Moord op polisiebeampte: ‘Dís hoekom ons haar vermoor het’

Argieffoto

Twee mense onder wie ʼn voormalige polisielid is skuldig bevind aan die moord op lt.kol. Nomalizo Dukumbana, ʼn senior polisiebeampte van die Oos-Kaap, wat in 2013 by haar huis in Port Elizabeth vermoor is.

Phumzile Ngqayimbana (46), ʼn voormalige adjudantoffisier, en Siyamcela Ntshitshi (37) het hul lot in die hooggeregshof in Mthatha aangehoor.

Genl.maj. Zinhle Mnonopi, waarnemende provinsiale hoof van die Valke, sê Ngqayimbana, Dukumbana se ondergeskikte, het glo vir Ntshitshi gevra om hom te help om Dukumbana te vermoor omdat Dukumbana ʼn dissiplinêre verhoor teen hom (Ngqayimbana) wou instel.

Ngqayimbana beweer dat hy deur Dukumbana geteiken is omdat hy nie op ʼn rooftog by ʼn plaaslike Spar gereageer het wat deur ʼn veiligheidswag aangemeld is nie. Verskeie ander klagte is glo ook teen Ngqayimbana aanhangig gemaak waarna ʼn dissiplinêre proses teen hom sou begin het.

Maroela Media het destyds berig Dukumbana is van agter geskiet toe sy van die werk af by die huis aangekom het. Sy is op die toneel dood. Ooggetuies in die gebied het destyds aan die polisie gesê hulle het gesien hoe twee mense weghardloop van die toneel. Dukumbana het langer as 30 jaar in die polisie gedien en was van 2009 die stasiebevelvoerder van Elliotdale.

Konst. Noxolo Matya (41), ʼn derde polisiebeampte wat kort ná Dukumbana se dood in hegtenis geneem is, het ná die inhegtenisneming skuld beken en is reeds besig om ʼn lewenslange vonnis uit te dien. Matya is daaraan skuldig bevind dat sy Dukumbana se bewegings dopgehou en verslag aan Ngqayimbana en Ntshitshi gedoen het.

Ngqayimbana en Ntshitshi het tot in dié stadium onskuldig gepleit. Hulle sal weer op 1 Junie in die hof wees vir die vonnisoplegging.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Wonder ·

Net omdat sy haar werk gedoen het, is sy vermoor? Wel ek hoop hulle kry lewenslank.

GM ·

En dis hoe die meerderheid deesdae redeneer. As ‘n meisie my nie wil hê nie, vermoor haar. As ‘n ou nie saam my ‘n bank wil beroof nie, vermoor hom. As die regering nie vir my als gratis wil gee nie, brand ‘n paar trokke, verwoes huise en paaie, en beroof dan sommer ‘n paar winkels in die proses want die koskaste is leeg. En vir versiering – strooi mediese afval in hospitale, en dan skep dit sommer terselfdetyd vir iemand ANDERS werk.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.