Boland-moord ‘kon verhoed word’

Tientalle mense het Maandag voor die landdroshof in die Paarl byeengekom. Hulle is raadop met onder meer vrugtediefstal. (Foto: Verskaf)

Die moord op ’n koerantverkoper van die Paarl-Oos kon voorkom word, indien die gespanne situasie met vrugtediewe en die onwettige verkoop van vrugte in die Boland aangepak is toe dit reeds jare gelede onder die owerhede se aandag gekom het.

Só het ’n boer Maandagoggend gesê toe tientalle boere voor die landdroshof in die Paarl byeengekom het, waar twee boere vandag in die beskuldigdebank verskyn in verband met Chatwell Rogers se moord.

Die 40-jarige Rogers is verlede week Dinsdag naby die Sonstraalbrug oor die N1-snelweg naby die Paarl doodgeskiet toe twee boere, John Woest en Jan Basson, glo skote op onwettige vrugteverkopers afgevuur het.

Die vrugteverkopers het van die brug tot op die N1 gevlug toe nog ’n skoot afgevuur is. Die skoot het Rogers in die rug getref en hy is op die toneel dood. Rogers was nie besig om koerante te verkoop toe die skietery plaasgevind het nie.

Woest (68) en Basson (65) is op die toneel in hegtenis geneem nadat hulle hulself aan die polisie oorgegee het en sal na verwagting vandag om borgtog aansoek doen.

Tientalle mense het Maandag voor die landdroshof in die Paarl byeengekom. Hulle is raadop met onder meer vrugtediefstal. (Foto: Verskaf)

Jacques Malan, ’n vrugteboer in die omgewing van Klein-Drakenstein, sê boere in die omgewing is raadop met kwaaddoeners wat daagliks hul vrugteboorde stroop om aan onder andere motoriste te smous.

“Dit is nie een of twee nie. Hulle kom in groepe en is gewoonlik gewapen met skêre, messe en pangas,” vertel Malan.

Vrugtediefstal is ’n groot probleem in die Boland. Foto: Verskaf

Dít terwyl infrastruktuur, waaronder kabels en spilpunte, gereeld beskadig en/of gesteel word en boere skade van honderdduisende rande in die proses ly.

“Ons is baie jammer vir die familie van Chatwell Rogers. Niemand wou hê daar moes ’n lewe verlore gaan nie,” sê Malan aan Maroela Media.

Hy vertel egter dat daar al tientalle briewe rakende die alewige vrugtediefstal aan die munisipaliteit, polisie en hooggeplaastes gerig is. “Dit het alles tot niks gelei nie. Ons glo dat Chatwell Rogers se dood nie sou gebeur het as die probleem vroeër aangepak is nie. Dan was dit nie nodig dat só ’n uiterste ding gebeur nie.

“Ons kan nie kommentaar lewer oor die dag [van die moord] nie, want ons was nie daar nie en weet nie wat gebeur het nie. Ons vertrou dat die hof en die polisie die saak deeglik sonder enige vooroordele sal ondersoek sodat geregtigheid kan geskied,” sê Malan.

Vrugtediewe is gewoonlik gewapen. Foto: Verskaf

Uys van der Westhuijzen, voorsitter van Agri Wes-Kaap se landelike veiligheidsbeleidskomitee, sê óók die plaaslike owerheid het sy plig versuim en die gemeenskap gefaal nadat lede talle kere genader is om die gespanne situasie rakende vrugtediefstal en die onwettige verkope daarvan aan te raak.

“’n Vergadering is hieroor gehou, maar ooglopend is dit nie ernstig opgeneem nie. Verskeie geskeduleerde opvolgvergaderings het nie plaasgevind nie, weens die onbeskikbaarheid van amptenare.

“Die plaaslike owerheid moet verantwoordelikheid aanvaar,” sê Van der Westhuijzen.

Agri Wes-Kaap het plaaslike owerhede reeds voor die voorval vir ’n vergadering op 13 Desember genader, “wat hopelik die erns van die saak sal beklemtoon, en hulle die verreikende implikasies sal laat besef”.

Jannie Strydom, hoof- uitvoerende beampte van Agri Wes-Kaap, bestempel Rogers se dood as ’n tragiese voorval.

“Ons medelye gaan uit na die gesin van die oorledene. Agri Wes-Kaap vra plaaslike owerhede en relevante rolspelers om in te tree en soortgelyke voorvalle te voorkom. Ons vra vir kalmte en vir die reg om sy gang te gaan.”

  • Rogers se familie ontken luidens berigte dat hy die dag van sy moord vrugte gesteel het en sê hy word as ’n misdadiger uitgekryt.

    Tientalle mense het Maandag voor die landdroshof in die Paarl byeengekom. Hulle is raadop met onder meer vrugtediefstal. (Foto: Verskaf)

    Tientalle mense het Maandag voor die landdroshof in die Paarl byeengekom. Hulle is raadop met onder meer vrugtediefstal. (Foto: Verskaf)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

Swerwer ·

Niemand kan John Woest en Jan Basson kwalik neem vir hul optrede nie, want die wetteloosheid van hierdie land dryf almal om geregtigheid in eie hande te neem. Hul het hulself gaan oorgee wat beteken dat hul nie die man met opset doodgeskiet het nie, dit was ‘n ongeluk.

Chris dupreez ·

Dit is nou weer n bewys dat die regering niks doen om aandag aan die boere se probleme te gee nie.

Surfer ·

Hy was partykeer n koerant verkoper. Hier was hy n vrugte dief.

Marius ·

Dit is eintlik ‘n frats ongeluk en tragies dat ‘n onskuldige persoon moes sterf vir ander se misdaad. Ek kan ook verstaan dat die boere wat al lankal raadop is en self hul eiendom moet beskerm moet optree teen diewe. Die regering moet opstaan en hul verantwoordelikheid begin nakom.

Philip ·

Dit is ook baie aaklig dat boere koelbloedig vermoor word en dan word daar voete gesleep om n uitsluitsel en skuldigbevinding in so n saak te kry.

Kweperlat ·

Dis maklik om uitsprake te maak maar dis belangrik om die feite te hê! Voortdurende eiegeregtigheid, toenemende diefstal, vandalisme en moord op boere in hierdie land sal ongetwyfeld ‘n tsoename van wrewel ontketen waarvan die gelyke nog nie gesien is nie. Wie wil nou die eerste klip gooi?

Frank John ·

Ons geveg is nie teen vlees en bloed nie maar teen die bose magte in die lug. Waneer ons dit besef, waneer ons ons tot God wend sal die draai punt kom.
Take it or leave it!!

Alexander ·

Nee wat… dit gaan meer oor geld en oorlewing niks bonatuurlike goeters nie

Misky ·

Die boere raak moedeloos van duur bedryfskostes en dan diefstal bo-op dit. Boonop slaap hulle snags sleg, want hulle moet met een oog oop slaap, sodat hulle nie ook statistieke word nie. Nee wat, hierdie is op die regering se kerfstok

Alexander ·

Die werkloses met min skool en vaardighede raak desperaat en dan maak hul planne wat die algemene Afrikaner nie sal kan begryp nie

Pieter ·

Die regter moet nou maak soos die ander regters laat hulle vry op vyf honderd rand borg. Of is dit nou net vir ouer people bedoel.

SlinkseKoljander ·

Nie `n groot verlies nie, hy was onwettig daar en die boere het n reg om hulle eiendom te beskerm.

Linx ·

Hy is ni geskiet op die blaas nie,hys geskiet op die brug net voor Hugenote tonnel,wat bo oor d N1 loop,ek kry net Gou vinnig Jou feite reg

Yvonne ·

Dit is sulke hartseer dinge wat gebeur as n land nie sy God gegewe taak nakom nie……wen en orde etc…..moet gehandhaaf word

Boerinmurgenbeen ·

Kla die plaaslike owerhede se leiers aan vir die koerantverkoper/onwettige vrugte verhandelaar se dood.
Ploisie en plaaslike owerhede moet begin leer om verantwoordelikheid vir hulle poste te aanvaar. Laat die twee boere vry en sluit die manne op wat in die eerste plek te treurig was om hulle werk te doen een op die klagtes te reageer en wet en orde te handhaaf.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.