Moord op haweloses: Nóg ʼn liggaam in Pta gevind

Hoek van Justice Mahomed (Walker/Charles) en Troyestraat (Foto: Google Maps)

Die polisie in Pretoria het ʼn beroep op hawelose mense gedoen om in groepe te slaap ná die liggaam van ʼn vierde man in die gebied gevind is.

Kapt. Daniel Mavimbela, woordvoerder van die polisie, het aan Maroela Media gesê die liggaam van ʼn man, vermoedelik ʼn hawelose man, is Dinsdagoggend op ʼn sypaadjie op die hoek van Justice Mahomed (Walker/Charles) en Troyestraat gevind. “Die man het ʼn besering aan die agterkant van sy kop opgedoen. Die oorsaak van sy dood en die motief van die moord word ondersoek.”

Mavimbela het gesê die polisie is onverpoosd besig met hul ondersoek na die persone wat verantwoordelik is vir die moord op middeljarige mans. “Hawelose persone moet op hul hoede wees en verkieslik in groepe slaap,” het hy bygevoeg.

Maroela Media het vroeër berig twee persone is dood aangetref in Muckleneuk se gewilde Magnola Dell-park. ʼn Man is ook dood aangetref in ʼn veld naby die Mearspark-treinstasie, ongeveer 2,8 km van die park. Mavimbela het in daardie stadium gesê dit wil voorkom of al die mans op dieselfde wyse vermoor is.

Die Sunnyside-polisie het hulle forensiese deskundiges, ʼn netwerk van talle informante, asook misdaad-intelligensie by die ondersoek na die moorde betrek.

Mavimbela het ʼn beroep gedoen op enige iemand met inligting oor die saak om 0860 010 111 te skakel of ʼn SMS te stuur na 32211. Die inligting kan ook anoniem verskaf word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

27 Kommentare

Ben ·

Na my wete kruis Charlesstraat nie met Troyestraat nie. Bedoel julle dalk nie Walkerstraat? Op die hoek bevind dink ek ook Barcleysplein inkopiesentrum. Sal dit nie veiliger wees om die haweloses daar te laat oornag nie, aangesien dit in die nag word besluit as ook Arcadiasentrum?

piet piet ·

Hulle het nie naasbestaandes nie anders sou hulle nie bergies gewees het nie.

Skande ·

Daar moet iets gedoen word om haweloses uit strate te kry – ANC regering! Julle met julle luukse huise, voertuie en leefstyle.

Lizelda ·

Hierdie is nie altyd net die ANC se skuld nie. Toe die DA (met hulle spog motors -huise) in bewind was in Tshwane het dit ook so gegaan. Ons sit met n GROOT probleem in Tshwane en ek glo nie net in Tshwane nie, maar politiek kan ook regtig nie die skuld kry vir ALLES nie.

piet piet ·

Die DA raad moet die haweloses akkommodeer hulle slaap reg oor die stad voor winkels en met geen toilet geriewe is dit nie 100 jaar voor n pes siekte uitbreek en die stad se mense in gevaar stel nie.

kolla ·

Dis darem ‘n spesiale tipe skuim wat sulke weerlose mense aan te val.

kolla ·

Maak dit saak? Dis ‘n walglike aksie om enige persoon wat homself in sulke omstandighede bevind (om watter rede ookal) aan te val, ‘n sagte weerlose teiken. Net skuim doen dit.

Net so ·

Dit is bitter hartseer. Wens ons regering wil ophou hulle self ryk maak en die haweloses n veilig hawe bied!!!!! Plek waar hulle warm kan slaap en iets te ete kry. Ons moet ophou belasting betaal en eerder die arm, haweloses help.

Diefie ·

Hoe hartseer is nie, dat Jan publiek nie veilig is in ons mooi Suid Afrika nie. Slaap voort regering. miskien kom klop dit ook aan jul voordeure.

Rooibok ·

Hulle moet “die byl” kry om die saak op te los ….. Die SAPS sal dit nooit kan doen nie.

VanAfrika ·

As jy van Piet Byleveldt praat, hy is lankal oorlede aan kanker.

Is dit wit manne wat vermoor word? Het ons nou n kwessie van dat daar nie meer net op ons plaasboere gemik word nie, maar nou ons verarmde blanke manne omdat hulle verhoed word om werk te kry???? Ons wag en sien wanneer die name bekend gemaak word.

Mandie ·

Ek en my kollega het vanoggend (19/6/2019) verby nog ‘n slagoffer gery. (Naby Unisa). Hy het ook ‘n kopwond gehad en polisie het pas daar aangekom.

Lizelda ·

O genade ekt ook verby hom gery, is dit dan NOG n persoon?

GM ·

Piet-Piet, daar is baie bergies wat naasbestaandes het. Van die naasbestaandes gee net nie om oor wat met hul familielede gebeur nie, ander is weer onkundig oor hul familielede se doen en late. Dalk het die bergies hul van hul familie onttrek op ‘n stadium en is nou te skaam om terug te keer. Party voel hul verdien hul ‘straf’. Daar was al gevalle van bv. weermaglede wat op straat gaan bly het na hul van oorlog af teruggekeer het.

Plaas die regering minder geld spandeer op inhuldigings, huise, partytjies, duur motors ens., en dié mense help om van die straat af te kom. Leer hul vaardighede aan om selfversorgend te kan wees, help om werk te skep. Geen mens verdien om so te lewe nie.

Lizelda ·

@GM ek persoonlik dink/voel hierdie mense moet die eerste stap neem om hulp te kry om vd strate afte kom. Ek weet van n blank meisie wat vir jare gebedel het in die stad toe is sy een dag net “weg” Toe ek haar weer raakloop in Atterbury Pretoria Oos toe is sy vd strate af, werk gekry, haartjies netjies en mooi aangetrek. n Paar maande later selfde: netjies, goed versorgd. So daar is die wat wil verander maar ongelukkig ook die wat nie wil nie.

Anon ·

Lizelda, lekker om nié op straat te sit nie en te oordeel, nê?

Elsa ·

Dis darem hartseer en ek hoop die skuldige word gou gevang. Ek het maar altyd ‘n sagte plekkie vir sulke haweloses en gesels altyd vriendelik met hulle as ek een teekom. Dan wonder ek by myself wat het gebeur om so ‘n persoon op straat te laat beland en waar hulle families is. Deesdae gee ek glad nie meer vir hulle geld nie, maar van die kruideniersware wat ek gekoop het.

Ek is geen aanhanger van die ANC regering nie, maar die regering kan sowaar nie die skuld gegee word vir haweloses of boemelaars soos wat meeste van ons hierdie hawelose mans ken nie. As hierdie mense se eie families nie eens bereid is om vir hulle ‘n veilige hawe te gee nie, hoekom moet die regering of enige ander politieke party dit doen? Baie van ons mense het selfsugtig geword en ons gebruik so maklik die verskoning dat ons self te swaar kry om ander te help.

Celeste ·

Dis maklik vir die regering om te se hulle moet in groepe slaap. Magtig man maak n plan en kry n plek waar hulle veilig kan slaap. Ou geboue word deesdae geplunder. Vat al daai hospitaal beddens wat die staatshospitale uitgooi en gee darem vir hulle n veilige plek om te slaap. Hawelose mense word uitgelewer elke dag aan kriminele. Hulle het niks dan word daar nog van hulle gevat. Die staat moet regkom.

Andre ·

Kan ons verneem wat die ras van die slagoffers is, waarom word dit geheim gehou?

yolandi ·

My vraag, die polisie doen n beroep op haweloses om in groepe te slaap, gaan soek hulle elke hawelose op om hulle te waarsku aangesien haweloses nie toegang tot tegnologie het nie? wonder sommer net

kolla ·

Die bergies moet op die grasperke rondom die Uniegenou kamp opslaan, miskien dien die regering dan iets.

honourable member ·

Ons lewe in n siek samelewing waar n lewe nie meer belangrik geag word nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.