Moord op matriekmeisie: Ondersoek ná polisie glo nie help

Palesa Malatji

ʼn Interne ondersoek is by die Rietgat-polisiekantoor in Soshanguve buite Pretoria van stapel gestuur rakende bewerings dat beamptes hier nie ʼn matriekmeisie, wat verkrag en vermoor is, se familie wou bystaan nie.

Die 17-jarige Palesa Malatji het Donderdag van die skool af huis toe gestap nadat sy ekstra klasse gehad het. Sy het egter nie die huis gehaal nie, waarna familielede haar by die skool gaan soek het, maar helaas nie gevind het nie. Haar liggaam is Vrydag langs die Echibini Secondary School in Soshanguve gevind.

Volgens brig. Brenda Muridili, polisiewoordvoerder, is daar ná voorlopige ondersoek deur die bevelvoerder van die Rietgat-polisie vasgestel dat die oorledene se ma en oom omstreeks 20:00 Donderdagaand by die Phuthanong-satellietstasie aangekom het.

“Hulle het polisiebeamptes versoek om hulle te help in hul soektog na hul vermiste dogter. Daar word beweer dat die polisiebeamptes aan diens aan hulle gesê het dat hulle nie kan help nie. Dit is teenstrydig met die proses wat die polisie moet volg wanneer ʼn vermiste persoon, veral ʼn minderjarige, aangemeld word,” sê Muridili.

Die ma en oom het toe die polisiestasie verlaat en minder as ʼn uur later teruggekom. Dit is in hierdie tyd dat die polisiebeamptes ʼn klag van ʼn vermiste persoon geregistreer het en toe die familie vergesel het om na Palesa te soek.

Volgens Muridili is al die nodige hulpbronne na die toneel gemobiliseer nadat Palesa se liggaam gevind is. “Die provinsiale bevelvoerder van misdaadondersoekdienste het daarna ʼn span speurders byeengeroep wat ʼn ondersoekplan saamgestel het. Die span werk onverpoosd en volg alle leidrade op en het tot dusver ses mense van belang vir ondervraging ingebring.”

Die stasiebevelvoerder van Rietgat het met die nodige prosedure begin om ʼn interne dissiplinêre proses in te stel vir die lede wat na bewering versuim het om ʼn diens aan Palesa se familie te lewer. “Die versuim om dienste te verrig wat deur die gemeenskap benodig word, word as ʼn ernstige oortreding beskou aangesien dit die polisiediens in oneer bring.”

Lt.genl. Elias Mawela, provinsiale polisiekommissaris, het die beweerde laksheid van die polisielede wat by die satellietstasie teenwoordig was ten sterkste veroordeel.

“Ons sal beslissend omgaan met diegene wat skuldig bevind word omdat hulle versuim het om hul werk te doen.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

piet ·

As hulle wel help is dit gewoonlik onvriendelike, onsimpatieke diens met ‘n houdingtjie.

Harley Davidson ·

Die sogenaamde polisie is buite beheer,ek weet van ‘n paar gevalle waar die polisie mense wegwys omrede dit volgens hulle ‘n siviele saak is en nie krimineel. Die polisie beamptes ken in die meeste gevalle nie die wet nie en luiheid speel ook ‘n groot rol wanneer ‘n klaer opdaag by ‘n polisie stasie om ‘n saak aanhandig te maak .

Wondermaarnet ·

Ja ne, red nou ‘n land met sulke mentaliteit. Sterkte aan haar familie. Hoop hulle kry die antwoorde waarna hulle soek.

Madz ·

Ek ken nie die wet so goed nie maar is daar nie ‘n tydperk gekoppel rondom die “aanmeld van persoon as vermis” nie? Ek stem 120% SAAM dat dit ernstig as iemand ‘n persoon as “vermis” gaan aanmeld (VERAL ‘n kind!) en ook verseker as dit nie vermiste persoon se manier is om sommer net vir tydperke te “verdwyn” nie. Ek dink net DIE wetgewing moet dan duidelik en beskikbaar wees en die SAP moes dan ten minste aan die ouers die proses verduidelik het AS die “tyd faktor” steeds van toepassing is. Dis ook deesdae so vrek moeilik want niks is meer swart-of-wit nie (reels/regulasies/wetgewing ens) Daar is so vreeslik baie “grys” areas waar politiek, geld en mag die meeste van die tyd die rigting aanwys dat dit dinge net meer kompliseer. Wens net ons kon teruggaan na die basics van “reg” of “verkeerd”. Maar nou ja – dan sal ons huidige “leiers” in die land sekerlik ook nie meer die septer kan swaai nie ….Terug is ons op SA reality. My hart gaan steeds UIT na die familie!

Keelvol ·

Daar was nog nooit gewees nie. KBE moes onmiddelik in kennis gestel word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.