Moord op Karl Reich: ‘Ons probeer vrede kry’

Karl Reich (Foto: Facebook)

“Om te weet my pa se moordenaars gaan moontlik lank agter tralies sit, is ’n verlossing. Dit sal help met die helingsproses… Maar dit kan nie my pa terugbring nie.”

Só vertel Belinda Ferreira nadat drie mans Maandag skuldig bevind is aan die moord op haar pa, Karl Reich (82).

Mojalefa Tseki (30), Thanki Dickson Motseki (29) en Ernest Pule Chambisso (36) sou Donderdag gevonnis word, maar die vonnisverrigtinge is tot 21 Oktober uitgestel. Dit is omrede een van die beskuldigdes se regsverteenwoordiger siek is en nie die hofsaak kon bywoon nie.

Maroela Media het vroeër berig Reich het op 24 September 2018 spoorloos by sy huis op Welkom verdwyn. Tseki en Motseki is op 14 Junie 2019 in verband met die saak aangekeer. Hulle het die plek waar hulle Reich se liggaam gelaat het, aan die Valke se ondersoekspan uitgewys. Chambisso is sowat twee maande daarna aangekeer en met die moord op Reich verbind.

Dit het tydens die hofsake aan die lig gekom dat Reich verwurg is en sy liggaam is in die kattebak van een van sy voertuie na Pretoria geneem en naby Fonteinedal in ʼn stormwatersloot op die N14 gelaat. Sy oorskot is later aan sy familie oorhandig, wat hom in Augustus 2019 laat veras het.

Ferreira vertel sy het haar pa se as in twee hopies laat verdeel. Die een helfte word by die Katolieke Kerk, waar hy ʼn lidmaat was, gehou. Die ander helfte hou sy in ʼn houtkissie wat sy na die vonnisoplegging op ʼn spesiale plek wil begrawe. Die familie moet nog besluit presies waar hulle die as wil begrawe.

“Ek wil na die vonnisoplegging my pa ordentlik begrawe. Só kan ons hierdie nare hoofstuk dan probeer afsluit.”

Ferreira sê hoewel die skuldigbevinding haar berusting gee, genees dit nog nie al die wonde nie. Sy het nog talle vrae oor wat presies met haar pa gebeur het.

“Wanneer ek snags sit en my gedagtes in my kop maal, dink ek aan my pa en wat hy moes deurmaak. Ek het destyds met my pa se soektog hard gebid dat die Here hom vir my moet teruggee, maar ek het nie gedink dit sal op só manier wees nie. Ek dink ek is nog geskok oor als. Jy kom nie net sommer oor die feit dat jou pa vermoor is nie.

“Die storie sal altyd onvoltooid wees. Al wil ons hoe graag als agter ons sit, is dit moeilik omdat soveel vrae onbeantwoord bly.”

Ferreira sê sy het elke hofsaak bygewoon. Sy en haar man, Johan Ferreira, het elke keer van hul huis in Gqebera (Port Elizabeth) na Virginia in die Vrystaat gery om die hofverrigtinge by te woon.

“Die beskuldigdes het in die beskuldigdebank gestaan en geen berou getoon nie. Een van die mans het met die skuldigbevinding in die hof omgedraai en gelag.

“Ek is dankbaar om te weet die mans sal moontlik nooit weer op vrye voet wees om dieselfde aan iemand anders te doen as wat hulle aan my pa gedoen het nie.”

Ferreira sê sy is ook verlig die hofsaak is verby omdat dit elke keer weer ou wonde oopgekrap het.

“Dit was moeilik om elke keer terug te keer Vrystaat toe. Om weer met die wrede feite gekonfronteer te word. Met die laaste hofverskyning, het my maag gedraai. Dit is asof die rou fisiek manifesteer.”

Ferreira sê sy weet sy nie of sy ooit vrede oor haar pa se moord sal kry nie.

“My pa loop so baie dinge in ons lewe mis. Ons het nou weer ’n kind ryker geword, en hy kan nie daarvan deel wees nie.

“Tyd genees alle wonde. Ek glo wel met tyd sal die hartseer beter raak.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Sê maar net ·

So, so jammer vir julle verlies. Mag Jesus aan julle berusting en vrede gee. Dit is ‘n baie hartseer, tragiese ding wat gebeur het. Maak plek in julle harte vir daai seer. Dit sal altyd met julle wees, maar God sal julle dra en krag gee om aan te beweeg. Jesus sal julle sterk maak en julle trane afdroog. Jou pa sal altyd in jou hart wees. Baie sterkte vir julle almal xxx!

Mariana ·

Ja tyd genees alle wonde, party vat net langer om te genees. Sterkte vir julle. Geen straf wat hulle kry sal ooit reg wees nie, hulle verdien nie om ooit weer lig te sien nie, net donker.

Yvonne ·

In ons land veg ons teen soveel vyande…weet nie meer waar om te keer nie…virusse, moordenaars, skelms….etc….ek bid hierdie gesin vertroosting toe

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.