Moord op polisieman: Dogter skop vas teen parool

Leslie Cilliers is in 2003 doodgeskiet. (Foto: Verskaf)

Roxanne van Eck was net ʼn tiener toe haar polisiemanpa in 2003 altesaam 52 keer met ʼn AK-47 geskiet is. Nou, 18 jaar later werp sy alles in die stryd om te keer dat haar pa se moordenaars op parool vrygelaat word voordat hul lewenslange tronkstraf (25 jaar) ten volle uitgedien is.

Leslie Cilliers (38), ʼn polisieman by die Table View-polisiestasie in Kaapstad, en sy kollega was op 23 Julie 2003 op die spoor van sewe bankrowers nadat hulle vroeër dieselfde dag ʼn Standard Bank-tak in Atlantis beroof het.

Cilliers het daarin geslaag om die mans in Contermanskloofweg aan te keer, maar is verskeie kere in die kop en lyf geskiet toe die laaste man met ʼn aanvalsgeweer uit die motor geklim het. Tydens die koeëlreën tussen die verdagte en die polisie is een van die verdagtes vermoedelik ook doodgeskiet.

Die res van die verdagtes, almal tussen 18 jaar oud en 25 jaar oud, het egter op die vlug geslaan terwyl Cilliers leweloos in die pad gelê het.

“In hul desperaatheid om weg te kom, het hulle ʼn goeie man vermoor. Ek weet hulle sou enigiets doen om weg te kom,” het Van Eck aan Maroela Media gesê.

“My pa het nie ʼn kans gestaan nie.”

Polisiebeamptes het kort ná die skietvoorval die gesteelde geld en die verdagtes aangekeer, maar Van Eck was reeds sonder ʼn pa.

“Al waaraan ek kan dink was dat my pa sy lewe vir R70 000 se gesteelde banknote verloor het.”

Drie van die verdagtes se verhoor het sowat drie en ʼn half jaar geduur voordat hulle eindelik in 2006 as medebeskuldigdes gevonnis is. Hulle is drie lewenslange vonnisse opgelê vir onder meer moord, poging tot moord en die besit van onwettige vuurwapens en ammunisie.

Tydens dié verhoor het die ander drie verdagtes egter uit polisieaanhouding ontsnap omdat hulle glo nie geboei was nie. Twee van die mans is later weer in hegtenis geneem, maar een is nooit gevind nie. Die twee is weer verhoor en ʼn jaar of twee later dieselfde vonnis as hul medebeskuldigdes opgelê.

Nie een van die verdagtes het tydens die verhoor erken dat hy Cilliers koelbloedig doodgemaak het nie.

Parool nou ʼn moontlikheid

(Foto: Verskaf)

Volgens Van Eck was sy en haar familie verlig toe die mans verantwoordelik vir haar pa se dood eindelik gevonnis is.

“Ons het gedink hulle sal in die tronk sit totdat hulle stokoud is, maar ons was verkeerd.”

ʼn Lewenslange vonnis in Suid-Afrika word gelyktydig en nie opeenvolgend uitgedien nie. Van Eck en haar gesin was egter nie bewus hiervan nie.

In Februarie vanjaar het die departement van korrektiewe dienste Van Eck gekontak om haar in kennis te stel dat een van die beskuldigdes, Xolani Kumalo, ná 15 jaar in die tronk vir parool oorweeg word. Sy is gevra of sy gewillig is om hom te ontmoet as deel van die versoeningsproses.

“Ek wou eers niks met hom te doen hê nie. Daar is niks wat hy kan sê wat my pa se dood kan regverdig nie. Ek het toe besef indien ek nie instem om hom te sien nie, sy paroolverhoor nog vroeër sal plaasvind.”

Van Eck het ingestem om Kumalo te ontmoet, maar dit kan eers geskeduleer word wanneer Suid-Afrika na vlak een van die afsonderingsregulasies beweeg. Daarna moet hy van Oos-Londen na Kaapstad vervoer word, waar Van Eck woonagtig is.

“Ek wil dié ontmoeting as ʼn vertragingstaktiek gebruik sodat hy hopelik eerder sy volle vonnis kan uitdien.”

Van Eck het intussen ʼn petisie begin om te keer dat Kumalo en sy medebeskuldigdes op parool vrygelaat word. Sy beoog om die petisie, wat reeds meer as 4 000 handtekeninge het, na Kumalo se paroolverhoor te neem en haar besware bekend te maak.

“Hierdie mans moet nie eers in aanmerking kan kom vir parool nie. Ek het reeds 200 geskrewe verklarings van mense gekry wat volslae agter my staan en getuig van my pa se goedheid. Ek sal dit ook saam met my neem,” het sy gesê.

“Die minister van justisie en korrektiewe dienste, Ronald Lamola, het onderneem dat die gesinne van slagoffers ʼn belangrike rol in paroolverhore sal speel, en ek beplan om hom aan daardie belofte te hou.”

Koersvas nie verbitterd

Van Eck sê sy is nie verbitterd oor haar pa se dood nie, maar wil eerder druk op Lamola uitoefen om die paroolstelsel te hersien.

“In hierdie geval gaan dit nie oor vergifnis nie, maar dat daar gevolge vir jou dade is. Wat is die doel daarvan om jare lange verhore te hou as die vonnis elk geval verminder gaan word? Ek wil nie in ʼn land bly waar moordenaars ʼn lewenslange vonnis opgelê word wat gelyktydig uitdien word en dan bestaan die moontlikheid ook nog om vroeër vrygelaat te word nie.”

Volgens Van Eck sou sy nie te hore gekom het van Kumalo se moontlike paroolverhoor indien ʼn gewese polisievriend van haar pa haar nie daarvan in kennis gestel het nie.

Die departement kon glo nie Cilliers se kollega, wat tydens die skietvoorval beseer is, in die hande kry nie en het haar na bewering as “onbereikbaar” gelys. Van Eck het egter self ondersoek ingestel en die vrou in die hande gekry.

“Dit is amper asof hulle hoop hulle kan jou nie opspoor nie,” het sy gesê.

Die burgerregteorganisasie AfriForum het verlede jaar reeds versoek dat slagoffers en hul naasbestaandes makliker toegang tot die bywoning en/of lewering van skriftelike voorleggings by paroolverhore moet verkry.

“Die wetgewing en regulasies sit die regte van slagoffers en hul naasbestaandes baie duidelik uiteen. Ongelukkig blyk dit dat hierdie regte nie in alle gevalle deur die departement gerespekteer word nie. Ons lees slegs van sekere hoëprofielsake waar misdaadslagoffers by die paroolproses betrek word,” het Natasha Venter, bestuurder van veldtogte by AfriForum, destyds gesê.

Van Eck het ʼn beroep op pres. Cyril Ramaphosa gedoen om die saak na te gaan en die wetgewing rondom paroolaansoeke deur ernstige oortreders te hersien.

Die plek waar Cilliers gesterf het. (Foto: Verskaf)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

27 Kommentare

jongste oudste gewildste
Cherokee

Roxanne, jy verdien die respek van die blanke bevolking in Suid Afrika.

Jaco

Eks nie verbaas oor die parool nie. Volgens SA se anti-wit regstelsel was die slagoffer “mos maar net wit”
Wanneer gaan die ANC dié 2 stelle ongeskrewe reëls, die beter stel vir swart mense en die swakker stel vir wit mense, eendag formeel in geskrewe wetgewing omsit? Ek weet die onregverdigheid sal dan steeds voortduur, MAAR dan sal ons wit mense ten minste finaal weet presies hoe dinge werk en kan ons rondom dit beplan om onsself te beskerm.

Jannie van Niekerk

Na regte behoort die woord “parool” nie te bestaan vir misdade soos moord, verkragting, plaasaanvalle, kindermolestering , motorkapings, dwelmhanandel en transitorooftogte nie. Indien ‘n misdadiger twee keer tot lewenslange tronkstraf gevonnis word, moet die vonnisse APART uitgenien word, maw as die een kastige lewenslange vonnis volgens die misdaad goedgesinde ANC regering verstryk het, moet die tweede vonnis van voor af begin. Sulke mense behoort ook geen menseregte of voorregte te geniet nie. En indien die regering wil hê die slagofferrs moet die misdadigers vergewe, moet dit met die sterkste moontlike gif soos arseen of strignien wees.

Janice

Roxanne keep on fighting. I know it is hard and you sometimes get despondent, but you are a true warrior and your dad is mighty proud of you.

jou gewete

laat hy sit soos Janus Wallus sit . Ten minste hoort hierdie uitvaagsel daar