Moord op SA dokter in Kanada: ‘Ek het goeie rede gehad’

“Waarom vra jy my nie hoekom ek my huisdokter vermoor het nie? Ek het hom met goeie rede vermoor.”

Só het Deng Mabiour (54) Woensdag aan die regter gesê gedurende sy tweede hofverskyning sedert hy in hegtenis geneem is vir die moord op dr. Walter Reynolds, ʼn Suid-Afrikaanse dokter in Kanada.

Maroela Media het vroeër berig Mabiour word daarvan beskuldig dat hy Reynolds (45) verlede maand by die Village Mall-kliniek in Red Deer, Alberta, met ʼn kapmes en ʼn hamer aangeval het. Reynolds is ná die aanval na ʼn hospitaal geneem waar hy later aan sy beserings beswyk het.

CBC News berig Mabiour (54) het gister verskeie tirades gevoer toe regter Bert Skinner hom verskeie kere gevra het of hy die aanklagte teen hom verstaan. Mabiour staan tereg op aanklagte van moord asook aanranding met ʼn wapen en die aanranding van polisiebeamptes.

“Ek weier om te sê omdat my saak groter as dit is,” het Mabiour vanuit die videokamer by ʼn aanhoudingsentrum in Red Deer geantwoord.

“Ek wil nie ’n prokureur hê nie. Ek wil praat oor waarom ek my huisdokter vermoor het. Dit is ’n baie, baie lang storie.”

Die saak is tot 14 September uitgestel.

Mabiour sal nou vir sielkundige waarneming gestuur word nadat hy tydens sy eerste hofverskyning aangevoer het dat hy siek is en nie besonderhede van die aanval kan onthou nie.

Die Kanadese polisie het in dié stadium nog min inligting rakende Mabiour bekend gemaak. ʼn Kennis van Mabiour het wel gesê hy het van Suid-Soedan na Kanada verhuis.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

saggiespraat ·

Ek het geweet dit gaan weer gaan oor so iets… Almal kom mos weg met daardie verskoning…. InMal huise kom n mens net vinniger uit as n tronk .

Misky ·

Sy baie, baie lang storie moet hy maar aan sy selmaats gaan vertel. Klink inelkgeval nie of hy al sy varkies op hok het nie

madels ·

Maak nie saak hoekom n persoon n moord gepleeg het nie, dit bly nog steeds moord. Maar ek wonder nou net wat is sy rede? Daar is dalk nog ver meer aan hierdie storie ……

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.