Moord op leraar ruk Suidkus-gesin, gemeente

Werner en Liezel de Jager. (Foto: Facebook)

Die NG Kerk Suidkus op Amanzimtoti in KwaZulu-Natal is geruk deur die moord op ds. Liezel de Jager.

De Jager (38) se liggaam is volgens die polisie vanoggend omstreeks 07:00 op die erf van die pastorie in Dan Pienaarweg aangetref. Haar selfoon en sleutel is onder meer langs haar liggaam aangetref.

“Sy het wurgmerke aan haar nek gehad en geen van haar besittings is geneem nie,” sê kol. Thembeka Mbele, polisiewoordvoerder.

Bianca Swanepoel, skriba van die gemeente, sê De Jager het vanoggend oudergewoonte saam met  ʼn groep mense gaan draf. Sy is vermoedelik oorval kort nadat sy weer na die pastorie teruggekeer het.

De Jager se man, Werner, was in die huis besig om die egpaar se dogtertjies, Ila en Lané, vir skool reg te kry. Hy het op haar liggaam buite die huis afgekom.

Swanepoel sê sy kon dit aanvanklik nie glo toe werkers sê daar is moeilikheid by die pastorie en dat die polisie op die toneel is nie. “Dit is verskriklik. Dit is wreed. Daar is soveel onbeantwoorde vrae. Hoe word ʼn predikant by ʼn pastorie vermoor?

“Sy was eerlikwaar die mooiste mens van binne en buite. Soos jy Liezel op die kansel sien, so sien jy haar in die alledaagse lewe. Sy was toegewyd aan haar gesin en haar werk en was die beste predikant waarvoor ons in hierdie tyd kon vra.

“Sy kon met jong mense werk en met bejaardes. Van ons bejaarde lidmate bel in trane. Hulle sukkel om te praat, maar wil weet of dit die waarheid is. Selfs dán sukkel hulle om die nuus te glo,” sê Swanepoel.

Werner en die dogtertjies is fisiek ongedeerd ná die aanval, maar is “emosioneel verpletterd”.

“Daar is nie op hierdie oomblik antwoorde nie en die gemeente is saam met haar gesin verpletter.

“Ons vra dat mense die gemeente en die familie in gebed sal dra. Dit is baie moeilik vir haar man en dogters en die res van die familie.

“Die gemeente is ook baie dankbaar vir al die boodskappe. Die fone gaan mal. Mense moet asseblief aanhou bid. Werner en die meisiekinders het dit verskriklik nodig.”

Die kerk het ook ʼn beroep op mense gedoen om die De Jager-gesin ruimte te gun om die gebeure te begin verwerk en nie in hierdie stadium na die pastorie te gaan nie.

“Liezel het geleef vir haar gesin en haar gemeente. Jy kon enige tyd op haar knoppie druk. Ons as gemeente staan agter haar gesin en ondersteun hulle.”

Tientalle boodskappe van medelye het reeds op sosialemediaplatforms van gemeentelede, vriende en ander gemeentes ingestroom.

“Wat ʼn pragtige vrou van God. Geesvervulde mens. Ons gaan jou liefdevolle omgeeglimlag so baie mis. Rus in vrede, ds. Liezel. Ons gebede is saam met die familie. Ons harte is flenters,” skryf Wilma van Romburgh in ʼn boodskap.

De Jager, wat die afgelope sowat drie jaar die leraar by die NG Kerk Suidkus was, was voorheen verbonde aan die NG Kerk Kanoneiland op Upington. Dié gemeente het ook die nuus oor De Jager se dood in ʼn boodskap op sy Facebook-blad met lidmate gedeel.

Volgens die polisie word ʼn saak van moord ondersoek. Niemand is nog in hegtenis geneem nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Di ·

Mmm… baie snaaks dat sy net dood gemaak word en niks geroof nie. Sterkte aan hierdie vrou se familie en vriende. Hoop die skuldige word gou vasgetrek

Misky ·

Dis so hartseer en sy was so jonk nog. Wat is die motief dan agter haar moord as niks weg is nie? Die haat in sommiges wat ons land bewoon, ken geen einde nie….. Innige simpatie met die familie en gemeente

battleaxe ·

Ek stem saam. Iets is nie reg met die storie nie. Dit is nogtans tragies

Racheltjie Debeer ·

Ek hoop van harte nie die volgende berig is dat die man in hegtenis geneem is nie, want dit sal bitter tragies wees.

Linx ·

Om iemand te vermoor om hom/haar te wurg is so n persoonlike saak ,om iemand in die gesig te kyk en sien hoe hlle sterf,ds wreed ,dis baie haat.

Anoniem ·

Uiters raaiselagtige omstandighede. Ek hoop eerlikwaar my gedagtegang is verkeerd.

Sterkte aan elke persoon wat deur ds. Liezel se heengaan geraak word.

Perdeby ·

Ondervrra maar die man, want jy maak nie iemand dood en vat niks nie. Hierdie was ‘n beplande moord.

Sandra ·

Baie vreemde storie. Sy moes geskreeu het. Ek spekuleer nou net. Sterkte aan haar familie

annie ·

My simpatie lê by die eggenoot van die besige dominee en haar twee kinders… Pappa wat twee dogters alleen moet gereed kry vir skool en nou is mamma vir ewig weg…

Mariaan ·

Skokkend! So jammer vir daai kinders…EN hul mamma…iets is tog vreemd aan die gebeure…maar ja..tyd sal leer…sterkte aan haar hele familie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.