Moord op Kaapse uitsmyter: hofrol te vol vir borgtogaansoek

Joe Louis Kanyona. Foto: Facebook

Joe Louis Kanyona. Foto: Facebook

ʼn Aansienlike agterstand in die hofrol het Donderdag veroorsaak dat die borgtogaansoek van drie mans wat teregstaan op die moord van ʼn uitsmyter van ʼn gewilde kuierplek in Kaapstad, uitgestel moes word.

Ubaid van der Bergh (20), Toufiq Essa (21) en Nasbie Edwards (27) is in Junie in hegtenis geneem nadat hulle na bewering ʼn Kongolese uitsmyter, Joe Kanyona, doodgesteek het. Die staat moet nog beslis of die mans van moord of sameswering tot moord aangekla gaan word.

Maroela Media het vroeër berig Kanyona is op 20 Junie deur drie mans met ʼn mes voor Beerhouse in Kaapstad se bekende Langstraat doodgesteek. Die mans het by die kuierplek opgedaag en met Kanyona by die deur gepraat, voordat een van die mans hom glo met ʼn mes in die nek gesteek en hulle gevlug het.

Die drie beskuldigdes was Donderdag gereed om met hul borgtogaansoek voort te gaan, maar twee ander borgtogaansoeke wat maande ouer as hierdie saak was, moes eers aangehoor word. Die staatsaanklaer het aan die hof gesê geen ander hof was beskikbaar om die aansoek aan te hoor nie en die volgende beskikbare hofdatum is eers einde Augustus.

Die verdediging se prokureur, Mahdney Arnold, het die hof gevra vir ʼn vroeëre datum. Die landdros het ingestem dat die saak op 4 Augustus aangehoor kan word, maar het beklemtoon dat hy van middel-Augustus met verlof sal wees en dat die borgtogaansoek nie noodwendig teen daardie tyd afgehandel sal wees nie.

Die staat staan al drie beskuldigdes se borgtogaansoeke teen.

Lees alle vorige berigte oor Joe Kanyona op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.