Een van die ses verdagtes wat in hegtenis geneem is in verband met die moord op Piet Venter (51), die wildboer van die Rooiberg-omgewing, het Maandag in die hof verskyn.
Lt.kol. Malesela Ledwaba, provinsiale polisiewoordvoerder van Limpopo, het gesê Reuben Miles (29) het in die Bela-Bela-landdroshof verskyn. Sy saak is tot 24 November uitgestel wanneer hy na verwagting om borgtog sal aansoek doen. Hy bly in aanhouding.
Volgens Ledwaba sal die ander vyf verdagtes Dinsdag in die hof verskyn op aanklag van moord en die besit van ʼn ongelisensieerde vuurwapen en ammunisie.
Maroela Media het vroeër berig dat Venter Vrydagaand op sy plaas, Chaheng Hunting Safaris tussen Thabazimbi en Bela-Bela, vermoor is. Miles is Saterdagoggend in verband met die moord in hegtenis geneem terwyl die ander vyf verdagtes binne 24 uur daarna in hegtenis geneem is.
Venter het geslaap toe ʼn onbekende aantal verdagtes toegang tot sy plaashuis verkry en hom oorweldig en vermoor het. “Voorlopige ondersoek dui daarop dat hy verwurg is. ʼn Nadoodse ondersoek sal egter gedoen word om presies te bepaal hoe hy dood is,” het Ledwaba vroeër gesê.
Die verdagtes het met die boer se kluis van die toneel gevlug. Die gesteelde kluis, met ʼn vuurwapen, ammunisie en kontant, is kort daarna in ʼn veld buite die dorp opgespoor.
Ek hoop hulle kry nie borgtog nie. Hoe kan hulle toegelaat word om aansoek te doen in die eerste plek.
Daar is net een manier hoe om met sulke gemors te werk, “n oog vir n oog en n tand vir n tand”
Stem saam met Delta Mike!
Dis vir my baie hartseer…ons boere se magteloosheid oor n regering wat plaasaanvalle ontken en basies hulle goedkeuring gee daarvoor deur “Kill the farmer, kill the boer” as ‘n oplossing voor te hou. Dit maak ons boere kroonwild met ‘n yslike rooi teiken op die rug!