Moord op SA dokter in Kanada: Beskuldigde sterf voor verhoor  

Die man wat in hegtenis geneem is in verband met die moord op dr. Walter Reynolds, ʼn Suid-Afrikaanse mediese dokter in Kanada, is in ʼn hospitaal dood.

Deng Mabiour (54) is op 1 November in ʼn hospitaal in Calgary dood, berig Red Deer Advocate. Hy is glo aan kanker dood maar ʼn nadoodse ondersoek word gedoen om dit te bevestig. Mabiour se verhoor sou op 22 November begin het.

Reynolds is in Augustus verlede jaar by die Village Mall-kliniek in Red Deer, Alberta, met ʼn kapmes en ʼn hamer aangeval. Hy is ná die aanval na ʼn hospitaal geneem waar hy later aan sy beserings beswyk het.

Mabiour is op die toneel in hegtenis geneem en van die moord op Reynolds aangekla. Hy is ook daarvan aangekla dat hy polisiebeamptes aangerand het.

Mabiour is ná sy vorige hofverskynings vir sielkundige waarneming gestuur. “Waarom vra jy my nie hoekom ek my huisdokter vermoor het nie? Ek het hom met goeie rede vermoor,” het Mabiour onder meer tydens een van die verskynings aangevoer.

CBC berig intussen dat Mabiour voor sy dood aan polisiebeamptes gesê het dat hy die moord uit wraak gepleeg het omdat hy jare tevore “chemies gekastreer is” in die Red Deer-hospitaal.

Hy het onder meer aangevoer dat hy in 2012 aan Hodgkin se siekte, ʼn soort bloedkanker, gely het. Volgens CBC het Mabiour beweer dat ʼn dokter by die Village Mall-kliniek vir hom ʼn afspraak by die hospitaal gemaak het waarna hy glo gekastreer is. Volgens Mabiour was sy plan om dié spesifieke dokter aan te val, maar dat hy nie die betrokke dag daar was nie en hy toe het hy vir Reynolds aangeval.

Reynolds het jare lank in Kanada saam met sy gesin gewoon en daar gewerk. Hy laat sy vrou, Anelia, en hul twee dogters agter. Hy het kort nadat hy sy studie aan die Universiteit van Pretoria en sy prakties voltooi het na Kanada verhuis.

Reynolds was een van vier broers. Sy een broer, Edwin, is in 2007 dood nadat hy tydens ʼn rooftog by die Zwartkops-renbaan in Pretoria geskiet is. Reynolds se ma en twee ander broers woon in Suid-Afrika.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Moedeloos ·

Hierdie aanvaller toon geen berou nie. Hy wou moor maak nie saak wie nie. Ek hoop die Dr se familie stel n siviele saak in teenoor die oorlede se naasbestaandes.

katerinadiekat ·

Nooit man. Hoe is Dit nou regverdig? So as my man nou iemand vermoor, moet ek die slagoffer se familie betaal? Nooit dit kannie so wil werk nie. Sy naasbestaandes sit al klaar met die stres vd hele moordsaak, en die verlies van die moordenaar, vir wie Hulle seker lief was.

Herman ·

Kateriena, Nou hoekom moes Bees Roux sy aanvallers (verkeers poliesie) dan betaal. Hulle het hom aangeval.

Swerwer ·

Dit is en bly verskriklik dan mense nie meer respek vir ander het nie, en doodeenvoudig ‘n ander se lewe neem sonder berou.

Waarnemer ·

En nou gaan hierdie ou voor die poorte moet gaan please explain…..

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.