Moord op Pta-sakeman: ‘Ons rots is weggeruk’

(Foto: Riaan van Lingen/Facebook)

“Die rots in ons lewe – ʼn man van God, ʼn man met integriteit, is Maandag uit ons lewens weggeruk.” Só lui die verklaring wat Vrydag namens Riaan van Lingen (64) se hartgebroke familie uitgereik is.

Maroela Media het vroeër berig die polisie ondersoek ʼn saak van moord, ontvoering en kaping nadat Van Lingen, ʼn gesiene sakeman van Pretoria-Oos, Dinsdag dood in die Vaalrand-omgewing in Gauteng aangetref is.

Van Lingen is Maandagaand as vermis aangemeld nadat hy die oggend sy huis in Moreleta Park vir ʼn vergadering in Olifantsfontein verlaat en nooit weer teruggekeer het nie. Sy liggaam is later met veelvuldige skietwonde aangetref.

“Wat met hom gebeur het, het hy nié verdien nie. Ons harte is in stukke en ons gaan hom vir altyd mis. Die lewe het ʼn juweel van ʼn mens verloor. Ons is oneindig lief vir hom.”

Craig Lloyd, Van Lingen se skoonseun, sê familie was vir hom alles.

“Hy was ʼn sterk man met ʼn sagte hart en positiewe uitkyk op die lewe.

“Hy was ʼn sielsgenoot, pappa, oupa en broer wat ons lewe in so baie maniere verryk het. ʼn Vriend en besigheidsman wat diep spore in ander se harte gelos het. ʼn Rolmodel vir baie.”

Lloyd sê dit is regtig ʼn moeilike en sensitiewe tyd vir die familie.

“Riaan was ʼn besondere mens, hy was ʼn fantastiese man vir sy vrou en ʼn nog beter pa vir sy twee dogters. Hy was ook ʼn verskriklike oulike oupa vir sy kleinkinders.

“Hy het soveel lewens aangeraak. Hy het ongelooflik baie vriende gehad; ek het in die laaste paar dae minstens 100 of 200 oproepe ontvang van vriende wat hulle medelye met die familie betuig.

“Vir die familie is dit regtig ʼn groot tragedie.”

Craig het verder gevra dat die media en lede van die gemeenskap die familie in hierdie moeilike tyd hul privaatheid moet gun terwyl hulle die tragiese gebeure probeer verwerk.

“Die polisie is steeds besig met die ondersoek en begrafnisreëlings kan dus nie in hierdie stadium getref word nie.”

Van Lingen laat sy vrou, twee dogters, drie kleinkinders en drie broers agter.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.