sorg vrygelaat, hangende verdere ondersoek. Die 15-jarige seun, op wie se T-hemp die bloedvlekke gevind is, is van moord aangekla en moet Woensdagmiddag in die hof verskyn.”

Die motief vir die moord is nog nie bekend nie.

Johnny Erlank, wat verlede week as skoolhoof uitgetree het en daar aanbly totdat die skooljaar verby is, het Woensdag Barnard as ʼn harde werker beskryf wat baie lojaal teenoor die skool was.

“Sy was 23 jaar by ons en altyd bereid om die ekstra myl te stap. Sy het ook vir niks teruggestaan nie en sou altyd ekstra hard werk om ekstra geld vir die skool in te samel. Sy was baie bemind in die gemeenskap en almal rou saam,” het Erlank gesê.

Erlank het gesê haar dood kom as ʼn groot skok en personeel en leerlinge sal deur beraders bygestaan word.

Haar gesin is nog te hartseer om met die media te praat. Barnard laat haar man, Adriaan, dogter Fianca (23), en seun Dehan (21) agter. Adriaan is die adjunkhoof by die skool en ook die skoolsielkundige.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

tamboti ·

AH dit is jammer dat die hele waarheid onwelkom is in nuwe SA, maar maak jou reg hierdie is dalk ook ‘n uitsondering. Die punt is egter wit of swart, moord bly moord en verskonings tel nie. Hierdie kinders, as hul skuldig is verdien ook die doodstraf, veral omdat hul die slagoffer geken het en deur haar versorg is?
Dit is die realiteit mense, mooi praatjies en slim redenasie gaan nie misdaad keer nie. Is dit nie die les wat die lewende God wil he ons moet leer nie? Om te heers soos Adam moes in die eerste plek?

Woedend ·

Ek raak so de duiwel in dat so ‘n fantastiese goeie mens op so ‘n manier om die lewe moes gebring word. Bring terug die doodstraf, of hy/sy minderjarig is of nie, boet sal jy boet vir jou dade. Hang hulle!

BUSFARK VAN PLETSEN ·

Waar was die sekeriteit dis tog a sentrum vir jeug misdadigers

Kan dit nie glo nie!!! ·

Ons mag mos nie kwaad word nie!! Maar sy was ons Tannie!! So geliefd!! Soveel omgegee en liefde gegee vir haar medemens!!! Waar en wanneer gaan dit stop??

Mariana ·

Hoe wreed. Hoop hulle kry wat hulle toekom. My innige meegevoel aan al die geliefdes en naasbestaandes.

Kwaad verby ·

En die ander seun is terug in Jimmie Roos. Albei is nou daar. Nie genoeg bewyse aldus die aanklaer…. ek glo en hoop elke weerbare vrou van Jimmie Roos het genoeg beskerming……

Anel ·

Dit is verskriklik……..kinders van 15 jaar so wreed kan wees. Dit is hoekom ek my mensies in my huis al vir 9jaar straf. Geen TV….tot kids programme is net geweld. En vir my in die aande vir 9jaar is n wonderlike familie tyd. Heng kan iemand die kleur van die kinders gee? RIV goeie koshuismoeder

CS ·

jimmy roos was al die jare n verbetering skool vir seuns wat probleme het,huishoudlike probleme of probleme by skool en is vandag nog naam het maar net verander 88% van jou kinders daar is wat uit aglike omstandighede by die huise weg gevat is,wat weg geloop het van huise, wylsyne of skole,van die kinders daar ja is probleem kinders maar almal is nie misdadegers nie.daar is sekeruteit wat perseel patroleer sekere tye van die dag en nag.maar omdat die kinders nie agter slot en grendel 24uur per dag is nie kan hulle rond beweeg tussen koshuise die dam rugby veld ens.ons bly tans al 25jaar op jimmy roos so dis hoe ek dit weet.en dis n groot skok wat almal getref veral ons klomp personeel kinders wat voor haar groot geword het.RIV Tannie Carima

Irene Pool ·

Ek wil net een ding graag weet?????? Waar was die sekuriteit???

wb ·

Ek is n huismoeder by Jimmie Roos. Baie van die feite word verdraai. Moenie al die kinders onder dieselfde kam skeer nie. Ek het 33 seuns in my sorg en ek is nie vir een bang nie. Meeste van hierdie kinders het al goed deurgemaak wat volwassenes nie sal kan hanteer nie. Ek vra asb respek. Vir ons skool, vir Carima en vir haar gesin.

Eliza-beth ·

WB en ander betrokkenes by hierdie skool – julle doen wonderlike werk en help kinders wat sekerlik deur die vreeslikste dinge is, wat verwerp is deur hulouers en/of die samelewing – RESPEK van my af. Julle gee baie hoop. Steur jul nie aan gissinnge, skimpe en skinderstories nie. Dis ‘n verskriklike dinge wat teenoor ‘n ooglopend wonderlik-goeie mens gebeur het. Serkte aan almal daar, daar is baie mense wat julle en die familie in hul harte en gebede dra.

wb ·

Die kind het van die koshuis af gekom deur die veld. Oral sekuriteit maar nie in die veld nie.

nico van wyk ·

Ek en my gesin was seker die laaste mense vir wie sy sondag die 22ste ontbyt gemaak het by die lodge ons het die naweek daar gekuier . n mens kan dit nie beskryf nie. dit was vir ons verskriklike nuus . ek het dinsdag middag nog vir haar email gestuur om te se hoe nice hulle plek nou is en hoe ons dit geniet het min wetend wat rondom daai dit gebeur het . al wat ek kan se ons bid vir julle , ek weet nie hoe verwerk mens so iets nie sterkte aan almal.

ANRE ·

Baie sterkte vir die familie ek wil ook net weet waar was die Sekuriteit in so ‘n skool moet daar 24 uur Sekuriteit wees asook by die lodge waar sy gewerk het daar moet dit strenger wees!!!!

Janet ·

Carima is my skoonsussie en hier word baie aannamings gemaak. Dis ‘n seer wrede moord soos baie hier se wat haar geken het. Die aannamings dat dit swart leerlinge is moet ek wel regstel dit was een swart en een wit leerling gewees so dis nie n rasse ding nie. Asb mense ons as famielie kry swaar soos dit is asook haar jare lange vriende. Hierdie was nie n moord vir diefstal of agv ras nie die was n siek sinnelose moord wat diep kerf. En nie alle kinders in daai tehuis is sleg nie tot die dag wat die satans kinders kan se hokom en waarom kan mens baie bespiegel maar dit maak net seer.

Eliza-beth ·

Janet – dis presies met ek my vorige opmerking bedoel. Mense wat so vra waar is sekuriteit en dit en dat – hulle ken nie eers die omstandighede nie. Al die kinders daar moet ook nou ly onder twee se sinlose daad, hul word ook nou sommer oor dieselfde kam geskeer en dis baie erg. Jou skoonsuster klink asof sy ‘n pragtige mens was en wees verseker ‘n Hoër Hand weet dat sy ‘n verskil gemaak het, en dis wat tel. Mag daardie wete jul deur die swaar tye vorentoe dra. Weereens, sterkte aan haar hele familie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.